As jy twyfel oor die toekoms – bou dit

foto1-Custom.jpg[promosie-artikel]

Deur dr. Dirk Hermann

“The English and the Americans are two peoples divided by a common language” – George Bernard Shaw

Afrikaanssprekendes is ’n verskeidenheid mense met verskillende identiteite en stories, maar verenig deur ’n pragtige taal. Ek vertel vandag een so ’n storie.

31 Mei 1902

Die einde van ’n dramatiese oorlog waarin 33 000 vroue en kinders in konsentrasiekampe dood is; 30 000 Boere as bannelinge weggestuur is; 20 000 oorlogswesies nagelaat is; honderde plase afgebrand is; en ‘n verlies van die Boererepublieke. ’n Nuwe staatsorde is geskep. Die nuwe magshebbers wou Afrikaners ontbind en assimileer.

Afrikaners het voor ’n kruispad te staan gekom – die staat of die gemeenskap. ’n Sterk stroom het die gemeenskap gekies, weg van die staat. Instellings is deur die gemeenskap gestig, gedryf deur ’n eenvoudige geloofsbegrip van doen wat jy moet doen en glo in God se toekomsbelofte. Ná die Rebellie van 1914 het die Helpmekaar-beweging ontstaan. In die gees van helpmekaar is instellings soos Sanlam, Santam en Volkskas gestig – die krag van die gemeenskap.

Depressie van die 1930’s

Dié depressie van die 1930’s laat een derde van Afrikaners armlastig. In die krisistyd van akute armoede word kulturele instellings soos die ATKV, die Voortrekkers en die FAK gestig. Vertroue in wie jy is, is ’n voorvereiste vir opstaan uit ’n krisis, is geredeneer. Die Reddingsdaadbond, Federale Volksbeleggings en die Afrikaanse Handelsinstituut het gevolg.

1948

Die Nasionale Party wen die verkiesing wat die pad van die staat inlui. Dit loop uit op die groot Republiek van 1961. Die smart van die oorlog en die onlangse armoede nog vars in mense se geheue. “Nooit weer nie,” was ʼn algemene uitroep.

Dit was ʼn merkwaardige tydperk. Die modernisering van Afrikaners het binne een geslag plaasgevind en ʼn moderne ekonomie is ontwikkel. ’n Taal het binne dekades tot ’n hoë-orde funksie ontwikkel. ‘n Ongekende prestasie in die wêreld.

Dit was ’n tydperk van die groot staat, groot staatsleiers en gemeenskaporganisasies wat die stelsel stut. ‘n Tydperk van ‘n minderheid wat oor ‘n groot land en baie mense regeer. Groot oplossings, verskuiwings en ʼn statutêre raamwerk was nodig, want dit was te groot.

Die pad het begin om sy morele kompas byster te raak.

Die Afrikaner het ook ’n duur prys vir die staatspad betaal – die krag van die gemeenskap het verlore geraak.

1994

Die politieke orde verander. Afrikaners sukkel om hul pad te kies. Afrikaners het gedink hulle is sterk, maar het ʼn tragedie van onbewuste verlore krag beleef.

Byna die totale georganiseerde Afrikanerwêreld het ineengestort.

Meningsvormers het begin verwys na die ontbinding van Afrikaners.

Weer is ’n kruispad bereik – ’n pad wat deur die staat loop of ’n pad wat deur die gemeenskap loop. Die Solidariteit Beweging het die krag van die gemeenskap, en nie die “mag” van die staat nie, gekies. ‘n Minderheid, in ‘n meerderheidsomgewing, se pad loop deur effektiewe instellings, waardeur daar sinvolle interaksie tussen staat en gemeenskap en gemeenskappe tussen mekaar kan wees.

Die Solidariteit Beweging se pad beteken die bou van ’n nuwe werklikheid. Aan die een kant beskerm ons ons grondwetlike ruimtes, maar aan die ander kant bou ons. Solidariteit bou ’n groter vakbond, ’n nuwe privaat universiteit, Akademia, en ’n tegniese kollege, Sol-Tech. Die Solidariteit Helpende Hand bou ’n studiefonds wat al R100 miljoen sterk is. AfriForum bou kapasiteit in gemeenskappe. Ons help bou aan media-instellings soos Maroela Media en Pretoria FM en aan kultuurinstellings soos die FAK en Kraal Uitgewers. Ons bou verskeie finansiële instellings.

Daar is nie groot staatsgeld nie. Elkeen doen sy deel, bietjie vir bietjie wat baie maak. Ons bou ’n moderne Helpmekaar Beweging wat bestaan uit 18 instellings met ’n vyfjaarbegroting van R3,5 miljard.

Ons doel is ’n toekoms waarin die Afrikaanse taalgemeenskap en die Afrikaner-kultuurgemeenskap vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Ons glo die pad van Afrikaans en Afrikaners, in die post-’94-werklikheid, loop veral deur die bou van lewenskragtige gemeenskapsinstellings.

Ons glo dat as jy oor die toekoms twyfel dan bou jy dit!

Jý kan die Solidariteit Beweging help om aan ʼn beter toekoms te bou. SMS die woord ONSBOU na 34802 (SMS’e kos R2).

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Karmenaadjies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae