Angus Taylor praat oor sy ‘Kinders van hierdie Klippe’-beeld

kinders-04

‘Son of the Soil – Kinders van hierdie Klippe’ is ʼn massiewe figuur wat drie keer ʼn man se lengte bo die sypaadjie uittroon, en met ʼn ysterkyk oor die verte uit tuur. Foto: Atterbury Trust.

Terwyl jy na Atterbury se hoofkantoor, Die Klubhuis, in Hazelwood, Pretoria, stap, sien jy die beeld oorkant die straat staan. Dit is ʼn massiewe figuur wat drie keer ʼn man se lengte bo die sypaadjie uittroon, en met ʼn ysterkyk oor die verte uit tuur.

Sy naam is Son of the Soil – Kinders van hierdie Klippe en die beeldhouer Angus Taylor het hom uit Afrikarots geskep.

Taylor sê hy is al ʼn paar jaar besig met ʼn saamgestelde portretstudie wat gegrond is op die algemene mates en kenmerke van mense wat hom help om sy werk te skep.

“Die portret verteenwoordig die kollektiewe groep mense wat betrokke is by my DSW-ateljee sedert dit in 1996 gestig is.

“In die filmbedryf word almal wat bydra, tot die teeskinker, erken. In beeldende en skone kunste word alles toegeskryf aan die briljante enkeling in die ateljee en dit is nie soos dit werk nie, veral nie met beeldhouwerk nie.

“Miskien omdat ek in Afrika grootgeword het, is ek meer geneig tot ʼn kollektiewe kultuur. Ek is, danksy die span met wie ek werk, en hulle is weer danksy my.”

Hy en die mense wat saam met hom in sy ateljee werk, het die afgelope twee dekades beduidend bygedra tot die Pretoriastreek se openbare kunsskat.

“Hierdie bydraes kan net weer moontlik gemaak word deur die ondersteuning van beskermhere soos Atterbury.

“Openbare kuns kan ʼn geskenk aan ʼn gemeenskap wees, indien dit reg beskou word. As dit net geskep word vir die staat, ʼn politieke ideologie of kerk, kan dit faal.

“Kuns praat. Dit kan iets baie diepgaande sê, of doen, as dit visueel leesbaar is.”

Foto: Atterbury Trust.

Vele interpretasies

Taylor sê Kinders van hierdie Klippe is oop vir talle interpretasies, maar daar is verskeie lae van betekenis wat hy in die werk ingebou het.

“ʼn Stuk rots is net ʼn klip as jy dit nie dieper verstaan nie, maar as jy weet dit is ʼn duisend keer ouer as jy, voel jy nederig.

“Dit laat my nie nihilisties dink nie, ek vind dit eerder inspirerend. Dit is asof die klip vra: ‘Jy het hierdie kort oomblik in tyd, ʼn gawe; wat gaan jy daarmee doen?’ In jou oomblik kan jy betekenis kry deur jou wêreld positief te transformeer om beter te wees.”

Taylor besef die standbeeld is groot en kan intimiderend wees, maar hy hoop dit het ook ʼn kalmerende uitwerking.

“Die rots verteenwoordig die fondament van die lewe. Ons is omdat die grond is – dit is so ʼn eenvoudige feit, maar ons blyk te vergeet as ons daarmee mors, soos byvoorbeeld met hidrobreking, kan ons alles op die oppervlak verloor.”

Die klipsoorte wat in Kinders van hierdie Klippe gebruik is, is meestal harder as sewe op die Mohsskaal van hardheid. Om die konteks te verstaan: marmer en beton lees vier op die Mohsskaal, die gabbro wat ook bekend is as Belfast-graniet lees as sewe, maar die rooi jaspis en tieroog is op nege. Diamante ewenaar ʼn tien op die Mohsskaal.

“Nog ʼn betekenislaag aan die standbeeld het vir my te doen met die feit dat klip ʼn tasbare, onweerlegbare waarheid verteenwoordig.

“Die Oxford-woordeboek se woord van die jaar in 2016 was post-truth. Hoe ontsenuend? As ʼn mens ʼn stuk klip bestudeer, kan jy soveel inligting daaruit te wete kom. Dit staan direk in teenstelling met die mening of kollektiewe indrukke wat op feite gegrond mag wees, of ook nie. Klip kan letterlik jou gedagtes anker, en konteks en ʼn grondslag aan jou begrip gee – iets wat gesond en noodsaaklik is vir die hedendaagse samelewing.”

Taylor sê die klip wat in sy standbeeld gebruik is, is vir hom ook ʼn metafoor vir die ryke diversiteit van mense se bestaan.

“Maak maar ʼn studie van sommige van Suid-Afrika se natuurlike klipkleure, rotse is nie net bruin nie.”

Taylor het Belfast-gabbro, verdiet en wit marmer uit Namibië gebruik vir dié standbeeld. Foto: Atterbury Trust.

Die klipsoorte in dié standbeeld

Taylor het Belfast-gabbro gebruik wat uit die grootste kokende klipborrel op die aarde in die Bosveldstollingskompleks kom. Die pragtige, klipharde rooi jaspis kom uit Griekwastad-Wes. Die groen steen,verdiet, vorm deel van die antieke Barberton-groensteengordel, hoewel die groensteen nie noodwendig altyd groen van kleur is nie. Die wit marmer in die standbeeld kom van Namibië af.

“Ek het kontinuïteitshalwe lae herhaal, maar elke laag kon maklik van ʼn ander kleur klip gewees het.

“Ek het eerstens ’n halfskaalmodel uit klei gemaak, en dieselfde proses gebruik vir die detailaspekte op die volgrootte beeld: die arms, die voete en borsbeeld. Die eenvoudiger vorms – torso en bene – is digitaal in skaal vergroot deur ’n staalraam te lasersny. Oor die groter kleidele het ons ’n staalraam gesweis wat uitmekaargehaal kon word. Die gietvorm is gemaak deur die lasersny-raam aan die gesweisde raam te verbind. Binne die gietvorm het ons die standbeeld as ’n kliplaag gebou en gebeitel. Elke stuk is geboor en met staal aan die binnekant van ’n staalstruktuur vasgemaak; dit is ’n staalstruktuur wat aan die binnekant inmekaarskakel, en wat in vyf lae uitmekaargehaal kan word vir vervoerdoeleindes.

“Die binnekant is solied gemaak met ’n gietbare materiaal. Dit het ons 16 maande geneem om die standbeeld te voltooi. Die klipwerk op sigself het nege maande geneem.

“Ons het probeer om die standbeeld so lig moontlik te maak, maar die kop en skouers alleen weeg 530 kg. Bo die grond weeg die standbeeld meer as vier ton,” verduidelik Taylor kortliks die ingewikkelde maakproses van die beeld.

Die spesifieke standbeeld vorm deel van ʼn groter versameling werk waarin Taylor fokus op die plaaslike natuurlike materiale.

“Openbare kuns is die soort kuns wat my die besigste hou binne my praktyk. Ek sien dit as ’n geskenk aan die breër gemeenskap, eerder as net die gekultiveerde handvol wat galerye en museums besoek. As dit reg benader en uitgevoer word, raak openbare kuns deel van die gemeenskap se erfenis, kultuur en rykdom.”

Geen kunstenaar wat sy of haar sout werd is, is altyd honderd persent gelukkig met die eindresultaat nie, meen Taylor.

“Die onderneming om iets te skep, vra van die maker om altyd weg te beweeg en harder te probeer, beter te doen. Gedurende die loop van ’n jaar kon ’n mens hopelik groei en leer om skerper te kyk, en meer en beter te verstaan; sodoende kan ons met die volgende beeldhouwerk ons uiterste bes doen.

“Ek is so dankbaar vir die geleentheid om ons bes te kan doen. Sonder Atterbury se kommissie, weens die skaal van hierdie werk, sou dit nie moontlik gewees het om dit te verwesenlik nie. En dit kom voor asof die gemeenskap die werk met dankbaarheid aanvaar en verwelkom het, en dit maak my gelukkig.”

  • Hierdie artikel is verkort en met die vergunning van Atterbury Trust Lees die volledige artikel hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Dit is regtig n mooi kunswerk.maar ek het vandag by n EFF plakaat verby gery en ook het n man se gesig na ver uit gekyk met n glimlag en n groot opskrif wat se SON OF THE SOIL.

Aapstert ·

Um, beeld se oe is toe … yster kyk? Ek weet nie so mooi nie, hy staan en slaap.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.