Behoort dié diamant aan jou?

ʼn Grafiese voorstelling van ʼn diamant (Foto: Pixabay,TracyJaneShaw)

ʼn Grafiese voorstelling van ʼn diamant (Foto: Pixabay,TracyJaneShaw)

ʼn Vrou van Pretoria is op soek na die eienaar van ʼn “baie unieke en besonderse” diamant nadat sy dié steen tydens haar vakansie aan die kusdorpie Witsand in die Wes-Kaap in die badkamer van ʼn kampeerterrein opgetel het.

Thea Bester-Swanepoel het aan Maroela Media vertel haar ma, Ria Bester, het dié diamant gewaar waar dit op die munisipale kampeerterrein se badkamervloer gelê het.

Hoewel sy met dié oënskynlik waardevolle steentjie na al die kampeerders is, kon sy nie daarin slaag om die eienaar op te spoor nie.

“Toe sy die diamant sien, het sy dadelik besef dat dit nie sommer enige ring is nie,” vertel Thea. “Die diamant is baie spesiaal – dit het ʼn vreemde snit en ʼn ongewone kleur. Ek dink die eienaar verlang haar dood daarna.”

Sy sê hoewel hulle nie die ring laat waardeer het nie, blyk dit die ware Jakob te wees. “Ons het sommer op die internet gekyk na tekens waarvoor jy moet kyk as jy ʼn egte diamant wil uitken en al die tekens is daar dat dié steen baie waardevol is.

“Hy is minstens een karaat, indien nie meer nie, en hoort waarskynlik op ʼn trouring. Ons vermoed die steentjie het losgekom. As ek die eienares was, sou ek nie weet waar om te begin soek nie – al wat ek weet, is dat my hart baie seer sou wees indien ék die steen verloor het,” sê sy.

Indien dit jou ring is, kan jy hom terugeis deur die snit en die kleur van die diamant te identifiseer.

Stuur ʼn e-pos aan Thea na [email protected].

Die foto in die artikel is ʼn grafiese voorstelling van ʼn diamant en nié die verlore diamant wat in Bester se besit is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

evsbest ·

Ek sal graag wil weet of die eienaar gevind was. Sal weereens n storie van hoop wees.

Saartjie ·

Ek sal graag wil weet, is dit nou ‘n los diamant of ‘n ring – sy sê sy het die steentjie (diamant) opgetel, maar net daarna word verwys na die ring. Ek is nou bietjie deurmekaar.

Mimi ·

Vat my gedagtes ver terug, my oval silver diamant 1.06 verloor in Centurion in 1995.

Rikku ·

Ek hoop die eienaar word gevind. Ek kan my net indink hoe bly sy gaan wees.

E ·

Laat jou ring elke jaar deur die juweliers vir ń checkup gaan sodat die stene mooi vasgeheg word, sou dit begin loskom.Glo my dis nie lekker as jy vir jou ring kyk en die diamant het uitgeval nie!
Gelukkig het ek myne 2 uur die oggend in die lee bad gekry!! kon netsowel weggespoel het.Ja ek het gesoek van 11uur die aand en hom eers 2 uur die oggend gekry.
Ring se kind gaan nou elke jaar vir ń checkup, ek sal dit nooit in my lewe kan vervang nie. Hoop die eienaar word opgespoor.

Ouma Mossie ·

Al was dit my diamant, sou ek hom nie wou terughê nie, want in hierdie land kan jy nie meer bekostig om ‘n seelring aan jou vinger te dra nie want die rowers sny eenvoudig jou vinger af as jy nie jou juwele wil oorhandig nie.

MM ·

Ouma Mossie, ek stem saam en dit is baie wyse raad. Ekself het alles uitgedeel wat iets ‘werd’ was. Dra nou net goedkoop goedjies. Sierade kom in alle vorme voor, en ek is seker u tel onder hulle

Suretha ·

Ek wonder of dit ooit ‘n regte diamant is…. ek is seker as iemand so iets verloor het sou hulle dit agtergekom het en daarna begin soek het. Selfs mense wat reeds vertrek het, sou mos die kampterrein geskakel het om navraag te doen as hulle later besef het dat hulle ‘n diamant verloor het…? Laat ‘n juwelier eerder seker maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.