Baas en hondekind herenig ná 200 dae

Lorin Leuci sien vir die eerste keer haar hond, Lu. Foto: Kerry Booysen/Pawgeous

Lorin Leuci sien vir die eerste keer haar hond, Lu. Foto: Kerry Booysen/Pawgeous

’n Vrou van Strubensvallei in Roodepoort, Gauteng, is onlangs met haar hondekind herenig ná die vierjarige beagle langer as 200 dae vermis was.

Die hondekind, Lu, het nie ʼn halsband met ’n naamplaatjie aangehad toe hy vroeër in 2015 van die gesin se huis verdwyn het nie.

Robin Leuci, die eienaar van die beagle, sê hulle het byna alles in hul vermoë gedoen om Lu weer op te spoor. “ʼn Soektog is van stapel gestuur waarin pamflette op straat en in winkels uitgedeel is, ’n Facebook-groep met die naam Operation bring Lu Beagle back gestig en meer as 200 veeartse en takke van die DBV genader is,” het Lorin Leuci, Robin se suster, gesê.

Sy vertel die kontantbeloning van R2 000 is tot R5 000 vermeerder ná vriende bygedra het omdat hulle geweet het hoe lief die gesin vir Lu is.

“Die soektog het aanvanklik baie ondersteuning gekry. Mense van naby en ver wou help soek. Ons het egter begin hoop verloor namate die tyd aangestap het. Ons het verskeie kere na dorpe uitgery, sonder sukses, en selfs een aand in die modder vasgesit.”

Lorin het een aand ʼn oproep van ʼn man ontvang wat gesê het hy het Lu in ʼn leegstaande gebou in Roodepoort gesien. Hy het aangedring dat sy hom die volgende oggend ontmoet. “Ons het ʼn sterk vermoede gehad dat iets nie pluis is nie. Die polisie wou ons nie begelei na die persoon se huis nie, maar ʼn beampte van ’n sekuriteitsmaatskappy het saam met ons gegaan. Dit was toe nooit Lu nie. Ons vermoed die man het gedink ons gaan die geld by ons hê.”

Intussen het die DBV ook betrokke geraak by die soektog. Nuwe blaadjies om die soektog weer aan die gang te kry is in Januarie 2016 uitgedeel.

Nadat die DBV in Roodepoort ʼn foto van Lu op Facebook gedeel het, het Kerry Booysen, ʼn lid van die Facebook-blad vir Lu, ʼn foto van hom na die groep gestuur. Lu is by dié tak aangemeld nadat huurders ʼn hond agtergelaat het en hy in die leë gebou agtergebly het. Hy het vermoedelik by die huurders gebly.

Die gesin is intussen herenig met Lu. “Ons is verheug en kan nie genoeg dankie sê nie. Dit is so belangrik dat mense seker maak hul diere het mikroskyfies of halsbande met kontakbesonderhede.”

Lu het ook ʼn mikroskyfie gekry. Lorin en Kerry maan ander om betrokke te raak by die DBV en die werk wat hulle doen. Besoek die DBV se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ELAINE ·

Ek gaan slaap nie as my katte kind nie in die huis is nie kan net dink waardeur die dame moes gaan jipeeee vir happy endings amazing goeie nuus altyd welkom

ruben ·

Wat n wonderlike positiewe storie so tussen al die negatiewe nuus

Sarie ·

Ek is liewer vir mý 2 honde, as bàie mense vir hul kinders… Hulle is èlke dag & nag, soos my skaduwee… Slaap snags bo-op my bed…. Die Pekingese wèèt ek loop moeilik. Hy stap altyd omkyk, omkyk, stadig voor my uit, om te keer dat ek val & wanneer ek val; kom ruik hy by my mond & neus of ek asemhaal & as ek dalk huil, lek hy my trane af… Hy is bàie erg oor sy ouma & pas my mooi op…. Sonder Wolla & Saarkie, sal mý lewe bitter eensaam & leeg wees…

Amber ·

Ek kan my net indink hoe verheug die eienaar moes wees. Ek het 2 beagles, en pas hulle op soos goud. Hulle is snuffel honde, en so maklik kan hulle neus, hul in n rigting vat, ver van die huis.

Lyla ·

Honde (en katte) is maar onvervangbaar. Ons dogtertjie – no 5 was normaal en kon praat maar sy het nie. Sy het in ons ore gefluister maar net in my of my man sin verder het sy nie `n woord aan niemand gesê, na dr’s besoeke en alles het die een mamma aan my voorgestel ek moet vir haar `n hond kry – nou ons het daai tyd in `n woonstel gebly so honde was uit. Maar nie-te-min ek het die sielkundige genader en gevra vir `n briefie wat sê dat sy daarby sou baat. En dis goed gekeur, en hier het ons `n kleine woef… 5 dae toe begin sy praat wel met die woef maar dit was `n goeie begin, sy het af en toe met ander mense gepraat – groet en dis dit. toe raak woef siek (katgriep) en R 2300.00 later is woef oorlede, hulle kon hom nie red nie. En daar sit ons weer met stilstuipe! Sy het ook ophou eet. Woef is vervang met `n geskenk van bo want woef 2 het presies soos woef 1 gelyk – so dis net van bo. En daar is die 2 vandag amper 3 jaarf later, woef en sy baas is onafskeidbaar en waag dit net naby haar, die kleine woef kan nogal agro raak. En ons pragpop, is nou `n regte babbel-bekkie. Groetg enige een (moet net nie aan haar vat nie) maar sy het `n persoonlikheid 1000 ontwikkel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.