Bakhand of helpende hand?

gebed-hand-lig

Foto: Aachal Lal/Unsplash.com

Daar is byna nie plek in die saal nie. Van die susters smeer broodjies, ander maak sop. ’n Opgewonde atmosfeer heers, want die gemeente begin ’n sopkombuis.

Dertig mense kry sop en brood en die daaropvolgende Vrydag word daar weer gesmeer en gekook. Hierdie keer daag 60 mense op. Die dominee vertel die Sondag van die sopkombuis en nog skenkings stroom in.

Nog ’n week en nog ’n week gaan verby. Die projek is ’n wegholsukses… 150 mense word gevoed! Van die mense vat sop en brood vir hul kinders huis toe. Dalk moet die kinders eerder katjiebotter en stroop op hul broodjies kry? Meer skenkings volg.

Die getalle staan nou op 350 en die sopkombuis ontaard: mense dra toenemend kos huis toe en reëls moet gemaak word. Die mense hou nie daarvan nie. Die projek sal egter moet voortgaan, want al hoe meer mense raak nou afhanklik van die sopkombuis.

Nog is het einde niet. Meer mense kom na die sopkombuis, maar daar is minder helpers en die skenkers se belangstelling taan. Uiteindelik moet die dominee aankondig dat, ten spyte van die groeiende sukses, die projek gestop moet word.

Die rede? Ongestruktureerde liefdadigheid kan ’n hooplose toestand van ’n persoon vererger. Goeie bedoelings kan slegte gevolge hê.

Daar is talle organisasies wat groot bydraes lewer tot die opheffing van mense in nood. Indien jy google om uit te vind hoeveel liefdadigheidsorganisasies daar in Suid-Afrika is, kry jy die volgende skrikwekkende antwoord: In 2017 was daar bykans 120 000 geregistreerde niewinsgewende organisasies (NWO) en ten minste 50 000 ongeregistreerde NWO. Daar is dus ’n magdom NWO-organisasies in die land, maar ongelukkig is dit nie almal wat probeer om die werklike nood van mense die hoof te bied nie.

Weens die groot verskil in die sosio-ekonomiese status in gemeenskappe, neem liefdadigheidsorganisasies verskillende vorme in Suid-Afrika aan. Baie van die organisasies doen goeie werk, maar nog meer versterk ongelukkig afhanklikheid en raak later disfunksioneel.

Ons, as ondersteuners en skenkers, wil verseker wees dat die organisasie wat ons ondersteun aspekte soos aanspreeklikheid, deursigtigheid van werksaamhede en fondse, asook verantwoordelike bestuur nastreef. Dis veral in ’n land waar wydverspreide wanfunksionering en korrupsie voorkom, belangrik.

Robert D. Lupton skryf in sy boek Toxic Charity dat Amerikaners vrygewig vir liefdadigheid gee, maar baie van die geld word vermors of dit doen meer skade aan die mense wat dit veronderstel is om te help. Hierdie standpunt word deur Dambisa Moyo in Dead Aid bevestig.

Solidariteit Helpende Hand is ’n gemeenskapsorganisasie wat aanspreeklikheid, deursigtigheid en verantwoordelike bestuur nastreef en beskou hierdie aspekte as ononderhandelbaar. Solidariteit Helpende Hand wil ook aan die gemeenskap op grondvlak leiding en ondersteuning bied, sonder om onbedoelde skade aan te rig.

Die mens se omgee- en barmhartigheidsinstink is dikwels baie sterk ontwikkel. Ons reageer met dringendheid op desperate krisis-situasies, maar is soms nie in staat om na (die meer komplekse) langtermynoplossings oor te skakel nie.

Ons reken dis makliker en vinniger om net ’n vis aan iemand te gee, as om die persoon in staat te stel om ’n visstok te koop of te maak en die persoon dan te leer hoe om sy eie vis te vang. Ten alle koste moet ons dit vermy om aan behoeftiges iets te voorsien wat hulle vir hulself kan (of kon) voorsien.

Indien ons onoordeelkundig gee, skep ons afhanklikheid en hou ons die persoon as’t ware in ’n staat van hooploosheid en minderwaardigheid “gevange”. Om selfwaarde en probleemoplossende vaardighede by ’n persoon te ontwikkel, het immers heelwat meer langtermynresultate. Ja, opleiding en ontwikkeling verg baie meer toewyding en inspanning as bloot net die gee van onmiddellike behoeftes, maar daarin lê die skep van selfwaarde en bemagtiging.

Die Solidariteit Helpende Hand wil nie alleen die vis in iemand se hand plaas nie, maar streef daarna om eerder ’n visstok te gee, sodat hy/sy die selfvertroue kan hê om sy/haar toekoms oop te kap.

Hiervoor gee Solidariteit Helpende Hand, byvoorbeeld, aan die behoeftige graad 1-leerling ’n skooltassie met skryfbehoeftes sodat die kind in staat is om sy/haar godgegewe talente te ontwikkel om eendag ’n goeie werk te kry. Vir die behoeftige student word rentevrye studielenings aangebied, sodat daar vir hom/haar ’n beter toekoms kan wees.

Solidariteit Helpende Hand besef egter dat ’n gemeenskap die beste opleiding en ontwikkeling aan hul eie gemeenskap kan bied en vervolgens is daar ’n sterk fokus op gemeenskapsontwikkeling.

Gemeenskapsontwikkeling is ’n proses en nie ’n lukrake hantering van ’n gemeenskap se uitdagings en behoeftes nie.

Solidariteit Helpende Hand wil hiermee gemeenskappe uitnooi om hul naaste Helpende Hand-tak te kontak, sodat die uitdagings en behoeftes van daardie gemeenskap op ’n volhoubare wyse hanteer kan word – op ’n wyse wat minderwaardigheid en hooploosheid teëwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae