Beweging besig om kulturele vryheid ‘n werklikheid te maak

 flip-buys-reint-dykema-2.jpg

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging Foto: Reint Dykema, Solidariteit

[promosie-artikel]

Die regering se miskenning van grondwetlike taal- en kulturele ruimtes is ‘n verbreking van die 1994-skikking. Dit is die mening van Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Buys het gepraat by ‘n beraad van die FW de Klerk Stigting oor die toekoms van multikulturalisme in Suid-Afrika.

Regter Albie Sachs, Mathews Phosa, Rhoda Kadalie en oudpresident FW de Klerk het ook by die geleentheid opgetree, wat in samewerking met die Duitse Konrad Adenauer Stigting aangebied is.

Buys het gesê die ANC probeer om die multikulturele werklikheid van die land op grond van hul monokulturele ideologie te omskep. Dit veroorsaak ‘n groeiende gaping tussen grondwetlike en politieke ruimtes vir taal- en kultuurgemeenskappe. “Die ANC se verskraling van nasionale eenheid tot inlywing by die meerderheid is ‘n aantasting van groepe soos Afrikaners se reg op vryheid, gelykheid en menswaardigheid … Dit het reeds tot onherstelbare skade aan Afrikaners se grondliggende regte en belange gelei,” het Buys gesê.

Hy het beklemtoon dat die ANC monokulturalisme op SA wil afdwing, teen die wêreldneiging na multikulturalisme. Volgens Buys is die grootste vraagstuk waarmee die wêreld te kampe het is hoe om die verhoudinge tussen verskillende gemeenskappe te reguleer. “Daarteenoor probeer die ANC deur sosiale ingenieurswese verskillende groepe in een nasie indwing”. Die ANC se ideologie van transformasie waarvolgens alles in die land verteenwoordigend van die bevolkingsamestelling moet wees, beteken dat elke deel van minderhede se lewens deur die meerderheid beheer moet word. “Dit is ondemokraties en ongrondwetlik as ‘n party selfs met net 51% van die stemme oor 100% van die mag beskik,” het Buys gesê.

Hy het kulturele vryheid as oplossing vir die glybaan na monokulturalisme voorgestel, ingevolge riglyne van die Verenigde Nasies oor oplossings vir multikulturele lande. “Demokrasie sonder kulturele vryheid vir minderhede beteken demokrasie net vir die meerderheid,” het Buys gesê. Daarom sal die Beweging alle grondwetlike ruimtes benut om kulturele vryheid te verwesenlik.

Hy het die noodsaaklike rol van gemeenskapsorganisasies in die bevordering van kulturele vryheid beklemtoon, en gesê dit kan in werking gestel word deur kulturele skikkings met die regering, ‘n handves van kulturele regte, of deur sterk selfdoen instellings soos die Solidariteit Beweging wat bv. Akademia tot ‘n wêreldklas universiteit gaan uitbou. Hy het benadruk dat hoewel die Beweging bereid bly om met die regering oor knelpunte te praat, hulle nie gaan wag vir toestemming om praktiese oplossings te skep nie. “Ons bly daartoe verbind om ‘n toekoms te skep waar Afrikaners ook blywend vry, veilig en voorspoedig kan leef, tot voordeel van die land en al sy mense.”

Lees volledige toespraak hier

Jý kan die Solidariteit Beweging help om aan ʼn beter toekoms te bou. SMS die woord ONSBOU na 34802 (SMS’e kos R2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.