[Foto’s] Bekendes verwelkom pienkvoete in 2016

MD en Denise Greyling se eersteling, Divan. Foto: Facebook via MD Greyling

MD en Denise Greyling se eersteling, Divan. Foto: Facebook via MD Greyling

Verskeie bekendes verwelkom in 2016 pienkvoete in die huis.

Die bekende Afrikaanse sanger en radio-omroeper, MD Greyling, en sy vrou, Denise, het Woensdagaand vir die eerste keer ouers geword.

Dié paartjie het ʼn gesonde seuntjie in die lewe verwelkom. “Ons is dankbaar dat alles goed verloop het. Hy is 3,5 kg en heeltemal gesond,” het MD vertel.

Hulle het verskeie naamboeke gekoop om vir dié fris knapie ʼn naam te kry. “Ons het deur al die naamboeke geblaai, maar kon nie iets kry waarvan ons hou nie. Ons het uiteindelik op Divan besluit wat ons nie in ʼn naamboek gekry het nie – dit voel so asof die naam by hom pas.”

Denise sterk nog tot 9 Januarie aan in die hospitaal ná haar keisersnee. “Die mense in die hospitaal help ook nog om na Divan om te sien. Dit is ʼn goeie leerskool vir ons omdat dit ons eersteling is,” het MD skertsend vertel.

Hulle is egter reeds voorbereid daarop dat Divan die huis gaan oorneem. “Ons lewe het onherroeplik verander. Dit het eintlik verander van die dag dat ons gehoor het ‘ons’ is swanger. Voor troues en kinders doen mens alles vir jouself, nou draai my lewe van dag een om hom,” het hy vertel.

MD verwag ook dat dié ervaring sy musiekloopbaan gaan beïnvloed. “Liedjies skryf is ʼn unieke proses. Jy skryf eintlik werklik oor alles wat in jou lewe aangaan. Ek kan net voorspel dat Divan se geboorte my hele lewe, asook my musiek, gaan beïnvloed.”

Aanhangers kan die jaar nuwe musiek van hom verwag. “Ek probeer om nie nee te sê vir enigiets nie. Daar is beslis een of twee enkelsnitte wat vanjaar die lig gaan sien.”

Die Vallei van sluiers-aktrise, Jana Fischer, het ook Dinsdagmiddag foto’s van haar swanger magie op Instagram gedeel. Sy is ook bekend vir rolle in 7de Laan en Villa Rosa. Die aktrise het aan Sarie.com gesê sy is reeds vyf maande swanger en baie opgewonde vir dit wat voorlê. Sy en haar man, Stephan Niehaus, verwag die pienkvoet in Mei vanjaar.

Ander bekende persoonlikhede wat ook swanger is, sluit in Jo-Ann Strauss, Riana Nel en Sorina Erasmus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.