Beskerm jou só teen grypdiewe

(Argieffoto)

Motoriste moet op hul hoede wees vir grypdiewe en die beste manier om dit te hanteer is om ingelig te wees.

“Die mening dat diewe toeslaan waar hulle konfrontasie kan vermy, is lank reeds iets van die verlede,” het Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker, gesê.

“Volgens die 2018 Victims of Crime Survey het nagenoeg 280 500 rowe in 2017/’18 buite huislike omgewings plaasgevind. Dit noodsaak Suid-Afrikaners om voltyds paraat te wees en praktiese stappe te doen om hulle risiko om geteiken te word so ver moontlik te probeer verlaag.”

Volgens Coetzee kan jy jou risiko om deur grypdiewe geteiken te word heelwat verlaag deur die volgende wenke toe te pas:

Fokus: Skenk genoeg aandag aan jou omgewing. Moenie jou aandag laat aflei deur jou selfoon, verstelling van die radio, opknapping van grimering, omsien na kinders, ensovoorts nie. Wees veral op jou hoede en kyk baie rond in plekke waar verkeer stadig beweeg.

Sluit en maak toe: Moenie met oop vensters en/of deure wat nie gesluit is, ry nie. As die venster móét oop, hou dit op ’n skrefie oop.

Pak weg: Vermy dit om waardevolle items op die sitplek langs of agter jou te los.

Laat ruimte: Moenie so naby aan die voertuig voor jou stop dat jy geen wegkomkans het wanneer jy gekonfronteer word nie.

’n Ekstra laag beskerming: Veiligheidsfilm (anti‑smash and grab) as beskerming op jou voertuig se ruite is ’n baie slim keuse.

Vertrou niemand: Moenie jouself ’n rat voor die oë draai en dink dat mense wat “nie soos boewe lyk nie” jou geen skade sal aandoen nie.

Wees seker: Wanneer jy nie 100% seker is van jou roete nie, sal jy heel moontlik moet stadiger ry of moet stop om jou te heroriënteer. Dit maak van jou ’n maklike teiken.

Vermy gevaarareas: Vermy gebiede wat as misdaad-heetkolle aangewys is en moenie te gerus wees dat nie-heetkolle heeltemal veilig is nie.

Tydsberekening: Skat jou aanloop na ’n verkeerslig of jou saamsmelting met ander verkeer só dat jy nie heeltemal tot stilstand hoef te kom nie.

Meld aan: In die belang van jou eie, sowel as ander motoriste se veiligheid, is dit slim om enige verdagte individue en aktiwiteite aan te meld.

“Seker die belangrikste ding om te onthou is dat jou lewe baie meer werd is as jou besittings, so as hierdie voorsorgmaatreëls nie die noodlot afweer nie, maak seker dat jy eerder saamwerk as om teë te stribbel, veral wanneer die rowers gewapen is,” sluit Coetzee af. “Sorg ook dat jou voertuig en al die waardevolle items daarin, sowel as dié wat jy aan jou dra, deeglik verseker is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

IK ·

Ek het al voorheen my wenk gegee hieroor maar MM sien nie kans om dit te toon.?

Frank ·

Absoluut wonderlike geleentheid vir ‘n ‘entrepreneur’ om ‘n net of sif te ontwerp wat oor die vensters binne of buite te pas… amper soos die ‘window socks’?

John ·

Dit is belangrik om jou sesde sintuig te glo… nie jou angsgevoel dat jy te laat by die vergadering of partytjie sal opdaag nie en daar ook nie toelaat dat lekker drankies jou te jolig maak dat jou goeie oordeel oor die tyd om te verkas, jou in die steek laat nie. Die kamma-motoroppassers is van die grootste euwels wat in SA toegelaat word. Mense voel gerus en let nie op of die motor gesluit is nie. Hulle wil alewig by staan as mense die aankopies in die bak laai en die anties hou van die gekloek-koel van die skynheilige ou mans. Oppas… omkoop-inligting werk nie net vir parlementarièrs nie.

Melt Olckers ·

Die probleem is met die aanmelding van verdagtes aan die Polisie omdat die Polisie glad nie proaktief optree nie, maar slegs reaktief. Daar moet eers ‘n misdaad wees voordat hulle iets doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.