Beskerm só jou hondekinders teen klappers

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Nuwejaarsvieringe is binnekort op pad en hoewel dit gewoonlik ʼn heerlike kuier is, is dit vir die diere nie altyd so aangenaam nie, veral as klappers deel van die partytjie raak.

Thea Opperman, ʼn vrywilliger by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) sê dit is eintlik teen die wet om klappers te skiet, maar min mense steur hulle daaraan. Sy deel nuttige wenke oor hoe om diere, maar veral honde, veilig te hou in dié tyd.

  • Kry kalmeerpille by jou veearts. Thea meen dit is nie die ideaal nie, maar dié opsie sal jou honde salig onbewus laat vir die res van die aand. Sy sê daar is selfs natuurlike produkte beskikbaar as die chemiese opsie jou skrikkerig maak.
  • Hou jou honde in die huis. Sommige honde sal rustig raak wanneer hulle naby hul mense is.
  • Sit die televisie lekker hard aan, of speel rustige musiek. Honde se gehoor is so fyn, dat hulle steeds die klappers sal hoor, maar ʼn rustige atmosfeer in die huis kan ook help.
  • Bou vir hulle ʼn nessie. Sommige honde se eerste reaksie is om te vlug en te gaan wegkruip en dit is juis wanneer hulle seerkry. Bou vir hulle ʼn veilige beskutting in die huis of in die motorhuis. Thea en haar gesin gebruik sommer ʼn klomp kussings om dié nessie te bou.
  • Daar is ook oulike produkte, soos kalmeer-jassies, wat kan help om jou dier rustig te hou.
  • Beveilig jou heining en hekke, indien jou honde dalk die pad wil vat.

Thea sê die ideaal is om eintlik die samewerking te hê van die hele buurt om nie klappers te skiet nie, of om mense aan te moedig om dit op ʼn plek te doen wat nie naby ʼn residensiële gebied is nie. Wanneer jy op ʼn dier afkom wat verskrik is, is sy huis gewoonlik nie te ver nie. Thea vra mense om dié diertjies in te neem en te versorg of na die naaste DBV te vat. Baie van die DBV se takke sal oop wees in dié tyd.

Besoek die DBV se webblad hier vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jan ·

Die laaste paragraaf is die antwoord, MOENIE KLAPPERS SKIET NIE! Laat eerder die sjampanje proppe klap, as julle dan iéts wil laat klap, of klap hande vir die nuwe jaar.

Samewerking ·

Mense die klappers is so onnodig! Dit ontstig ons diere, oumense en klein kindertjies! Dink voordat julle klappers/vuurwerke koop dis n mors van geld gegewe die huidige ekonomiese toestand.

Peet ·

Ek is so bietjie skepties oor die storie dat klappers ‘n ernstige effek het op honde of ander diere. Byvoordbeeld, Hoëveld don-derstorms is baie hard en raserig en kom amper weekliks voor in die somer maande, en tog is al die diere op die Hoëveld nie senuwee wrakke nie. Net so, die Weermag en Polisie se honde en perde wat gereeld aan ontploffings of geweervuur blootgestel word, sonder enige newe effeke. So mens moet uiteraard sensitief wees teenoor jou diere, maar as die bure ‘n paar klappers skiet dink ek nie dis die einde van die wêreld nie.

Morne ·

Peet, ons is in hoëveld en ons honde raak bang vir donderstorms, maar raak regtig histeries oor nuwejaar met die klappers. Dit is erg as hul jou aankyk ons sit te stop en jy kan niks doen nie. Polisie / weermaghonde is sekerlik opgelei en gewoond aan die geraas.

Willie ·

Weermag en polisiehonde word opgelei om aan die harde geluide gewoond te raak – so ook jaghonde. My drie honde – Jack Russells – word ook mal van swaar weer. Persoonlike teenwoordigheid by die honde met die harde TV/radio-klanke is werklik n teenvoeter vir klapper-knalle.

Johan ·

Ai Peet. Klappers is verskriklik vir honde. En die probleem is nie dat hulle bang word nie, maar dat hulle erg seerkry. In Kempton het n hond laasjaar oor pallisade heining probeer spring en is so dood. N ander was vasgemaak en het steeds oor heining gespring en toe aan sy nek gehang tot hy dood was. Ander het al deur vensters in die huis probeer spring. Donderweer is heeltemaal iets anders en deel van natuur.

Anel ·

Ek het 2 honde wat ongelooflik bang is vir donderweer en dan word dit vererger as daar klappers is.
Polisiehonde word getoets en as hulle bang is vir geweerskote word hulle nie opgelei nie.

Sien Rooi ·

Peet, ek is so bietjie baie skepties oor of jy weet waarvan jy praat. Kom verduidelik bietjie jou redenasie aan my husky wat ñ gat reg deur ñ soliede hout deur gekrap/kou het om weg te kom van ons bure se klapper. Asb, weerhou jouself daarvan om diere aan te skaf. Duidelik verstaan jy hulle nie.

Qwert ·

Nie almal bly op die hoëveld nie en nie almal het weermag en polisie honde en perde nie… Al ooit daaraan gedink? Ek is nie volstrek teen klappers nie, maar gaan skiet dit buite woonbuurte en residensiële areas as jy dit wil doen. En ek weet van ‘n magdom honde, insluitend ons s’n, wat bang is vir swaar weer, grassnyers s’n stofsuiers. Net omdat jou honde nie bang is nie, maak dit nie dat almal s’n rustig is met alles nie.

Ig ·

Peet,of jy is onkundig of jy het nie diere nie.Donderweer is n natuurlikke verskynsel en diere is deel van die natuur.Doen jouself n guns en besoek jou naaste veearts om die beserings te aanskou wat diere opdoen tydens klapper geskietery.

RM ·

lg ek stem 100% saam met jou!! En daar is baie ander woorde wat ek aan kan dink behalwe onkundig wat ek nie hier sal noen nie…

Pixie ·

Peet, waar val jy nou uit? Natuurlike geluide, soos donderweer, kom meer gereeld voor en hoe meer jy of jou diere aan ‘n geluid blootgestel word, hoe ‘gemakliker’ word jy daarmee. Skiet jy weekliks klappers om jou diere gewoond te maak aan die geluid? ‘n Donderstorm word verder voorafgegaan deur ‘waarskuwings’ soos veranderinge in die wind en lugdruk wat mens en dier op die donderweer ‘voorberei’. Dit is NIE die geval met vuurwerke nie! Diere wat tussen 3 weke en 3 maande gereeld op ‘n POSITIEWE manier aan ‘n verskeidendheid harde geluide soos donderweer, vuurwerke, vuurwapens, treine wat ‘fluit’, ens blootgestel word sal in alle waarskynlikheid minder sensitief wees vir harde geluide later in hul lewens. Reken jy regtig dat die weermag en polisie net mooi niks doen om hul diere voor te berei op harde geluide nie en los hulle hul diere alleen tydens bv skietgevegte? Gaan kyk weer mooi na al die fotos van diere wat beseer word weens angs tydens die skiet van klappers of gaan besoek ‘n veearts vir ‘n dag na ‘n aand van verskeie vuurwerkvertonings en skrik wakker!!

Noempie ·

Vir my die ergste is. Die ouens wat die meeste klappers skiet is soms die wat dit die minste kan bekostig. Ook is daar gebiede uitgeken waar geskiet kan word maar nee, ons skiet sommer by ons huis. Saterdag gaan weer soos Baghdad klink. Dit is hoekom ons maar by die huis saam ons agt hondekinders bly. Hierdie jaar het ons ook vroegtydig gaan pilletjies kry by die veearts om hulle te kalmeer.

M'Lady ·

VERBIED ALLE VUURWERKE VIR EWIG. DIS NET N ONDING. Ja en ek skree.

Johan ·

Raad wat ek wil gee is dat jy moet sorg dat jou honde veilig is en hulle heeltemaal moet ignoreer as hulle bang is (ek weet dis moeilik). As jy hulle vryf of liefde gee as hulle bang is leer hulle sielkundig om bang te wees vir geraas. Beste is dat hulle by jou is en kan sien hoe jy die klappers hanteer. As hulle sien jy reageer nie sal hulle uiteindelil leer dat hulle dit ook maar kan ignoreer. (hul verstandjies is maar klein en hulle let op wat jy doen)
Hou honde maar in huis (of as dit te erg word en jy slaap nodig het) sluit hulle maar in garage of kamer toe waar hulle nie hulself kan seermaak nie.

RM ·

Ag Peet.. waar wil jy wees??!! Agv mense soos jy dat daar soveel diere wegraak en seerkry oor nuwejaar..

Petro ·

Morne, ek stem volkome saam met jou. Ek het ‘n Dalmation en German Sheppard gehad. Die Dalmation was baie bang vir klappers en donderweer, die German Sheppard het dit nie eers gepla nie. Moes altyd die Dalmation in die huis bring dat sy rustiger is. Alle honde verskil nie een reageer dieselfde nie. Nou het ek ‘n Labrador wat histeries raak vir klappers en donderweer en bewe van vrees. Ek glo ook nie aan ‘n pilletjie nie hou die hond in die huis dat sy net rustiger raak.

sarie van heerden ·

Kalmeerpilletjies is nie goed vir diere (honde) nie want dit laat hul bloeddruk val. (Luister wat dr Platzhund daaroor se en sekerlik weet hy waarvan hy praat). Bang vir die donderweer is iets anders want eers hoor die dier ‘n gerommel van die weer en dan kom die slag. Hul is dus voorbereid dat die natuur met hul kom “gesels”. Wees maar goed vir ‘n weerlose dier wat uitgelewer is aan dit wat hy van die menseras ontvang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.