Bankdienste: Ombudsman sal jou help

aankope-aanlyn-internet

Foto: Negative Space/Pexels.com

Ons gebruik almal banke se produkte en dienste vir verskeie transaksies en rekeninge, maar nie almal is ewe gelukkig met die dienste wat banke lewer nie. Verbruikers voel soms hul hande is afgekap en hulle moet maar aanvaar wat die banke doen, maar mens hoef nie moed op te gee as jy ʼn probleem met jou bank het nie. Ina Opperman verduidelik waar jy kan kla.

Bankdienste en klagtes oor bankdienste is ʼn ingewikkelde veld en daarom is dit goed om te weet daar is ʼn spesialis-organisasie wat kan help om jou klagte op te los. Die ombudsman vir Bankdienste hanteer individuele klagtes oor banke se dienste en produkte en doen dit boonop onpartydig, onafhanklik en vinnig, terwyl jou klagte ook vertroulik hanteer word. Die kantoor funksioneer onafhanklik van die banke en doen verantwoording aan die raad van die ombudsman vir Bankdienste.

Wie kan by die ombudsman kla?

Enige kliënt van enige bank kan die ombudsman vra om te help met ʼn klagte, solank dit binne die kantoor se jurisdiksie val en jy reeds by die bank gekla het. Die ombudsman se kantoor sal eers probeer om jou klagte deur middel van onderhandeling met die bank op te los, maar as jy ʼn saak het en jou klagte is steeds onopgelos, kan die ombudsman ʼn formele besluit neem in die vorm van ʼn bindende aanbeveling of ʼn bevinding wat nie bindend is nie.

Die ombudsman skep nie reëls vir die bankbedryf nie en hanteer nie beleidskwessies nie, terwyl die kantoor ook nie algemene inligting oor banke of finansiële aangeleenthede verskaf nie. Banke se handelsbesluite oor fooie of die verskaffing van krediet val ook buite die jurisdiksie van die ombudsman, tensy wanadministrasie betrokke is. Wanneer jou bank dus weier om krediet aan jou toe te staan of die terugbetaling van ʼn lening te verander, kan die kantoor nie help nie.

Gedragskode vir banke

Die ombudsman vir Bankdienste het ʼn gedragskode vir banke ontwikkel om:

  • goeie bankpraktyk te bevorder deur minimum standaarde te stel,
  • deursigtigheid te bevorder sodat jy beter verstaan wat jy redelik kan verwag van die produkte en dienste wat ʼn bank bied,
  • ʼn regverdige en oop verhouding tussen jou en jou bank te bevorder, en
  • vertroue in die bankstelsel te skep.

Wat kan jy van jou bank verwag?

Volgens die ombudsman se gedragskode vir banke kan jy onder meer die volgende van jou bank verwag:

  • Jy kan verwag dat jou bank jou regverdig, billik en eties behandel en behoorlik inlig oor die voorwaardes wat verband hou met hul produkte en dienste in gewone taal wat jy kan verstaan.
  • Jou bank moet ook verseker dat sy personeel jou transaksies en versoeke so gou moontlik hanteer.
  • Jy moet ook binne minstens 20 werkdae, of vyf werkdae in die geval van kredietooreenkomste, in kennis gestel word van enige veranderings in die voorwaardes, fooie en heffings, die staking van produkte en dienste en die verskuiwing van persele.
  • Ontvangs van formele klagtes moet binne drie dae erken word en ondersoeke moet binne ʼn redelike tyd afgehandel word.
  • Dienste moet bekostigbaar wees en basiese dienste moet beskikbaar wees vir alle Suid-Afrikaners.
  • Banke moet ook voorsiening maak vir die behoeftes van gestremdes.
  • Jou inligting moet altyd as vertroulik hanteer word en mag nie gebruik word vir bemarking as jy nie daartoe ingestem het nie.
  • Banke mag nie teen jou diskrimineer op grond van huwelikstatus, geslag, ouderdom of ras nie.
  • Bemarkingsmateriaal wat banke uitstuur, moet duidelik, regverdig en billik wees en mag nie verbruikers mislei nie.
  • Banke moet altyd vooraf inligting bekend maak oor die koste en rente van ʼn rekening en jou inlig wat jou regte en verpligtinge is.
  • Jou rekening mag ook nie gesluit word sonder vooraf-kennisgewing by jou naaste bekende adres nie.
  • Jy moet gereeld bankstate ontvang sodat jy dit kan nagaan.
  • Jou bank moet help om misbruik van jou rekening te keer as jou inligting of kaart verlore raak.
  • Jy moet sonder moeite debietorders kan staak.

Dit is jou verantwoordelikheid:

  • Gee alle relevante inligting as jy vir krediet aansoek doen.
  • Sorg dat jy nie te veel skuld maak nie.
  • Betaal skuld betyds terug.
  • Lees die voorwaardes vir banke se produkte en dienste.
  • Verskaf besonderhede om jou identiteit en adres te bevestig.
  • Laat weet die bank as van jou besonderhede verander.
  • Meld foute op jou rekeningstate by die bank aan.
  • Sorg dat niemand jou geheime nommer en ander besonderhede in die hande kry nie.
  • Laat weet die bank dadelik van ongemagtigde transaksies op jou rekening.
  • Wees versigtig wanneer jy ʼn kitsbank (OTM) gebruik.

Wat van regstappe?

Jy kan te eniger tyd gedurende die proses om jou klagte op te los met regstappe begin, maar jy moet die ombudsman se kantoor in kennis stel sodat hulle nadere ondersoek na jou klagte kan staak.

Kla hier oor banke se produkte en dienste

Besoek die ombudsman vir Bankdienste se webwerf by http://www.obssa.co.za/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.