Alzheimer: Die dief in die nag

(Foto: Pixabay)

(Foto: Pixabay)

Alzheimer se siekte is ʼn vorm van demensie wat ʼn mens eers later in die lewe bekruip soos ʼn dief in die nag.

Dié neurologiese siekte benadeel nie slegs die geheue nie, maar ook ʼn mens se gedrag, persoonlikheid en jou vermoë om normaal en sosiaal te verkeer.

Maroela Media het by prof. Felix Potocnik, ʼn psigiater en professor by die Departement Psigiatrie aan die Universiteit Stellenbosch en ʼn kenner op die gebied van Alzheimer se siekte, aangeklop.

Volgens Potocnik is Alzheimer se siekte baie subtiel in die wyse waarop dit ʼn lyer aantas. “Die eerste ding wat geraak word, is die persoon se vermoë om te konsentreer. Iemand wat byvoorbeeld altyd lief was vir lees, sal dalk vind dat hy nou sukkel om te konsentreer op die boek. Dieselfde gebeur wanneer iemand televisie kyk of ʼn gesprek voer en halfpad belangstelling verloor en wegstap.”

Hy verduidelik dat ʼn persoon se korttermyngeheue nie iets kan berg wanneer daar nie genoegsaam daarop gefokus word nie. “Daarom sal iemand dalk genooi word na ʼn verjaardagpartytjie toe en dan daarvan vergeet omdat die datum hom ontgaan het. Gevolglik word hy dan nie weer na die partytjie genooi nie en onmiddellik is sy sosiale lewe reeds negatief geraak.”

Potocnik verduidelik dat ʼn mens se geheue nie staties is nie. “ʼn Vyfjarige tel alles baie vinnig op en absorbeer dit soos ʼn spons. Hulle sal byvoorbeeld ʼn advertensie van McDonald’s sien en dit woord vir woord onthou. Daarna sal hulle met iemand gesels en iets heeltemal onvanpas kwytraak omdat hulle geen sosiale vermoëns het nie.

“In jou twintigs raak jou intelligensie meer vloeibaar en jy kan maklik van onderwerp na onderwerp spring. Jy kan ook ʼn lang lys onbenullighede onthou. Dit is jou “rote memory” – die vermoë om dinge soos ʼn papegaai te onthou en herhaal.”

In jou laat dertigs tot vroeë veertigs, begin jou geheue kristalliseer. “Jy verloor ‘rote memory’ en skielik moet jy lysies byhou op papiertjies, ʼn dagboek van belangrike datums hou of notas op die yskas plak om jou van dinge op jou doenlysie te herinner.”

Volgens Potocnik kom Alzheimers meer algemeen onder vroue as mans voor en het 30% van 60-jariges en ouer mildelike geheueprobleme. Altesaam 10% van hierdie mense se geheue sal dieselfde bly of weer beter raak, 10% van hulle se geheue sal net so goed of sleg bly soos wat dit is, en die laaste 10% se geheue sal drasties agteruitgaan en in ʼn vorm van demensie, soos Alzheimer se siekte, ontwikkel.

Potocnik beklemtoon dat ʼn lyer aan meer gevorderde Alzheimer se siekte nié in staat is daartoe om toestemming te gee of groot besluite te neem nie. “Mense vergeet dat die laaste element van toestemming die vermoë is om dit terug te neem. Kom ons sê byvoorbeeld in ʼn geval waar ʼn misdaad gepleeg is, soos wanneer ʼn Alzheimerlyer verkrag is, sou jy nie kon sê dat sy moontlik ingestem het tot die seksuele daad en dan vergeet het sy het ingestem daartoe nie.”

Volgens Potocnik kom Alzheimer se siekte meer algemeen voor onder vroue. “Dit is moeilik om presies vas te stel hoe en wanneer die siekte hom manifesteer, want dit kan oor ʼn tydperk van tot 10 jaar ontwikkel, waar simptome soos vergeetagtigheid en vaagheid sigbaar sal wees. ʼn Mens raak bekommerd wanneer ʼn persoon daardie een keer te veel iets vergeet of begin herhalend raak. Skielik vertel jou ma of jou tannie vir jou dieselfde storie oor en oor, en hulle onthou nie dat hulle dit al vantevore vir jou vertel het nie.

“Sy misplaas dalk ook nou gereeld haar motorsleutels of selfoon of vergeet aanhoudend waar haar handsak of beursie is. Haar geheue oor dinge in die verlede, soos haar troeteldier se naam toe sy ses jaar oud was, sal ook helder in haar geheue wees, maar iets wat ʼn week gelede gebeur het, sal vir haar onduidelik wees. Skielik waai belangrike datums en detail by die deur uit. Weduwees onthou byvoorbeeld altyd die datums wanneer hulle wederhelftes gesterf het, en sodra hulle dít vergeet …”

Potocnik verduidelik dat Alzheimerlyers nie noodwendig weet wat fout is met hulle voor hulle gediagnoseer word nie, maar dat hulle besef iets is verkeerd en omdat hulle nie weet wat aangaan nie, raak hulle bang en onseker. “Mense kom spreek ons sodat ons hulle kan help, nie net om te help met die geheueverlies nie, maar ook om hulle administrasie soos lewenspolisse en ander papierwerk uit te stryk, aangesien dié mense maklik in die kloue van gewetenlose swendelaars beland.”

Hy verduidelik dat dit dikwels gebeur dat ʼn Alzheimerlyer geteiken word deur iemand wat op hulle weerloosheid teer en hulle van hulle familie vervreem. “Dit is uiters belangrik dat familielede of nabye vriende van Alzheimerlyers ʼn oog oor hulle moet hou. Swendelaars en boosdoeners het ʼn ongelooflike vermoë om swakhede uit te snuffel en Alzheimerlyers is maklike teikens. As hulle weer kyk, het hulle al hulle bates, soos huise, weggeteken. Daar is lyers wat voorheen miljoenêrs was, wat nou van ʼn staatspensioen af moet leef omdat hulle uit hulle geld bedrieg is.”

Potocnik maan dat dié bedrieërs oral skuil. “Dié mense sal selfs by die kerk hulle slagoffers teiken en hulle van hulle kinders vervreem. Dit gebeur dikwels.”

Dit is algemeen dat een uit elke 100 mense oor die genetiese komponent beskik wat die siekte aanbring, maar dit beteken nie noodwendig dat dit in Alzheimer sal oorsit nie. “Al is dit in jou gene, beteken dit nie noodwendig dat dit sal ontluik nie.”

Voorkoming

  • Hormoonterapie: As jy ʼn vrou is en deur menopouse gaan, kan jy jou hormone laat toets en hormoonvervangingsterapie ondergaan. Die terapie word vir sowat twee jaar gedoen. Dié terapie word nie aanbeveel vir vroue wat dit as ʼn jeuginspuiting wil gebruik nie, want indien jou hormone normaal is en jy die terapie ontvang, kan dit jou liggaam baie skade berokken.
  • Anti-inflammatoriese medikasie: Indien jy reeds anti-inflammatoriese medikasie gebruik, soos byvoorbeeld vir die pynverligting van artritis, sal dit jou help om Alzheimer te beveg, aangesien Alzheimer ʼn inflammatoriese siekte is. Dit gaan egter nie help om net elke dag ʼn anti-inflammatoriese tablet of pynpil te drink as jy nie pyn wil behandel nie, want die risiko om jou maag te brand en inwendige skade op te doen, is groot en nié die moeite werd nie.
  • Vitamiene: Neem 300 internasionale eenhede of minder vitamien E, asook 300 mg of minder vitamien C per dag.
  • Rooi wyn: Studies in die Bordeaux-streek in Frankryk en die Napavalleistreek in Kalifornië in die VSA, het getoon dat Bacchus ook ʼn handjie kan bysit in die voorkoming van Alzheimer se siekte. Die studies het ook getoon dat, sou jy die siekte kry, jy dit in ʼn ligter graad sal kry. Die bestanddeel wat voordelig is vir die liggaam is resveratrol en word onder die dop van die rooi druif gevind. Die aanbevole hoeveelheid is 250 ml tot 500 ml rooi wyn per dag. Sou jy eerder rooi druiwesap wou drink, sal jy daagliks 2,5 tot 5 l moet drink om die regte hoeveelheid resveratrol in te neem. Dit word egter nié aanbeveel nie weens die hoë suikerinhoud van druiwesap.
  • Intellektuele stimulasie: Hou die brein aktief. Potocnik sê dat hy nie daarin glo om ʼn nuwe taal aan te leer om die brein te stimuleer nie, aangesien dit te veel stres op die persoon plaas en te lank neem. Hy beveel die invul van blokkiesraaisels, lees van nuusberigte en televisieprogramme aan om die brein te stimuleer.
  • Dieet: Volg ʼn dieet wat hoofsaaklik uit groente en vrugte bestaan.
  • Koffie: Dit is belangrik dat die kitskoffie weggepak en die koffiepot vir filterkoffie uit die kas gehaal moet word. Drie tot vyf koppies koffie word aanbeveel.
  • Sjokolade: Die aanbevole hoeveelheid kakao-ekwivalent per dag is 40 g van ʼn 80%- egte kakaosjokolade.
  • Fisieke oefening: Dit is wyd bekend dat fisieke oefening goed is vir die brein ook. Stap gereeld of doen ligte oefening.
  • Beheer kardiovaskulêre risikofaktore: Hou op rook en maak seker jou bloeddruk en cholesterol is onder beheer. Diabetes en obesiteit is ook risikofaktore.

Potocnik sê dat dié voorkomingsmaatreëls geen effek sal hê indien dit toegepas word wanneer die siekte reeds gemanifesteer het nie. Hy voeg ook by dat Alzheimer se siekte nog nie genees kan word nie, maar wel vertraag kan word. Lyers kan ook al bykans 10 jaar voor die diagnose simptome toon.

Potocnik moedig enigiemand wat inligting of hulp wil bekom aan om Dementia SA of Alzheimer SA te nader. “Die navorsingsklinieke sal ook gewoonlik die toetse gratis doen.”

Dementia SA: 086 063 6679
Alzheimer’s Association SA: 011 792 2511
Flexivest Research Centre: 021 946 3347

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Oujongvrou ·

Dis my grootste vrees😭 dit moet baie erg wees vir jou naastes as jy so voor hulle oë in iemand verander wat hulle nie ken nie, en later selfs nie meer hulle herken nie.

Zelda ·

My ma het dementia al vir amper 8jr sy is tans 63 jr oud. My ma drink al oor die 20jr vitamines. U name it sy drink dit. Op n kol oor die 13 soorte. En dit het haar nie gekeer om dementia te kry nie. My ma het nooit gerook nie. En haar bloedruk was altyd waar dit moes wees. En sy het geen cholestrol probleem gehaad nie.
Maar dis hartseer om te sien hoe n eens perfektionis ma verander na kan nie meer self eet en self drink nie. Eens op n tyd het sy klere gemaak die mooiste wat mens kan kry. Sonder n patroon. Na iemand wat vandag nie eers die gare deur n naald se oog kan sit nie

willem heitlager ·

not only the patient is suffering but the complete family is suffering think about them too wife, kids, friends. everybody is affected by one loved one who is sick iedereen is patient niet aleen 1 persoon deno ook aan de anderen

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.