Bedreigde blomme, bedreigde taal

Vygie

Hierdie vygies (Lampranthus dunensis) staan langs die sypaadjie op Bloubergstrand.

Deur Barbara Potgieter

Talle Suid-Afrikaanse blomme verdwyn as gevolg van onder meer stadsuitbreiding, landbou en indringers. Verdwyn hul volksname ook uit ons woordeskat?

In die eerste helfte van die vorige eeu  skryf C. Louis Leipoldt met ontroering:

“En rooi rabas, en goudgeel stekeltee,

En rankende bitterappels in die sand,

En droedaskruid wat op die droogte teer,

Met sieketroos en wilde kamomille,

Graweelkruid, roosmaryn en ramenas,

Bospeper, velskoenblaar, en in die vlei

Die maerman sonder blomme, en boesmangras.

Nou, punt op punt en streek op streek, verloor

Die veld sy grys…” (Die Aanroeping)

Wie weet vandag nog waarvan die digter praat? Is hulle nog in die veld te vinde? Gaan kyk mens in die veldblomgidse, is die meeste blomme wat Leipoldt oor dig, nog daar en mens is verras as jy ʼn foto of tekening van een wat aan jou bekend is, so raakloop.

Die aanroeping  is maar een van talle van Leipoldt en ander se gedigte waarin veldblomme ʼn rol speel.

George Weideman skryf:

“… bedags strikdassies pietsnot en hongerblom

en die baldadigste geel varkensknol…”

in die siniese Blommekykers oor diegene  wat kom kyk en weer weggaan sonder werklike waardering.

Veldblomme en die natuur inspireer ook ander bekende skrywers, digters en liedjieskrywers, soos Sheila Cussons, TT Cloete, Petra Müller en die sanger Coenie de Villiers (..ruik ek katbos en ruik ek kambro…) en mees onlangs Antjie Krog (kinderboek).  Is daar jong mense wat so kan skryf?

Volksnaam versus Latyn

 Volksname is kultuurdraers en is soms stabieler as die Latynse weergawes.

Mense se kennis is geanker in die volksname. Hulle mag uitsterf, of voortleef soos ghwarrie en uni en karee en koekmakranka, al het die Khoi-San feitlik uitgesterf in die pokke-epidemie van 300 jaar gelede.

Afrikaanse blomname verskyn in blomtydartikels en die lyste waarmee die navorsers werk. Die meeste van die plantname op so ʼn lys bestaan nietemin net in Latyn. Dit is al manier waarop hulle wetenskaplik geëien kan word.

Die blommevelde van die Weskus lok baie toeriste in die lente. Dit is nie die hoofrede waarom ons veldblomme bewaar moet word nie. Piepklein blommetjies, riete en selfs gras, moet aandag kry. Daar is plante in ander dele van die land, waarvan talle ook bedreig is. Elke soort  blom op ʼn verskillende tyd en botaniste ken hulle dan uit aan blare en stammetjies al is daar geen blom nie.

Met beklemming verneem mens driekwart van die plante in die rooidataboek verskyn in die Blommeryk van die Kaap (Cape floral Kingdom), een van die ses blommeryke van die wêreld en die enigste binne-in een land, 9,000 spesies en 70 persent endemies.

Stadsuitbreiding is die grootste probleem

imgp0106

Stadsuitbreiding, industrie en landbou het die habitat van die die Kaapstadse fynbos weggekalwe. Slegs klein stukkies renosterveld is hier en daar sigbaar. Foto’s: Barbara Pogieter.

Meer as  driehonderd spesies word net in die Kaapse metropool bedreig en die 700  wat endemies  aan die Kaap is, word in ʼn mindere of meerdere mate bedreig.

In ʼn poging om hierdie toestand om te keer, het die Suid Afrikaanse Nasionale Biodiveristeit Instituut vrywilligers begin organiseer om op te tree as bewakers van rare en bedreigde spesies (CREW- Custodians of Rare and Endangered Wildfolwers). Na twaalf jaar, is daar twintig groepe wat oor die land versprei is. Die meeste van die spesies waaroor in hul jaarblad geskryf word, word ongelukkig vir die leek, geheel en al wetenskaplik benoem. Opleiding word wel van tyd tot tyd verskaf.

Resultate

Wetgewing dwing nou sedert Oktober 2016 grondeienaars en munisipaliteite om indringers te verwyder.

In 2015 het ʼn CREW-lid ʼn plantjie op Leeukop herontdek wat as moontlik uitgewis beskou is, naamlik Polycarena silenoides, lid van die Scrophulariaceae (leeubekkie/nemesia) familie. Nog meer onlangs is na 54 jaar weer ʼn viooltjie,  Lachenalia mcgregoriorium in die Hantam Nasionale Botaniese tuin by Nieuwoudtville gevind.

Die Tygerbergers is verlede jaar deur die plaaslike Rotariërs met ʼn spesiale ete vereer vir hul veldwerk en bydrae tot die botaniese rekord van die plantspesies van die fynbosbiome van die Wes-Kaap deur  eksemplare/monsters te katalogiseer en te berg. Hierdie vrywilligers het sowat veertig plekke met fynbos, wat renosterveld insluit, waarheen hulle telkens terugkeer om elkeen se plantlys te kontroleer en uit te brei.

Die besonderhede oor hoeveel van ʼn soort, ligging en moontlike bedreigende faktore word onder meer opgeteken. Foto’s word op iSpot gelaai en geëien. Sommige blomme lyk baie na mekaar en kom onder ʼn vergrootglas of moet selfs ontleed word om hulle te eien. Die lede maak aanbevelings by die owerhede en grondeienaars. Presies waar bedreigde spesies gevind is, word nie gepubliseer nie, weens die wesentlike gevaar van plundery. Hulle besoek ook sensitiewe gebiede wat nie vir publiek toeganklik is nie.

Sonder ʼn permit is dit onwettig om  blomme te pluk of versteur. Enigeen kan nietemin blomme afneem, selfs met ʼn selfoon wat vergroot en dit laat identifiseer.

Dit is tyd dat ons almal sal kennis neem. Volgens die jongste statistiek van SANBI is 32 blomspesies uitgewis in 2015 en 8 in die veld. Weg, vir altyd. Mens sou nog net daarvan kon lees.

“…Kokerboom en vingerpol/kantel stilweg in die stof; melkbos is a al hoeka dood-//maar iewers waar die dassies pis /blom sambreeltjie duiwelsbrood.” (G.W. In Boesmanland, Jan 1965).

Die droogte is nie die probleem nie. Dit is die mens.

 

Bronne:

Leipoldt,  C.L. ed. J.C. Kannemeyer. Die Aanroeping 1920 uit Versamelde gedigte. Tafelberg, Kaapstad 1980.

Manning, J. Namaqualand. Briza, 2008. Photo Guide to the Wildflowers of South Africa 2003 (Hersiene uitgawe nou ook in Afrikaans)

Swart, Madine. Flora se geheime taal. Stories oor Suider-Afrikaanse plante. Strandveld Boeke 2016.

CREW. Newsletter vol.12 April 2016.

Kearney, A. Vanishing Flora: A photographic tribute to South Africa’s endangered wild flowers. Metz Press 2012.

Marinus, E, in Skep SANBI nuusbrief, Someruitgawe 2016. [email protected]

Parker, R en Lomba, B. Renosterveld a wilderness exposed. LR Publishers 2009.  www.renosterveld.com

iSpot: http://www.ispotnature.org/communities/southern-africa

SANBI: http://www.sanbi.org   http://redlist.sanbi.org/stats.php#National statistics

http://www.plantzafrica.com/vegetation/fynbos.htm

Tygerburger 5 Oktober 2016.

Trinder-Smith, T. Kidd, M.M. en Anderson, F. Table Mountain National Park South African Wild Flower Guide 12, Botaniese Vereniging van Suid-Afrika 2006. www.botanicalsociety.org.za

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Help kla? ·

Sou wou hoor wat die regering en nadere se plan is met die aaklige pienk Pom-pom wat as indringer gekategoriseer is en amper onmoontlik is om uit te roei. Dis net plate en plate waar mens kyk en lyk my almal dink net ag dis pragtige ou velddblommetjies. Dit sal volskaalse voltyds werk kos om die gemors uit te roei maar niemand doen iets en dis iets wat weiding oorneem, inheemse plante verdring ens ens maar ja… die wat meot lees nie hier so ek kla seker verniet. Die wetgewing is daar – pas dit toe. Grondeienaars moet verantwoordelikheid begin neem en help om die goed uit te roei! hier is mos ‘n uitstekende werkskeppinskans ook maar niemand DOEN iets nie.

Danie ·

Baie dankie mooi artikel. Om een of ander akademiese of mode verwante rede is die teerputstaal (Afrikaans besmet met allerhande nie-Afrikaanse woorde) verhef tot een of ander spesiale maar valse onderskeiding.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.