Blommekind met ʼn goeie kop vir sake

Ulricke-Laubscher-Carla-Windt

Ulricke Laubscher, eienaar van Wooden Lace. Foto: Carla Windt, Mooi Photography.

’n Moderne blommekind. Dís hoe ’n mens Ulricke Laubscher, skeppende juwelier en eienaar van die onderneming Wooden Lace, in ʼn paar woorde op die oog af sou opsom. Dié 28-jarige blondekop het egter ʼn slim kop vir sake op haar skouers en is nou al drie jaar heeltyds haar eie baas.

“Ek is ʼn entrepreneur en ek laat nie geleenthede verbygaan nie,” sê sy pront. “Sedert 2013 het ek my eie onderneming op die been gebring én ek is trots om te sê ek besit my eie lasersny-(laser cut) fabriek in Johannesburg,” vertel sy met ʼn glimlag.

Agtergrond

“Ek het my liefde vir ontwerp en mode by my ouers gekry. Hulle is baie kreatiewe mense en daar is níks wat hulle nie self kan maak nie!” vertel sy uitbundig. “Ek het op ses my eerste naaldwerkmasjien gekry en van kleins af saam met my ouers hul produkte by vlooimarkte uitgestal. Hulle is my grootste inspirasie!”

“Ek is ʼn Pretoriase meisie en het my skoolloopbaan daar voltooi. Ná skool het ek my graad in modeontwerp verwerf,” sê Ulricke. “Ek het ná my studie by ʼn bekende tydskrif as assistent gewerk. Daar het ek só baie geleer. Ek het ook twee jaar by ʼn modehuis gewerk. Dit is in daardie tyd dat ek geleer het wat om te doen, én wat om nie te doen nie, as jy jou eie besigheid besit. Ek het besluit ek wil ʼn kans waag en my eie ding doen.”

Wooden Lace

Ulricke gesels passievol oor wat sy doen. “Toe ek Wooden Lace in 2013 begin het, sou ek nie kon droom dat dit ná slegs drie jaar so suksesvol sou wees nie!”

“Die belangrikste ding wat ek vir myself kon doen, is om my ervaring wat ek as assistent in die modebedryf opgedoen het  tot my voordeel in te span. Ek is baie dankbaar vir die kontakgeleenthede en sakevaardighede wat ek aangeleer het, want ek kan dit nou toepas op my eie onderneming,” vertel sy geesdriftig.

“Wooden Lace se hooffokus tans is juwele wat ʼn blywende indruk skep,” sê Ulricke. “Ek maak gebruik van hout, en het dit onlangs begin kombineer met koper en brons. My kliënte is mal daaroor en ek het soveel positiewe terugvoer ontvang,” vertel sy verder. “Ek glo ʼn goeie entrepreneur moet elke dag ʼn stappie vooruit dink en innoverend wees.”

Sy put haar inspirasie vir haar ontwerpe uit die natuur, sê sy. “Baie van my juwele is blaarmotiewe, abstrakte diere en elke ontwerp is anders en eksentriek,” vertel sy. “My sussie, Carmen Boshoff, is my grafiese ontwerper en ek en sy werk lekker saam aan nuwe idees.”

Ulricke kan enige juweelstuk uit hout optower, maar borsspelde, ringe, oorbelle en hangertjies is nie haar enigste skeppings nie. Sy maak ook juwele op bestelling vir mense se spesiale behoeftes, soos troues, asook sonbrille en blommekranse. “Ek wil ook ʼn dekorreeks begin, maar wat ek beplan, is vir eers ʼn geheim,” vertel sy met ʼn vonkel in die oog.

Winkels

“Ek verskaf tans my juwele aan 18 winkels oor die hele land,” vertel sy trots. “My hooftak is in Sandton, Johannesburg, in die Radisson Blu-hotel en ek het ook ʼn kleiner tak binne-in Ubella Beauty Boutique in Centurion.”

“Ek is baie krities oor hoe ek my produkte vertoon in my winkel. Dit is vir my belangrik om ʼn sekere gevoel by my kliënte te skep wanneer hulle my winkel besoek. Dit is nie speletjies om jou eie winkel oop te maak nie,” sê sy ernstig.

“Ek het in albei takke blomme wat uit die dak hang en ek het die rakke waarop die produkte uitgestal word ook ontwerp met die Wooden Lace-handelsmerk,” vertel sy. “Ek glo my kliënte moet ʼn spesiale ondervinding hê wanneer hulle my winkels besoek.”

Bekende gesigte

Ulricke het ʼn hele rits bekendes wat sy vir haar promosieveldtogte gebruik. Aktrises Donnalee Roberts, Leandie du Randt, Nadia Beukes en Amalia Uys smeul gereeld met Wooden Lace-produkte voor die kameras.

“Ek is baie kieskeurig wanneer ek besluit watter name om aan my handelsmerk te koppel. Die meisies wat ek gebruik, straal almal dieselfde positiewe energie uit,” sê Ulricke. “Hulle is almal mal oor die produk en dra dit gereeld, omdat hulle in die handelsmerk glo. Dít is vir my baie belangrik. Natuurlik moet die meisies ook stylvol wees, grasie hê, ’n bietjie laf kan wees tydens fotosessies en net die handelsmerk op ʼn opregte en lojale manier ondersteun.”

Nadia het ook as aanbieder tydens die sewende seisoen van kykNET se Boer soek ʼn vrou-reeks die juwele gedra en dit het haar onderneming ʼn groot hupstoot gegee, vertel Ulricke. “Tannies het my negeuur in die aande, net ná die program, gebel om te sê hulle soek Nadia se oorbelle of hangertjie. Van hulle het my laat weet hulle is verlief op Nadia se juwele en wou weet hoe hulle dit dadelik in die hande kon kry,” lag Ulricke. “Nadia straal beslis ʼn pragtige energie uit en sy het my met elke program trots laat voel.”

Nadia self kan nie uitgepraat raak oor Wooden Lace se reis saam met haar op die plaaspad nie. “Die hout het ‘n natuurlike gevoel wat inpas by die omgewing en die ontwerpe is beslis kreatief genoeg om vele kykers, boere en vroue, se aandag af te trek,” glimlag sy.

Wenke vir toekomstige entrepreneurs

Ulricke het haar paadjie na sukses vir haar oopgekerf, maar het baie mense se hulp en insette nodig gehad langs die pad. Sy gee toekomstige entrepreneurs die volgende wenke:

  • Kry genoeg ervaring. Gaan vir ’n internskap by ’n plek waar jy kan leer en gryp geleenthede en kontaksessies aan.
  • Kry ’n mentor, iemand wat jou inspireer en wat wys is as dit by sake kom. Al is die jonger generasie meer tegnologies aangelê, is daar steeds grondbeginsels wat toegepas moet word in enige onderneming.
  • Moenie bang wees om foute te maak nie. As jy nie foute maak nie, beteken dit jy is in ’n gemaksone. Deur foute te maak leer jy wat werk en wat nie. Gaan kyk waar is daar ’n gaping in die mark, doen marknavorsing en wees innoverend!
  • Glo in jou produk. So maklik soos dit. Kliënte sal gou aanvoel as jy iets aan hulle probeer afsmeer. Ja, jou produk moet ook vir homself praat, maar daardie liefde en passie binne jou kan niemand vervals nie.
  • Strewe na sukses, maar hou jou voete op die grond. Jy gaan bereid moet wees om jou alie af te werk, jou kompetisie gaan dit definitief doen! Vra die vraag aan jouself: “Wat maak my anders?”

“Ek het ’n groot liefde vir enigiets wat anders is,” vertel Ulricke. “Elke ontwerp praat met jou en het ’n storie.”

Besoek Wooden Lace se webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.