Argentynse boere hunker steeds na SA

Boere op aardsdrempel

Foto: Verskaf

As dit by oorlog kom, is daar altyd soveel stories wat agterna vertel word deur diegene wat dit oorleef en beleef het. Mooi stories, hartseer stories, gruwelike stories. Die Anglo-Boereoorlog het ook stories – baie.

ʼn Storie wat dalk nie so bekend is nie, handel oor ’n klein groep Afrikaanssprekendes wat ná die Anglo-Boereoorlog ʼn heenkome in Patagonië, Argentinië, gevind het omdat hulle ʼn nuwe, vry lewe van die Britse koloniale heerskappy gesoek het.

Vandag, meer as honderd jaar later, is daar steeds ʼn handvol van dié Afrikaanse mense in Argentinië, maar mettertyd het hul taal en kultuur stelselmatig verdwyn.

ʼn Span filmmakers het besluit om dié mense se storie te vertel deur ʼn dokumentêr, Boere op die Aardsdrempel, te maak. Dié film fokus op hierdie Afrikaanse gemeenskap en een familie se hartsverlange om kontak te maak met Suid-Afrika. Maroela Media het met Richard Finn Gregory, die regisseur, gesels om te hoor hoekom hy dié storie wou vertel.

“Toe ek van dié gemeenskap in Argentinië hoor, kon ek dit amper nie glo nie. Ek het navorsing begin doen en besef dat die stories waar is. Dit wou voorkom of dié Afrikaanse gemeenskap al hoe kleiner raak namate mense sterf, en ek het net gedink as iemand nie gou ʼn rolprent oor hierdie mense maak nie, sal die geleentheid verlore gaan. Ons het toe besluit om iets daaromtrent te doen.”

Richard en sy span was verskeie kere in Argentinië om na die stories van dié verlore Afrikaners te luister. “Ek moes eers hul vertroue wen voordat hulle bereid was om hul stories voor die kamera te deel. Ons het ’n noue band gevorm, en ek dink dit het my gehelp om hul storie beter te vertel.”

Dis ongelooflik om te hoor hoe sommige van dié mense, wat in Argentinië gebore en grootgemaak is, steeds na Suid-Afrika hunker. Richard dink dis oor die taal wat dié mense se grootouers gepraat het. “Daar was ongeveer 650 mense wat tussen 1902 en 1908 oor is na Argentinië. Hulle was natuurlik in die minderheid in dié land en hul taal was iets wat hulle anders gemaak het. Hulle moes vinnig aanpas en Spaans leer praat, maar Afrikaans was altyd iets spesiaals wat hulle oorgedra het na hul kinders en kleinkinders. En ek dink dis iets wat altyd by hulle gebly het.”

Boere op die Aardsdrempel gaan vir ’n beperkte speelvak uitgereik word by uitgesoekte teaters in Maart en April, waarna die DVD dan ook van 22 April in winkels beskikbaar sal wees.

Die DVD word uitgereik deur Times Media Home Entertainment. Die film kan by die volgende teaters gesien word:

Epic CinemasNorthridge Mall, Bloemfontein18 – 24 Maart 2016
LabiaKaapstad18 – 24 Maart 2016
BioscopeStad en voorstedelike buurte, Johannesburg18 – 24 Maart 2016
Ster-KalahariPnP-sentrum, Upington18 – 24 Maart 2016
Atlanta CinemaSwakopmund, Namibië18 – 24 Maart 2016
Victorian TheatresScottstraat 36, Newcastle, KZN18 – 24 Maart 2016
The ShowroomKerkstraat 43, Prins Albert31 Maart & 2 April 2016
Cine-museRyneveldstraat 5, Stellenbosch7 April 2016
Capitol CinemasZambezi Mall, Pretoria8 April-16
KunstegrotThabazimbi, Limpopo8 & 9 April 2016
French ToastHartbeespoortdam1 & 2 April 2016
PretvilleHartbeespoortdam1,2 & 3 April 2016

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

REGVERDIG ·

Regtig???
Totdat hulle hier is en sien wat alles hier aangaan, sal hulle hulle boeglam skrik…………….. nee my tannie, julle is baie veiliger daar anderkant.

Sanet du Plessis ·

Ek sal graag met die mense wil kontak maak. Hoe gaan ek te werk?

JohanT ·

Regverdig, hoe regverdig is jy werklik. Dit gaan hier oor hulle verbintenis met Suid-Afrika en Afrika. Dit het niks met ons huidige regering of probleme te doen nie. Werklik onvanpaste kommentaar wat ook in swak styl oorgedra is. Histerie is nooit aantreklik nie.

Cillier ·

En baie van ons wat nóú? hier woon, verlang ook terug na Suid-Afrika!

Henrietta Klaasing ·

Ek dink hulle hunker na iets wat nie meer bestaan nie, iets wat voorouers, familie of vriende vertel het van ‘n SA wat nou selfs vir ons wat hier bly, ‘n hersenskim is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.