Bly só veilig op die paaie die vakansie

teerpad-pad-paaie-platteland

Argieffoto (Foto: Nextvoyage/Pexels.com)

Daar is reeds sedert die begin van Desember talle mense op ons land se paaie dood weens padongelukke. Dit sluit onder meer in die tien mense wat verlede Vrydag dood is toe die taxi waarin hulle gery het teen koeie gebots het in Mbombela, Mpumalanga.

Die AA het Donderdag in ʼn verklaring gesê daar is in 2016 altesaam 14 071 mense op Suid-Afrikaanse paaie dood. Gedurende die feestyd verlede jaar (van 1 Desember 2016 tot 9 Januarie 2017) is 1 714 mense dood.

Die AA moedig vanjaar motoriste aan om veiliger op die land se paaie te wees. “Elke dag bring nóg ’n storie van ’n gru-botsing iewers in die land wat tot talle sterftes en beserings lei. Die feestydverkeer sal binnekort toeneem en motoriste moet hulle gedrag op die pad verbeter, anders sal die getal padsterftes net styg,” het die AA in ’n verklaring gesê.

Die AA het gesê dit is belangrik dat motoriste die padreëls gehoorsaam, seker maak dat hulle voertuie goed onderhou is en versigtig ry waar hulle ook al gaan. Die volgende wenke sal help verseker dat motoriste dié feestyd veilig op die pad is:

  • Dra ʼn veiligheidsgordel, en maak seker alle passasiers is ook vasgemaak. Kinders onder drie jaar word deur die wet verplig om in ʼn behoorlike kinderstoeltjie te sit.
  • Gaan jou bande na (ook jou spaarband!) om seker te maak dat hulle in ʼn goeie toestand en veilig is om te gebruik.
  • Berei behoorlik voor voordat ʼn lang rit aangepak word en maak seker jy kry genoeg slaap die nag voor die tyd. Rus ook elke 200 km of elke twee uur om jou bene te strek en vars lug te kry.
  • Moenie jaag nie. Ry versigtig en wees bewus van die toestande op die pad terwyl jy bestuur.
  • Bestuur nugter. Alkohol, dwelms en bestuur is ʼn dodelike kombinasie.
  • As jy ʼn voetganger is, maak jouself sigbaar en stap slegs in goedverligte gebiede. Steek besige strate by voetoorgange oor, en moet nooit ʼn hoofweg probeer oorsteek nie.
  • Gee aandag terwyl jy bestuur. Sit jou selfoon weg en hou dit in die motor slegs vir noodgevalle.
  • Wees hoflik teenoor ander motoriste.

Vir ekstra gemak op die pad, kan jy ook die AA-app aflaai, wat vir jou toegang gee tot ʼn reeks voordele en dienste. Besoek www.aa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adri ·

Waar in Suid-Afrika is die gebroke lyn in die middel van die pad geel? Oral waar ek was, is dit wit.

Anoniem ·

Dit is n argief foto. Miskien was dit geel in jou vorige lewe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.