Bly só veilig tydens jou matriekvakansie

Die einde van die matriekeksamen is in sig vir matrikulante, en daar is groot opgewondenheid oor die daaropvolgende vakansie en partytjies. Verskeie groot partytjies en feeste word oor die hele land vir matrieks beplan om die einde van hul skoolloopbaan te vier.

“Ongelukkig is daar elke jaar gevalle van matrieks wat sterf weens padongelukke, dronkenskap en ʼn oordosis dwelms. Daar is ook talle voorvalle van diefstal van waardevolle items en vandalisme. Ons wil matrieks vra om verantwoordelik partytjie te hou en nie hul persoonlike veiligheid af te skeep nie,” het  Charnel Hattingh, Fedility ADT se nasionale bemarking-en-kommunikasiebestuurder, gesê.

Hier is maklike wenke vir matrieks wat weg van die huis af of in vreemde plekke gaan feesvier:

  • Voordat jy jou blyplek verlaat vir die dag of aand, maak seker al jou waardevolle items is toegesluit in ʼn laai of kluis.
  • Moet nooit groot hoeveelhede geld saam met jou dra nie en ook nie deftige, duur juwele as jy uitgaan nie.
  • As jou blyplek ʼn vakansiehuis of -woonstel is, maak seker al die deure is gesluit en die vensters behoorlik toegemaak. Sorg dat die alarm geaktiveer is indien daar een is.
  • Wanneer jy by verskillende geleenthede is of aktiwiteite doen, wees bedag op jou omgewing en reël met jou vriende dat julle ʼn ogie oor mekaar se besittings hou.
  • Indien jy deur ʼn verdagte persoon genader word, loop net weg en meld dit by die naaste sekuriteitsbeampte of polisie aan.
  • Moenie drankies van vreemdelinge aanvaar nie en moenie jou drankie iewers los terwyl jy nie kyk nie. Om drankies te dokter is steeds aan die orde van die dag.

Wanneer dit tyd is om terug te keer na jou blyplek ná ʼn aand uit:

  • Moenie sonder jou vriende teruggaan nie.
  • Moenie saam met mense ry wat jy nie ken nie, maak eerder gebruik van vervoer wat deur die organiseerders van die partytjie gereël is.
  • Om te bestuur ná ʼn paar drankies is nooit ʼn opsie nie. Bel ʼn taxi of gebruik saamry-bussies as hulle beskikbaar is.
  • Oorweeg dit om ʼn bestuurder elke aand aan te wys, of spreek af dat een persoon nie sal drink nie, maar seker sal maak almal kom veilig by jul blyplek uit.

“Ouers moet asseblief met hul kinders praat en hierdie wenke met hulle deel,” het Hattingh gesê. “Die werklikheid is dat matrieks partytjie gaan hou. Kom ons moedig hulle aan om dit so verantwoordelik moontlik te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nettie ·

Watse ge-“paartie” houery is dié net na die matriek-eksamens geskryf is?

In ons dae was daar nie so iets nie, Jy het òf gaan werk óf jy het die Kersvakansie saam met jou ouers en gesin deurgebring en in Januarie begin regmaak vir universiteits- of kollege-lewe (koshuis).

Vandag se matrikulante dink klaarblyklik die 8 weke tussen matriek-klaar skryf en begin van universiteit/kollege is een MOEWIESE “PAARTIE”. En party van die ‘kinders’ kan ERG uithaak – hulle suip soos visse, rook, gebruik dwelms, bestuur dronk, lê ounag en oulik maak op die strand of in motors – en die meisies is g’n ver agter nie!

Nee, genugtig, man!

Dewsyn ·

Liewe Nettie,

Ek is seker ‘n 110 jaar gelede se waardes en standaarde is wragtig nie meer van toepassing tot vandag se samelewing nie. Baie van daai kinders leer in 8 weke meer as wat hulle in 4 jaar gaan leer op universiteit.

Groete

Kyle ·

Jaaaa @Nettie, en in jou dae was die blankes voor almal gestel, en maklik werk gekry, en bevoordeel met baie. Ons kan bietjie vergelyk tussen “jou dae” en “my dae”, dan sal jy sien, “jou dae” was baie, baie makliker as vandag. Ek vertrek more op my matriek vakansie, en ek kan nie wag vir al die “parties” nie.

Kraamsr ·

Daar word jaarliks talle babas aan die begin van September gebore….meestal met baie jong mammas.

Kraamsr ·

Hoekom word my kommentaar nooit geplaas nie?

Ek wys net op die hoë pregnansiesyfer na aanleiding van die post-matrikulêre koppulismes tydens November gedaad.

Laura ·

Om jou eerste “groot” wees te vier, is iets wat waarna elke matriek leerling uitsien. Dit is nog altyd daar, maar deesdae net baie meer in die kollig glo ek. Ek gun elke een van hulle die “MOEWIESE PAARTIE”. Maar ‘n naweek se shadow in ‘n noodgevalle kan DALK baie se oe laat oop gaan.
– Dronk meisies is nie sexy of slim nie. Inteendeel.
– Om in ‘n ongeluk te kom en met bloed oor jou hele lyf by Noodgevalle in te stap of gedra of gestoot te word, is nie ‘n mooi aangesig.
– Ouens wat luid met ‘n bier in die hand wag in die wagkamer vir sy pel se steke om ingesit te word, is irriterend en glad nie so sjarmant soos jy dink nie.
– Dood is nie maklik nie. Of jy nou die persoon ken of nie.

Jean ·

As jou kinders dit nie al weet nie moet hulle nog nie matriek wees nie en is dit te laat vir hulle in die lewe en hulle sal dan wel niks bereik nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.