Blinde meisie (7) vertel hoe sy fliekkarakters sien

Emily vertel hoe die karakters van haar gunstelingfliek vir haar lyk al is sy blind. Foto: Skermskoot uit die video.

Emily vertel hoe die karakters van haar gunstelingfliek vir haar lyk al is sy blind. Foto: Skermskoot uit die video.

ʼn Hartroerende advertensie waarin ʼn sewe jaar oue blinde meisie die 1939-fliek The Wizard of Oz beskryf, roer behoorlik die hartsnare.

“Elkeen het ʼn gunstelingfliek. Dit sluit agt miljoen Amerikaners met siggestremdhede in,” lui die woorde in die advertensie.

Dié advertensie het ten doel om die organisasies Comcast en Xfinity se klankgids vir blinde TV-kykers te adverteer. Die gids vergemaklik dit vir hulle om TV te kyk deur hulle met ʼn stem te begelei met inligting oor onder meer programtitels, watter televisiekanaal besoek word en wanneer programme wys.

Die sewe jaar oue blinde meisie, Emily, sê blinde mense het ʼn heel ander aanslag tot televisie kyk as mense met normale sig. “Alle beelde word gebou rondom geheue, gehoor, gevoel, reuk, klank of smaak. Omdat ek net die TV kan hoor en nie sien nie, kan ek die fynste geluide hoor.”

Sy beskryf die karakters uit The Wizard of Oz heel anders as dié waaraan kykers gewoond is. Die karakters in die advertensie word deur ʼn groep stelontwerpers, kunstenaars en vervaardigers geskep en presies uitgebeeld soos Emily haar dit indink. “In my fliek het Tin Man ʼn groottoon so groot soos ʼn huis. Die leeu is so klein soos ʼn speelding en het gewebde eendpote.”

Tom Wlodkowski, visepresident van Comcast, sê die klankgids kan ʼn heel ander wêreld vir mense met siggestremdheid ontsluit. “Dit is ʼn geleentheid vir siggestremde mense wat mal is oor flieks en televisie wat nie voorheen die volle glorie daarvan kon geniet het nie. Dit maak dit baie toegankliker as voorheen.”

Kyk die advertensie hier onder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.