Atterbury se klipreus kry die groen en goud

Van links is Armond Boshoff, Willem Minnaar, Louis van der Watt, Atterbury se groepshoof en Victor Matfield. Foto: Michele Schoeman.

Rugbylegende Victor Matfield het Dinsdagmiddag die “grootste Bokondersteuner in die wêreld” onthul – ’n klipstandbeeld van vier meter wat deur ontwikkelingsmaatskappy Atterbury in ’n reusagtige Springboktrui geklee is ter ondersteuning van die Bokke vir die komende Wêreldbekertoernooi. Matfield was deel van die legendariese span wat die Wêreldbeker in 2007 gewen het.

Die massiewe “Kinders van hierdie Klippe”, wat deur die bekroonde kunstenaar Angus Taylor vir Atterbury geskep en vroeër vanjaar buite die maatskappy se hoofkantoor by The Club in Hazelwood, Pretoria, geïnstalleer is, word na “Springbok van Klip” herdoop vir die duur van die Wêreldbeker wat eerskomende Vrydag in Japan afskop.

Die reuse-trui is so na as moontlik aan ’n identiese weergawe van die amptelike uniform waarin die Bokke sal uitdraf, sê Armond Boshoff, Atterbury se hoof- uitvoerende beampte.

“Ons is groot Springbokaanhangers by Atterbury… ons bloed loop groen vir die volgende maand,” sê Boshoff. “Die nostalgiese herinnering aan hoe die Bokke met hul Wêreldbeker-oorwinnings die land en al ons mense in 1995 en 2007 saamgesnoer het, het ons geïnspireer tot ’n groter as lewensgrootte gebaar om te wys ons staan bankvas agter die span en hou duim vas dat hulle weer die Wêreldbeker sal terugbring! Mens word heeltyd toegegooi onder slegte nuus, maar daar is so baie in Suid-Afrika waaroor ons positief kan wees, en ons glo die sakewêreld het ’n verantwoordelikheid om goeie nuus te vier en vertroue in ons land te wys.”

Victor Matfield onthul die ‘Springbok van Klip’. Foto: Michele Schoeman.

Willem “Boeta” Minnaar van Pretoria, wat twee jaar gelede as vierjarige harte gesteel het toe ’n video van hom wat die volkslied sing op sosiale media rondgestuur is, het gister weer so gemaak by The Club, en “Nkosi Sikelel’ iAfrika” saam met Matfield en ’n skare toeskouers in groen en goud gesing. Boeta se video het destyds ’n Kwêla-toekenning gewen vir die snaaksste video van die jaar.

Volgens Boshoff was dit behoorlik ’n uitdaging om die vier ton‑standbeeld in ʼn Springboktrui en -broek te klee. Die trui moes ’n anderhalwe meter lank wees, en pas om ’n fors borskas met ’n omvang van twee en ’n halwe meter.

“Dit is alles met oop synate gemaak, met Velcro om dit rondom die beeld vas te maak, want hy kon natuurlik nie sy arms of bene oplig om aan te trek nie,” het Boshoff verduidelik.

Taylor het die standbeeld geskep uit lae van Afrika-rots – van die oudste klippe op die planeet, insluitende grys Belfast Gabbro en groen Verdiet uit Barberton se Groensteengordel.

Die “Springbok van Klip” sal sy Bokkleure tot en met die Wêreldbeker-eindstryd op 2 November dra. Atterbury rig ook ’n toeskouerspark op in Hazelwood by The Club en die aangrensende Old East Precinct vir die kwarteindstryd-naweek, 19-20 Oktober. Vir meer inligting oor die aktiwiteite, kontak gerus vir [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.