Bly lewe, asseblief!

Ivor Swartz (Foto: Facebook)

Deur Ivor Swartz

Ek onthou die eerste keer toe ek gedink het ek wil doodgaan – sonder wreedheid of siekte wou ek net ophou bestaan het, want iets in my kop het onophoudelik gebewe en ek kon nie slaap, of vir my beste vriend vertel dat Christene ook aan depressie kan ly nie.

Iets daarvan moet geneties wees, want my suster het nooit weer recover ná haar man haar gelos het vir ons niggie nie, en elke keer wanneer ek myself haat, dan hoor ek my suster se stem in my kop, “Moet ek gaan met leë hande, my broer?” Dan weet ek daar is meer as genoeg redes om te bly as om te gaan. Dan weet ek daar was al vuil voetspore op die mooiste maan. Maar steeds staan hy elke aand uit in volle glorie en gee lig en lewe aan die donkerste kamers.

So wil ek vir jóú vra, indien jy oorweeg om op te hou skyn: BLY LEWE, ASSEBLIEF!

Partykeer voel dit of ek vir té lank op een plek stilstaan, maar ek weet ek het al twee keer in dieselfde rivier geswem – al hoor ek ook wat. En ek weet jy voel of jou swanesang se melodie vals is, en niemand gaan inskakel by jou Zoom-begrafnis nie, maar moet nie ophou soek na “Lisa se klavier” nie, want iewers is iemand besig om te droom oor puzzles bou saam met jou, en die warm gevoel van huisbou sonder ʼn trust fund.

BLY LEWE… ASSEBLIEF, BLY LEWE!

Jou gebroke glimlag is meer werd as wat jou seer jou laat glo, en ek is moer jammer niemand het jou geleer om gemaklik te voel in jou lyf nie. Maar ék het regtig begin lewe die dag toe ek verstaan, “I’m not broken and in need of fixing; I’m hurt and in need of healing”.

Want ʼn mens se brein staan nie los van jou lyf nie en alles wat in jou kop spoel, word ook aan jou lyf gevoel, en selfs bruised en battered soos ʼn ou Datsun 1400-bakkie is jy ook gemaak om te hou en om vasgehou te word. So ek weet nie hoekom God so stil is wanneer jy in jou kussing huil en hoop en skree vir ʼn ligter las om te dra nie, want ek kan sien jou skouers wil nie meer nie. Maar jou hart kan nog.

Gee dit wat swaar op jou rus oor en BLY LEWE… ASSEBLIEF, BLY LEWE!

Daar’s nog baie nuwe ice-cream flavours om te ontdek – behalwe as jy laktose-intolerant is soos ek – dan is jou opsies maar limited.

Is ons almal nie maar intolerant om grace met onsself te hê nie?

Is ons almal nie maar liewer vir ander as vir onsself nie – want dis makliker om God in ander te sien as in jouself.

Dis makliker om eerlik te wees met ander en vir jouself te lieg, en dan stukkie vir stukkie die lewe uit jou lewe te laat suig.

Jou plafon is al dik gepleister van jou gebede wat nie verder kan skiet as die dowwe geel lig van jou slaapkamer nie – en almal wil hê jy moet harder bid, maar jy kan nie eens meer asemhaal nie.

Ek weet dit.

Ek was al daar, en verder.

“Breek my, of gee my ʼn breek”, het ek al diep in my liturgiese meditasieritmes getatoeëer, maar God was steeds stil, vriende ver, en die dood die enigste late-night party wat ek wou join.

Maar hier is ek nou.

My brein bewe soms steeds – maar my hart bons Coldplay-kleure van tasbare oomblikke van vreugde.

Omdat ek bly lewe het.

En, nes ek, sal jy ook weer die soet klank van uit-jou-maag-uit-lag vind.

Jy sal ook weer jou liefde vir jouself vind.

Jy sal ook weer goedheid en guns kort op jou hakke sien loop.

Tot dan… ASSEBLIEF, BLY LEWE!

  • Ivor Swartz is ’n jeugpredikant by die NG Kerk Oosterlig en skrywer van die boek Die verlore seun vannie Gaatjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Prontuit ·

wow stof tot na denke – ek wens net soveel meer mense wat dit nodig het vandag kan dit hoor hoop die boodskap bereik ‘n paar mense vandag deur die hulp van die Heilige Gees. Dankie vir die vandag

Althes ·

Ivor Swartz, God het jou gestuur vir die jeug maar ook vir die ouer mense.
Ek wens jy kon vermenigvuldig dat jy soveel as moontlik mense jou stem kan hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.