As die rykes ‘moan’, wat moet die armes doen?

ryk-versus-arm

Is jy regtig arm of het jy ʼn rykdom waarvan jy nie bewus is nie? Dis die vraag wat die skrywer aan die jeug van Suid-Afrika stel. Foto: Wackyarchives.com

My dogters weet ons is ryk. Skatryk. Ryker as die meeste mense op aarde – ons bly byvoorbeeld in ʼn baksteenhuis, het krag wat gereeld trip en ek en Marina het elkeen ons eie kar. Dis belangrik dat hulle dit weet. Niks is erger as rykmense wat moan nie.

Ek is eintlik al baie lankal ryk. Van daai tyd af toe ek vir ʼn jaar in Indië gaan woon het. Ek het as ʼn arm student gegaan en skatryk teruggekom – met minder geld. Ek kon nog nooit weer arm voel nie. Selfs al slaap ek ‘n aand op straat, is dit omdat ek wil, nie omdat ek moet nie. Al is my geld soms min, is my konneksies steeds baie. Al beroof hulle my van alles, het ek ‘n klompie kennis en ervaring – te danke aan kinderjare vol geleenthede en blootstelling aan goeie skole en universiteite – wat niemand kan afvat nie.

Nou die dag is ek in ʼn blanke plakkerskamp hier buite Pretoria. Terwyl ons tussen omheinde wendy-huisies loop, besef ek dat Karabo, ʼn vlugteling seun uit Midde-Afrika wat saam met ons was, waarskynlik nie ‘n idee het waaroor ons praat en watse plek die nou eintlik is nie.

“What do you think about this place?” vra ek hom. “Hooo! It’s nice!” sê hy, “Is it a holiday place?” Net daar besef ek hoe relatief armoede en rykdom is. As hierdie mense volgens hom ryk is, wat is ek?

Ek praat dikwels met middelklas Afrikaanse jongmense. Die meeste van hulle is in goeie skole, hul ouers ry mooi karre, hulle braai elke naweek en hulle gaan gereeld met vakansie. Die lewe is goed vir hulle hier in sonnige Afrika.

Tog loop ek elke nou en dan een van hulle raak wat nie ʼn goeie woord oor Suid-Afrika te sê het nie. Sien geen toekoms nie. Kan nie wag om te emigreer nie. Vra jy wat gebeur het, gaan dit selde oor ʼn krisis wat persoonlik ervaar is. Hulle het maar gehoor wat sê die ooms om die braaivleisvure en dinge gelees in die koerant.

Selfs die werkloosheidsargument werk nie so lekker nie, want hoewel Suid-Afrika ʼn skokkende werkloosheidsyfer van meer as 25% het, is die werkloosheid onder blankes minder as 7%, baie dieselfde as in Europa en eintlik heelwat beter as in lande soos Spanje, Italië, Griekeland, Frankryk en Portugal.

Die oumense het armoede en rykdom anders verstaan. My oupa en ouma het in die goeie jare hulle eie lêhenne gehad, self hulle groente geplant, vrugte gedroog en hulle eie knope aangewerk. Ek was al op hoërskool toe hulle die eerste keer krag op die plaas kry – sonder ʼn geiser.

Nou en dan sou my oupa wel vertel van die jare “toe dit swaar gegaan het”. Die mans moes vis skiet in die Wilgerivier en die vrouens seep kook en gaan verkoop op die dorp gedurende die depressiejare. Hul klere was gelap en daar was nie geld vir skoene vir die kinders nie.

Ek het al baie gewonder wat sou die Voortrekkers, die Boere in die Anglo-Boereoorlog of die vroue in die konsentrasiekampe sê as hulle kon sien waaroor ons vandag so te kere gaan en hoe jammer ons onsself kry.

Om nie eers te praat van die mense in die tyd van die Bybel nie! Van die voorste moaners vandag is mos “gelowiges”. Dit is vreemd, want die Bybel is nie ʼn verhaal van kerkmense wat in gemak geleef, naweke gebraai en jaarliks op vakansie gegaan het nie.

Van begin tot einde is dit ʼn verhaal van mense wat uitgestaan het in moeilike tye. Groot dele van die Ou Testament speel af teen die agtergrond van slawerny in Egipte, die Assiriese bedreiging, ballingskap en die Persiese onderdrukking.

In Jesus se tyd is dit die Romeinse oorheersing. Kort daarna lees ons in Handelinge van die vervolging van die vroeë kerk deur die Romeine en Jode. Die Bybel draai nie doekies om oor die realiteit van die stukkende wêreld waarin ons ʼn verskil moet maak nie.

Die mense wat so kerm dat dit vandag erger gaan as ooit te vore, weet nie waarvan hulle praat nie.

As ʼn Eskom kragonderbreking jou histeries aan die moan sit, wees bly jy leef vandag, want ʼn Babiloniese ontvoering of Assiriese aanval sou jou verander het in ʼn totale senuweewrak.

God se mense het regdeur die geskiedenis juis hulle merk in die donkerste tye gemaak. Die moeilikheid het gewys wie hulle was. Dink jou in: ʼn Moses sonder ʼn Egipte, ʼn Dawid sonder ʼn Goliat of ʼn Daniël sonder ʼn leeukuil.

Iemand het eenkeer gesê: “Ek sal wees soos ʼn rubberbal, hoe harder die lewe my gooi, hoe hoër sal ek hop!” Soos ʼn lig wat al helderder skyn soos dit al donkerder word. Hierdie gesindheid het ons nodiger as geld, gemak en vurkieheinings. Niks is gevaarliker as die goed wat in ons eie koppe aangaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

Hein ·

Jaco ek stem saam met jou. My gedagtes spring sommer ver vooruit en waar ons die gekerm oor alles kan stop. Die gekerm gaan oor die regtige agteruitgang van alles in Suid-Afrika en ongelukkig moet jy iets doen om dit te keer. Dit is soos Flip Buys gese, het ‘n paar weke gelede, as ons regtig almal die wil het kan ons reuse veranderings teweeg bring binne 6 maande. Ek praat van selfbeskikking.

Beatrix Rode ·

Ek stem saam met Jaco dat armoede in die wereld verskriklik erg is, ek meen ons hoef net 8 km van ons huise te ry om dit te ervaar in SA. Ek voel egter dat daar rede is om te kla, nie oor ons eie situasie nie, maar oor die onregverdigheid wat in SA plaasvind. Daar was baklei teen die apartheidsregering en almal het altyd baie daaroor te sê gehad, maar tans is die bordjies verhang en dit klink asof ons maar verlief daarmee moet neem. Die meeste kommentare gaan oor die korrupsie, moorde en die feit dat die regering nie tevrede gaan wees voordat die meeste blankes in plakkerskampe sit nie!! Wow ons wittes moet tevrede wees met ons plakkerskampe – daar is mense wat erger het! Regtig is dit aanvaarbaar, moet daar stilgebly word, net omdat dit erger gaan met ander mense. Wanneer moet ons dan begin kla – sodra ons in plakkerskampe si en dan geen stem meer het nie

Zuri ·

Sjoe dis so waar. Gaan ‘n copy vir my kinders email. Op ‘n ander noot ek sou graag net veiliger in Suid Afrika wou woon, ons is tog veronderstel om in ‘n opgevoede beskawing te bly. Misdaad is dalk orals, maar ek het nog nooit so veilig gevoel soos in ons buurland Namibie nie en selfs in Europa. Die eerste keer wat ek Europa toe was het ek regtig gevoel hoe moet ‘n mens lewe; sonder vrees dat jy enige oomlik aangeval gaan word. My kinders het in die strate geboer in die nag en ons het rustig geslaap en eers weer van hulle bewus geword die volgende oggend, maar hier laat ek hulle nie eers toe om in die dag na ons Spar toe te loop nie en is hulle nooit toegelaat om skool toe te stap wat minder as ‘n kilometer van ons huis af is nie.

Milan Bye ·

Dit is so… Soms kyk mense vas in dit wat hulle nie het nie en mis dit wat hulle eintlik het.

hein! ·

Briljante artikel Jaco. Dankie vir jou kennis en innig wat jy met ons deel. Ons bevoorregte blanke mense is van die ondankbaarste klaers wat jy kan kry, en ek se dit met respek en baie ondervinding! ;) Kom mense , waardeer meer wat jy het en bekommer jou minder oor wat jy nie het nie. Begin leef ‘n lewe van met waardering leef. Maak ‘n lys van al die positiewe, die kar, die dak oor jou kop, die kos elke dag, die kinders, die gesondheid…….. dinge wat jy het , die seeninge in jou lewe wat geld nie kan koop nie. Begin elke oggend deur vinnig deur die lys te gaan/lees en sien hoe positief jou lewe verander!

Eddie ·

Ek dink baie van ons sit die pot heel mis. Ons probeur dinge verander op mense vlak. Grootste vout wat ons kan maak. As ons meer op die Here vertou en ophou op mense sal julle sien dat jy meer geseend en ryker is as enige MENS op hierdie aarde. Ons moet meer bid en weer terug keer na die Enigste God wat ons uit al hierdie goed op aarde kan verlos. Baie mense vra die vraag, hoekom gebeur dit met my dat ek my werk verloor het en arm is en en en???? . Maar het jy al eendag dankie gese vir wat jy gehad het of het jy dit as vanselfsprekend aanvaar dit kom jou toe. Jy het hard gewerk om daai pos te kry. Jammer vir jou as jy so gedink het. Gee eerder die Here die lof en se dankie dat Hy jou daai pos gegee het. Dit is die grootste probleem ons het weg gedwaal van die Here af en nou wil ons huil as dit so gaan. Hoop vir die wat dit lees gee dit weer moet en insig om hulle lewens weer reg te kry. Ek weet dit het my gehelp.

burger ·

Met geld alleen is n mens nie n sent werd nie …

Suid Afrika is seker nou meer reg vir verandering as ooit te vore. Dit gaan besonderse mense verg . Hulle is reeds daar en reeds besig . Spreek hoop !

Carien Lambert ·

Baie dankie vir n lekkerlees artikel.Stem saam – die Bybel belowe geen ander voorspoed as n voorspoedige siel met n gees van oorwinning wat niks te make het met groot karre en ontwerpersklere nie.Jesus het op n donkie gery – Hy het nie eers n perd gehad nie!

Henry ·

Dit is baie waar, en ek tel gereeld my seeninge, al is die kontantvloei sleg. Ongelukkig is dit nie altyd heeltemal so eenvoudig nie. Ons middelklas Suid-Afrikaners is skatryk, spekvet en geseend in vergelyking met baie ander mense, maar ons wereld en samelewing het drasties verander sedert die voortrekkers en selfs ons oupa’s en ouma’s se tyd. Daar is nou 8 biljoen mense in hierdie wereld, ‘n 100 jaar terug was daar omtrent 2 biljoen. Meeste middelklas mense is vasgevang in die sogenaamde “rat race”, daar is nie geleentheid om jou eie kos te kweek en klere te maak nie, daar is nie meer ruil transaksies nie, ons samelewing word gedryf deur kontant en om genoeg daarvan te verdien. Ons is geseend, ons is skatryk, maar mense kla steeds want die druk om die lewensstandaard te handhaaf waaraan ons en ons kinders gewoond geraak het, raak moeiliker. Ek moes oor die laaste twee jaar van baie luukshede ontslae raak, bediendes, een ekstra voertuig, mediese fonds… en moes nou my huis verkoop, tog beskou ek myself steeds as ryklik geseend. Dit beteken egter nie ek wil streef na ‘n beter toekoms vir my en my gesin nie. Vir sommige van ons raak die opsies minder en dit is hoekom emigrasie aanloklik lyk. Kla en opgee is egter ook luukshede wat ek saam met die res van bates van ontslae geraak het.

Benita Williams ·

Hierdie is sowaar die eerste Maroela opinie stuk waarmee ek 100% saamstem! Doen so voort!

Liefdeskind ·

Ek kan weer nie neulers hanteer wat vir my nog verder wil laat skuldig voel oor die”rykdom” wat ek deur WERK en genade ontvang het nie……

marius ·

Goeie lees stof net jammer dat alles nie so maklik is in die werklike lewe nie. Nadat ek ge bee is het ek vir 3 jaar sonder werk gesit. Dit is maklik om oor iets te skryf maar word I ander storie as jy daai storie self moet beleef en ja ek stem 7 percent werkloosheid is nie baie onder blankes nie maar hoeveel mense is dit wat as gevolg van bee sonder werk sit of nie werk kan kry nie wat op I staduim van hul lewe ook I huis met I kar gehat het en alles verloor het. Hoeveel van ons moes nou al gelieftes afstaan aan moord nie so as daar diegene is wat bitter en beswaard is oor hoe dinge nou beloop in die land kan ons hul nie kwalik neem nie. Ek onthou I tyd in ons lewe waar ons tot laat in die aande in die straat gespeel het saam met die bure se kinders en dink dis hartseer dat ons kinders en die se kinders nie dieselfte sal kan beleef nie. As dinge so ver agteruit gegaan het in 20 jaar waar gaan ons wees in nog 20 jaar ek wonder

Amy ·

Ek verstaan jou pyn. Daar is slegte goed wat nou gebeur, ja. Maar ek raak besete as mense praat van die “goeie ou dae” toe kinders veilig op straat kon speel. Dis asof niemand daaraan dink dat daardie luuksheid net aan ‘n klein deel van die bevolking beskikbaar was nie. Kom tog, dinge is nou baie beter as wat dit was vir die gemiddelde Suid Afrikaner. Vooruitgang word nie bereik deur om met rooskleurige brille na die verlede te kyk nie.

marius ·

Bo en behalwe dat I derde van die blankes in kampe bly daagliks beroof verkrag en vermoor word en dat net spi sekere persentasie belasting betaal dat besighede gekniehalter word deur beurtkrag dat ons oorbelas word dat kos pryse en petrol pryse amper maandeliks opgaan en dan wil ek nie eens praat van korupte amptenare wat nie net miljoene maar biljoene rande gesteel het nie en nog steeds besig is daarmee sien ek bitter swaar jare wat voorle ek vra weer waar gaan ons land wees in 20 jaar

John Brandow ·

Jaco – Jy is nou n ou wat werklik n Bells verdien ! Ek sou dit self nie beter kon stel nie. Ek sou wou probeer maar moet die slag die knie buig voor n meester ! Doet so voort boet, doet so voort !

Pieter ·

Al die kommentaar kom uit die penne van die “ryk” mense. Al stilgesit en begin wonder of daar dalk nie net ryk mense is nie ? ‘n Uiters swak artikel, en dit nogal uit die pen van ‘n man uit die geloofsgemeenskap. Dit is waarom Christene so gelooi word. Ai tog.

marius ·

Ek dink die meeste mense het die trant van Jaco se artikel gemis. Gelowiges het deur die eeue vervolging ervaar, en die Bybel was hulle riglyn, omdat die boodskap van die Bybel is dat ons ten spyte van vervolging nader tot God. Dis juis gelowige mense wat die mees rassistiese dinge kwytraak want dit lyk my ons Afrikaners se default mode is om ander rasse te beledig, selfs al weet ons dis nie waar as ons so veralgemeen nie. Dis waarom swart mense oor die algemeen skepties is oor ons hartsverandering. Moenie dink hulle is nie bewus van ons subtiele rassisme nie. As ons minder kla deur te beledig en regtig omgee oor die swaarkry van mense van alle rasse sal hulle sien ons dra die opheffing van alle mense op die hart. Ons weet die huidige regering is grootliks ‘n klomp onbekwame skurke, maar ons verloor ons geloofwaardigheid die oomblik as ons die ras beledig en hulle korrupsie daaraan koppel. Dis ongelukkig wat meeste mense doen. Luister maar na hulle gesprekke. Wys eers jy gee om want dit sal maak dat mense ons vertrou en nie hulle eie default mode volg deur na die party te hardloop (wat nogal die waarheid praat as hulle sê Afrikaners is rassisties) wat nooit rassisties teenoor hulle eie ras sal wees nie. Ons kan as volwasse Christene ‘n verskil maak.

Kowie ·

My kommentaar kom nie van n “ryk” aan aarde goed ou nie, maar aan n “baie arm aan aarde goed” ou en ek die skrywer is in die kol. Ek voel nie aangespreek deur die skrywer nie, maar wil saam met hom stem – kyk vorentoe en loop vorentoe. Dit is nie maanskyn en rose nie, maar gaan dit beter word as ons konsentreer op elke bitterheid? Sien die probleme in die oog sonder om bitter te raak en geniet elke mooi dingetjie – al is dit hoe klein en bou dit uit. Niemand kan vorentoe loop terwyl hy agteruit kyk nie.

Thomas ·

Jaco, jy is reg dat die wat kla dikwels so doen met die witbrood onder die arm, en dat diesulkes nie rede het om te kla as hulle situasie met die situasie van die armstes onder die armes vergelyk word nie. Maar ek kan nie jou vergelyking tussen lewensstandaarde van 100, 200 en 2000 jaar gelede met lewensstandaarde vandag as rede om nie te kla, aanvaar nie.

Soos ek dinge verstaan is die klaery (en ek stem saam dit kom wydverspreid voor) nie omdat hul wat kla armer is as party ander mense nie. Daardie ekonomiese strata en dus verskillende vlakke van lewensstandaarde in ‘n samelewing was nog altyd daar en sal seker vir altyd voortbestaan. Se die Bybel dan nie erens dat die armes altyd met ons sal wees nie (en by implikasie dus ook altyd diegene wat ryker is) ?

Ek dink die klagtes is eerder omdat die algemene heersende situasie vandag (insluitende die rykdom waarna jy verwys) slegter of swakker is as wat dit kon wees, of behoort te wees. Ons moet die lewensstandaard en lewenskwaliteit, die rykdom van die werkende en produktiewe groep in 2015 soos dit nou is, vergelyk met wat dit KON wees en BEHOORT te wees as ons regering die land en strategiese instellings (ESKOM, et al) na behore bestuur het, en nie hoofsaaklik op selfverryking ingestel was nie.

Die gaping tussen waar ons is en waar ons kon wees, soos geillustreer deur die verskil tussen ‘n RSA ekonomiese groeikoers van onder 2% teenoor ‘n aansienlike beter groeikoers elders in die wereld (insluitend die res van Afrika), dit is waaroor mense ‘moan’.

Johan ·

Thomas.
Ek dink jy slaan die spyker op sy kop as jy die vergelykings tussen verlede en hede bymekaar neem en dit in konteks bring met wat dit behoort te wees. Ja ons kla nie met ‘n witbrood onder die arm nie, maar hoef nie as onnosel bestempel te word ten opsigte van waarheen die regering met ons land gaan en waar ons noual as ‘n land behoort te wees nie. Kyk net na die statistieke van die ANC oor die toestand van die ekonomie ens oor die laaste 20 jaar. Beslis nie ‘n rooskleurige prentjie nie. Ja ons is nog gelukkig dat van ons goeie werke het, maar dink ook aan die wat hul werk onregverdig verloor het. Dit MOES NIE so gewees het nie.

Therese van Schalkwyk ·

Jaco Strydom, die stuk laat lesers beslis weer ‘n slag nadink oor aardse besittings en hoe goed dit in daardie verband met ons almal gaan, in teenstelling met die grootste deel van die mensdom wat krepeer van ellende in die haglikste omstandighede. Dis goed om gereeld seëninge te tel, dankbaar te wees en uit te reik na ander.

Waarom emigrasie enigsins genoem word, is egter ‘n raaisel. Mense emigreer beslis nie uit SA na ‘n vreemde land agter groter materiële welstand aan nie. Die teendeel is eerder waar met die swak wisselkoers. ‘n Toekomsblik op ‘n Suid-Afrika wat nog twintig jaar op dieselfde koers voortgaan, is genoeg om sommige die hasepad te laat kies.

Wanneer ‘n land se polisiemag afsydig begin staan teenoor ‘n sekere deel van die bevolking is dit erger as net kommerwekkend. Alexander Bezuidenhout se tragiese verhaal breek my hart. Wanneer daar geskryf word van mense wat “moan” in SA klink dit taamlik ongevoelig, want ‘n krisis hoef nie “persoonlik ervaar” te word nie. Meelewing en empatie met ander is uitmergelend; seker daarom dat baie SA’ners apaties en afgestomp raak vir al die pyn rondom hulle.

Danie B ·

Jaco, as jy probeer het om my bietjie te laat dink, dit het gewerk.

BLINK STEFAANS ·

Soms is dit nodig om te praat oor “kla”.
Die “Bo-dorpers” kla ook irrelevante sakies, die “Onder-dorpers” oor oorlewing.
Die feit bly egter: Om te kla help nie veel nie. Sit eerder skouer aan die wiel,
en DÓÉN IETS aan die saak.

neelsie ·

Dankbaar vir wat ons het.
Dit is GENADE.
…..daaglikse brood…belydenis van afhanklikheid.

Alet de Witt ·

Ja nee, Geld is nie alles nie.. Vryheid van beweging, ja, dis baie belangrik.. Hier in Suid Afrika moet mense maar in hulle eie tronke leef of jy word beroof, verkrag, vermoor……… die wat dink dinge gaan beter word in Suid Afrika leef in n droom wereld..

Johnny ·

Die punt is eerder dat ons sou krag gehad het, indien die land deur bekwame leiers regeer was. Dit gaan dus nie oor ondankbaarheid nie, maar die frustrasie van mense wat weet dat ons nie hoef sonder krag te sit nie, maar wel as gevolg van swak leierskap en korrupsie. En dit is elke burger se reg om daaroor te kla of hy nou arm of ryk is.

Johan ·

Beste Jaco

Ek is nie ‘n persoon wat graag kla oor loadshedding, e-tolls of ‘n korrupte regering nie. Tog is ek een van die jongmense wat heel waarskynlik eendag gaan emigreer. My grootste rede vir die houding is die haat/verwyt wat swart mense vir wit mense het. Swart mense sal vir die res van hulle lewens wit mense verwyt vir hulle slegte lewensomstandighede. Alles is mos Jan van Riebeeck se skuld. En nee dit kom nie van ‘n braaivleisvuur gesprek nie. Dit het ek self ervaar. Veral onder die swart jeug. Swart studente wat saam my op universiteit is. (Wat nie eers Appartheid ervaar het nie) Swart mense vir wie ek die wêreld se respek het post anti-wit/anti-Afrikaaner berigte op Facebook. Jong swart mense met goeie grade en kwalifikasies wat vir die EFF sal stem omdat hulle voel daar moet drastiese stappe geneem word teen wit mense in terme van kapitaal en land verdeling. Een van dié swart mense se Facebook status nou die dag: “If i had the power to end all Afrikaans Medium Teaching/Learning…I would, unashamedly”. Dit nadat Afrikaners hul gatte af gewerk het om daai universiteite en skole daar te stig. ‘n Ding soos ‘n universiteit val nie net in mens se skoot nie.

Die punt wat ek wil maak. Ek gee nie so erg om oor die swak diens, korrupsie ens. nie. Ek weet dinge kon baie erger gewees het. En ek is skatryk in vergelyking met mense talle Suid-Afrikaners. Ek gee wel om of my eie land se mense my haat/verwyt. Dus voel ek dat indien wit mense wat wil “terug-keer” na Europa of waarokal moet nie gestop of ge-oordeel word nie. As ek kyk na wêreldgeskiedenis is dit duidelik: Wit en swart mense het nog nooit, en sal ook nooit om dieselfde vuur kan sit nie. Dit was duidelik vanaf 1652 tot nou toe en selfs sigbaar in lande soos Amerika. Ek dink Europeërs het klaar hulle doel hier bereik: Om vir die mense van Afrika die Here en GPS’e te bring. ‘n Hartseer waarheid: Afrikaans se plekkie in die son word al hoe kleiner. Dit word al hoe minder welkom in Suid-Afrika en is ook nie welkom in ‘n vreemde land nie.

Om af te sluit: Ek is baie lief vir baie swart mense en vir Suid-Afrika, maar ek woon eerder in ‘n land met slegte weer en ‘n vreemde taal as wat ek in ‘n land woon waar mense my haat en verwyt.

Ek wil graag enige kommentaar, argumente of terugvoer hoor. E-pos my gerus: [email protected]

Quintin ·

Hallo Jaco.

Dis altyd baie aangenaam om positiewe dinge oor Suid Afrika te lees, gewoonlik gaan dit gepaard met opmerkings oor hoe welaf veral blankes in Suid Afrika nog is. Dan, soos in jou skrywe hierbo, word daar hande saamgeslaan oor mense wat kla, “jy het ‘n warm bed, en dak oor jou kop, HOE DURF JY!”

Die teenvraag is dan, moet ons gelukkig wees met agteruitgang? Ek is seker jy sal saamstem dat Suid Afrika as ‘n land op ‘n afwaartse kurwe is. Mense word (relatief) armer, en die speelveld word meer en meer ongelyk gemaak, spesifiek teen die middelklas “Joe Average” wat se sak al hoe dunner en elektrisiteit (onder andere) al hoe duurder raak.

Middelklas mense, van alle velkleure, het elke maand minder geld, en dan lees ek iets soos hierdie en dit is asof die skrywer gelukkig sal wees wanneer almal in sinkhuisies in plakkerskampe bly, gelykheid is geleikheid, nie waar nie?

Die uitdaging wat ek aan jou wil stel is dan om op te hou probeer die land en jouself verbeter. As dit dan so ‘n las is om jou “rykdom” rond te dra, gee dan al die wêreldse dinge op en gaan woon in een van daardie “holiday place” kampe, en laat die ander toe wat nie gelukkig is daarmee om voort te gaan om te kla oor die agteruitgang wat tans willekeurig en sonder verpoos voortduur.

Die misverstand is dat mense kla met die brood onder die arm. Dis allermins die geval. Mense kla met een brood onder die arm, want die ander een is weggeneem, en dit raak moeiliker dan ooit om ‘n ekstra brooidjie te bekom.

DIS hoekom mense kla, want dinge vandag is elke dag ‘n bietjie slegter as dinge gister, en die “klaers” waak teen verval waar almal in kampe bly en niemand iets het nie.

Maryna ·

Ons is besig om te emigreer juis omdat ons min waarde heg aan ons materiële dinge.

In die proses van emigreer, gaan ons die meeste dinge verloor waarvoor ons ons lewe lank gewerk het. Ons beleggings gaan feitlik waardeloos word as ons dit omskakel in die nuwe geldeenheid. Ons moet teen massiewe koste dit wat ons besit verskeep. Die meeste van ons spaargeld is reeds bestee aan die visumaansoek vir verblyfreg in ‘n land waar ons nog nooit eens was nie. Ons moet nog ‘n sak geld uithou vir die vliegkaartjies vir ons gesin wanneer ons hopelik eendag werk en die nodige stempels het.

Ons emigreer omdat ons glo dat ons kinders beter verdien as slagspreuke soos “Kill the Boer”. Ons emigreer omdat ons hoop om ons kinders groot te maak sonder haat vir swartes – iets wat ek eerlikwaar moeilik gaan regkry as ons hier bly met hierdie regering. Ons emigreer omdat ek (as hulle groter word) my kinders sorgvry in die straat wil sien krieket speel met die buurt se kinders, of wil gaan stap of bergklim met my familie sonder om te wonder of die alledaagse stukkie handel en wandel ons ons lewens gaan kos.

Ons wil emigreer omdat ons bloot rustig in vrede wil kan woon en werk in ‘n land wat ons ‘n lewe gun.

Estelle ·

Die brief spreek mens se emosie aan; hoe kan ons kla as dit eintlik goed met ons gaan; dak oor jou kop, kos op die tafel ens? Dis egter nie die punt nie. Dit hang af wat jou standaard is waaraan jy dinge meet. Ons is beter gewoond. Ons betaal ten duurste vir diens wat ons nie kry nie. Ons werk hard en dan neem die regering 40% en mors daarmee. Misdaad omring ons elke dag. Om dan te sê; wees bly jy leef nie in die middeleeue of tydens die groot trek nie, neem nie die ongeregtigheid wat plaasvind reg nie.

welma naude ·

Emigreer jy werklik waar met jou ganse gesin en aardse besittings twv rus en vrede NA WAARHEEN JY NOG NOOIT WAS NIE!?

Jacques ·

Daar sal altyd “have’s” en “have-not’s” wees. Wanneer die ” have-not’s” tevrede aanfoeter van hand tot mond en vrede maak daarmee, of van die “have’s” verwag om hulle direk of indirek te onderhou sal hulle nie hulself laat uitstyg en “have’s” word nie. Indien die have’s nie met alle mag en geweld voortveg om hulself te laat groei met goeie werksetiket, opleiding, goeie beleggings en besluite nie, sal hulle have- not’s word. Die vrees vir die verlies – veral van buite faktore is die dryfkrag wat ons ekonomie aan die gang hou. Die uitspreek van die vrese is egter ook die moans warvan gepraat word. Selfs in die ou testament het die volk gevrees vir honger en het gemoan by Moses – tot die manna uit die hemel gekom het. Ons voorvaders het uiteraard gemoan oor die depressie jare – wie se oumas en oupas het nie dekades later nog daaroor gepraat nie. Tog is armoede relavant tot ander mense. Het hulle gesteel van meer welaf Engelse landgenote van daardie tyd? Het hulle gestaak, betoog, uitgemoor? Nee, hulle het uitgestyg bo hulle omstandighede. Om te kla met ñ silwer lepel in jou mond klink verskriklik behalwe as die norm is om met goue lepers te eet. In ons land is dit moeilik om dit buite ras konteks te sien, maar as mens jou lewensstandaard meet aan die groep waaraan jy jouself sien behoort, is dit noodwendig dat jy sal kla. Om dit buite RSA se rasse tammeletjie te plaas, kom ons vergelyk ñ Britse lord met groot plase met ñ fabriekswerker van dieselfde velkleur. Wie ry die Range Rover en wie vat die Ford hathback as hulle vir hul vriende wil impress? Ditto vir wes en oos Duitsland se inwoners (veral net na die val van die muur) ñ Mens se lewensstandaard is maar net waaraan jy dit meet. ñ Boemelaar kan duidelik meer lewensgeluk ervaar as ñ miljoener, maar as ons almal boemelaars was by wie sou ons bedel?

Christo Briedenhann ·

Ek stem 100% met die skrywer saam dat die Afrikaner al deur baie moeiliker tye in ons verlede is, ek stem ook saam dat ons ongelooflik bevoorreg is. Ek voel egter dat ons absoluut moet kla oor die dinge waaroor ons wel ontevrede is. Ons kan tog nie alles net wil goedpraat nie, ons moet duidelik ons ontevredenheid uitspreek. Die grootste probleem wat die Afrikaner vandag mee te doen het is apartheid en ons sit nogsteeds met die skuld van jare terug wat soos ‘n dekmantel oor ons hang. Dit is ‘n feit dat apartheid die skuld van alles wat verkeerd verloop kry. Kom ons kyk egter wat is/was apartheid en wat is dit nie:

1. Wat het apartheid vir die land gedoen wat wel goed was:
a. Die Afrikaner het suksesvolle maatskappye soos Sanlam, Anglo, De Beers, Krygkor, Denel, Dimension Data en hope ander besighede begin. Vandag pluk almal (Blank en nie-blank) nogsteeds die vrugte daarvan. Die Afrikaner word egter deur BBEEE gepennaliseer en moet nou dit wat hul geskep en begin het oorhandig of deel met minder bevoorregtes wat hierdie maatskappye net in die grond in bestuur.
b, Die Afrikaner het Top Universiteite geskep wat vandag deur almal gedeel word, maar die minder bevoorregtes van die verlede gun die Afrikaner nie om in ons eie taal opgelei te word nie. Hul wil die taal beleid verander en ons universiteite oorneem.
c. Die Afrikaner het baie suksessvolle boere geword. Vandag wil die minderbevoorregtes ons plase afneem. Boere word in duisende vermoor en gemartel om ons van ons plase wat ons met harde werk verdien het, af te verdryf.
d. Die Afrikaner het uitstekende infrastruktuur geskep, maar vandag word ons deur tolgeld verplig om weer te betaal vir dit wat ons gebou het. Ons paaie is vol slaggate en infrastruktuur oor die algemeen is in ‘n gehavende toestand.
e. Die Afrikaner het ‘n uitstekende staatsdiens en munisipaliteite geskep wat diens in ons stede en in die land verskaf het. Vandag is dit oorgeneem deur die minderbevoorregtes, maar dit werk nie meer nie. Dienslewering bestaan nie meer nie.
f. Die Afrikaner het Eskom, SAA en Transnet geskep, maar vandag het ons beurtkrag, ‘n bankrot lugdiens en ons spoornetwerk bestaan amper nie meer nie.
g. Die wisselkoers was sterker as die pond, maar vandag is ons geld bitter min werd.
h. Ten spyte van apartheid het ons meer mense gehad met werk, maar vandag is daar nie meer werk in ons land nie.
Ek kan nog aan baie ander voorbeelde dink, maar kom ons kyk wat is nie deur apartheid geskep nie.

2. Aparheid van die verlede het beslis nie die volgende geskep nie, maar dit is deur die huidige regering veroorsaak:
a. Ons land loop oor van buitenlanders wat steel, moor en ons eie mense beroof van werk.
b. Korrupsie het nog altyd bestaan, maar die vlaag van korrupsie wat ons vandag sien is ongekend.
c. Drugs, pornagrafie, en algehele morele verval van die mense in ons land is aan die orde van die dag.
d. Moord, verkragting, bedrog en korrupsie is ‘n daaglikse verskynsel.
e. Werkloosheid, armoede en hongersnood is aan die orde van die dag.
f. ‘n Regering wat doen en maak wat hul wil, ongeag die grondwet van ons land.
g. Zuma, die idioot met sy ANC party is besig om ons land in die afgrond in te bestuur en daarom is Suid Afrika se groeikoers minder as 2% per jaar met inflasie baie hoër. Dit beteken ons almal verarm. Die res van Afrika sit met ‘n groeikoers van byna 7%.

So, wat probeer ek nou sê. My mening is hou op om die land te probeer goed praat want dit gaan nie goed nie. Ons moet die regering met mag en mening aanvat en nie vir een sekond ophou kla nie. Veg so hard as wat julle kan, want ons het verandering nodig. Bly gelukkig, want Suid Afrika is ‘n wonderlike land, maar om dit wonderlik te hou moet ons, ons monde opmaak en kla. Ons moet Toi, Toi oor swak dienslewering, oor korrupsie, oor moord, oor verkragting, oor swak skole, oor swak regering, ens, ens. So, ek voel vere – ek gaan aanhou kla ongeag wat wie wat sê!

Stephen ·

Ek hoor wat jy sê. Praat is maklik, solank jy jou in ‘n beskutte en bevoorregte posisie bevind. Ek stel voor jy verkoop al jou besittings en skenk die opbrengs aan die armes, soos die Bybel voorskryf. Gaan bly dan in die naaste plakkerskamp en bid vir jou volgende maaltyd, dan praat ons weer.

Anton ·

Jaco, jou artikel se titel is misleidend en jou hele artikel mis die punt, ek het lank voor ek in Indie was besef dat ek skatryk is en enige persoon met ‘n TV of toegang tot die internet kan dit binne minute besef.
Die meeste mense kla nie of wil emigreer omdat hulle nie ryk is nie maar eerder dat ons belastinggeld wat altyd ordentike paaie, hospitale, veiligheid en behoorlike polisie gewaarborg het dit nie meer doen nie.
Ons voel nie welkom waar ons voorvaders al ‘n paar honderd jaar leef nie, ons word vertel ons hoort nie hier nie, ons belastinggeld word deur ‘n nuwe elite vermors of gesteel en die meerderheid wat soveel minder as ons het en met wie dit net so sleg of slegter gaan gaan elke keer terug stembus toe en stem weer vir ‘n moreel korrupte party.
Ek dink ryk en arm het meer as genoeg rede om te kla en om ons met hoe mense geleef het paar duisend jaar gelede te vergelyk is belaglik.
Toe jou ouma haar knope aangewerk het, het almal dit gedoen, ryk en arm.
Deur te sê ons is beter af as die meerderheid in ons land, mense in ander lande of ‘n ander tyd in die wereld se geskiedenis en daarom mag ons nie kla nie is ‘n onnoosele argument.
Wat die armes in ons land moet doen is om hulle mislike omstandighede te aanvaar en harder werk om daaruit te kom (soos bv Singapoer of die boere soos jou ouma na die boere oorlog) en nie te staak vir onbekostigbare salarisse wat net gaan verseker dat die besigheid waarvoor hulle werk, nie lewensvatbaar gaan wees en meer bestaan oor ‘n paar jaar nie.
Die rykes en armes moet meer kla en die armes moet stem vir ‘n party wat werklik hulle belang op die hart dra en nie net leë beloftes maak nie.
Deur te ‘moan’ op enige plek in die wereld is die manier hoe die politici sien dat die stemmers ongelukkig is en dit laat hulle regop sit, hier by ons steur hulle, hulle nie aan dit nie en ons (ryk en arm) moet meer ‘moan’ totdat hulle notisie vat.
Jaco, word wakker, die rede omdat die wereld so ontwikkeld is, is omdat mense selfs paar duisend jaar gelede nie tevrede was met wat hulle gehad het nie en na beter gestreef het, deur stil te sit en net jou seëninge te tel sal net verseker dat jy oor ‘n paar jaar agterkom dat die wereld aan gegaan het en jou agtergelaat het.

Denise ·

Hello Jaco
Ek stem saam dat ons ondankbaar is. En as ek na al hierdie kommentaar kyk dan is my Hart benoud. Wat het van vergifnis geword? Ek werk al vir tien jaar met mense wat verkrag, vermoor en steel. En as ek na die kommentaar kyk wonder my Hart wie van julle kan dit bekostig om n klip te gooi na die misdadigers? Doen ons maar nie almal wat ons glo ons moet doen om te oorleef nie. Ek stem vir n dankbare Hart vol vergifnis en liefde. Dit werk vir my en my gesin.

Olga Minnie ·

Dit is so dit laat my dink toe my Oupa en Ouma in die oorlogsjare in Holland was die honger die vrees die hartseer en toe ek klein was kon ek nie verstaan hoekom hulle altyd gehuil het as hulle daaroor praat nie want hulle moes kos uit asblikke gaarmaak om te eet en nou dat ek al 57 is besef ek wat ‘n voorreg ek in groot geword het want ek het nog nooit nodig gehad om dit te doen nie en ek dank die Vader daarvoor. Ons bly in ‘n pragtige land en ons moet positief wees want ons het nog altyd baie gehad…dink mooi en besef dit is die waarheid. xxxx

Lenard de Lange ·

Jaco,ek is n 30 jarige boer,ons boer in die Vrystaat en ek het nog nooit honger gaan slaap of koud nie en ons as gesin braai elke naweek.ek is geseen met die pragtigste vrou en as dit die Here se wil is,gaan ek eendag n pappa word.
Ekt in die dorp grootgeword tot omtrent op 6 toe het eknen my ouer broer saam met my pa begin boer gedurende skool vakansies,so daardie droee grond is deel van my lewe nou,maar ek en my broer kon in die straat fiets ry en speel en in die aande saam met groter kinders gaan tok tokkie speel,almal ken dit en eknwil he my kinders moet dit ook ken.
Ek sit egter tans in Amerika,weg van my liefling omdat ek n beter toekoms moet soek vir haar en dalk my kinders.
Ek was gladnie deel van apartheid nie,ek het saam met ons WERKERS (nie k…..s nie) in die winter langs n vuur gesit en my pap en melk eet,dit was heerlike tye,die beste,nou moet ek egter of als wat ek ken verlaat,of elke nag in angs en vrees le in my bed en luister vir enige snaakse geluid of n voertuig wat iewers ry of of of of of………….
N man het eendag in n kroeg ingestap,gaan sit en sy drankie bestel en toe vreeslik begin uitpak en kla,nie ver van hom nie het n ou oom,se maar n bedelaar gesit,een van die “regulars” en hyt opgestaan,die man aan die skouer gevat en gese..”ou seun,se gou vir my,jy wat nou so erg aan die klae is,wie het jou nou eintlik wat belowe?” en die ou man het weer gaan sit.

Ek glo vas dat hierdie hele gedoente wat nou in SA aan die gang is,n manier van God is om ons oe ooptemaak sodat ons weer ons geloof moet vind en op ons kniee moet gaan,weer bybel klasse in skole moet sit en ons godsdiens moet versterk,soos die voortrekkers by bloedrivier gedoen het,maar ek gaan baie eerlik wees,ek as man kan myself verdedig as dit rerig moet,maar ek het n belofte aan God gedoen om die vrou wat Hy my gegee het optepas,maar ek voel ek kan haar nie verdedig en veilig hou meer in SA nie

Ek bid elke aand vir elke mens op hierdie aarde,maak nie saak kleur nie,maar wanneer kry ek n oproep wat se my pa en ma is vermoor?stukkend gekap met byle en grawe?so ook my broer en sy vrou met hul paar weke oud seuntjie???

Ek glo en ek vertrou op God,so as my besluit om wegtegaan uit SA nie reg is volgens Hom nie,dan sal ek met liefde my straf by Hom vat,maar nie deur mense wat nie eers weet hoe om te lees en skryf nie

Rina Rossouw ·

My hele brief het tweekeer net deurmekaar geraak en verdwyn voor ek dit wou stuur……

Enige rede…..Ek glo nie ek het iets verkeerd gese nie……Net dat Jaco nog baie insig nodig
het – oor wat arm werklik is. Het hy sy werk verloor as gevolg van nuwe wette, Het hy sy huis verloor omdat hy dit nie kon betaal nie….Het hy al sy kar en meubels- en in ‘n karavaan gaan bly het, kos ontvang van Solidariteit…. Het hy al wou selfmoord pleeg omdat hy nie meer sy gesig vir sy gesin kan wys nie. Was hy ‘n trotse SA wat verarm het en in ‘n plakkerskamp beland het onskuldig…. Het hy probeer om werk te kry maar sy velkleur is verkeerd. Jou idee is miskien eervol Jaco – maar dis maklik om te praat ” from a distance” Ek bid vir jou Jaco- mag God jou nooit by daardie punt bring waar jy moet sê, ek het gedink ek weet wat dit is…..maar nou weet ek nie. Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.