Bly vir Afrikaans onder die Suiderkruis

suiderkruis

Suiderkruis. Foto: En.wikipedia.org

Tydens voogperiode moes die onderwyser ʼn opname van die verskillende rasse maak. Volgens die alfabetiese lys van rasse, het die onderwyser by “blank” begin.  ʼn Bruin seun het sy hand opgesteek.

Die onderwyseres het verduidelik hy verwar haar en moet sy beurt afwag. Sy het weer begin tel. Hy het weer sy hand opgesteek. Hierdie keer het dit meer oortuiging gekos voordat hy sy hand laat sak het. Sy het weer begin tel. Hy het ʼn derde keer sy hand opgesteek. Geduldig het sy hom gevra waarom hy sy hand aanhoudend opsteek. Kinderlik eerlik het hy geantwoord: “Want ek ίs Afrikaans, Juffrou.”

Mens wonder soms of dit nie dalk beter is om te emigreer nie. Veral wanneer jou kind jou laatnag van die universiteitskampus bel en jy die benoudheid in haar stem hoor oor ʼn naderende oproer.

Terwyl jy jouself probeer paai dat almal veilig in die koshuis toegesluit is en dat sy darem op die heel boonste verdieping bly en ongedeerd sal wees, verneem jy tydens die laataand-oproep dat rassekonflik binne-in die koshuis opgevlam het. Terwyl jy herkou aan jou vraag oor moontlike immigrasie besef jy dat faktore soos jou werksondervinding, of ouderdom, of finansies, jou baie vinnig ʼn antwoord op hierdie vraag besorg.

Jy probeer positief bly. Jy probeer ʼn verskil maak. Jy probeer hard werk aan jou gesindheid. Maar dan sien jy hoe standbeelde in duie stort onder die hand van betogers wat waarskynlik nie eers ʼn idee het waaroor dit gaan nie. Daar is darem ʼn manier om iets te doen. Verkieslik die regte manier. Blykbaar nie vir almal nie.

Om in die stroom van geweld meegesleur te word, is skynbaar aanvaarbaar. As iemand daarin sou slaag om die oproermakers vir ʼn oomblik tot stilstand te roep en te vra waaroor hierdie optrede gaan, sal dit vir hulle moontlik wees om hierdie vraag met ʼn intelligente antwoord te regverdig?

ʼn Predikant het eendag van ʼn klein dorpie gesê: “Hierdie is die enigste plek op aarde waar klank vinniger trek as lig.” Die oproere versprei soos ʼn veldbrand. Dit duik in plekke in ons land op soos paddastoele, dat dit voel asof klank vinniger trek as lig.

En soos ons speletjie, telefoontjie van ouds, raak die boodskap hier en daar verlore.  Dit gaan nou net oor geweld en die vernietiging van kosbare bates. Bates waarvan almal gebruikreg het. Die redes om hierdie optredes te regverdig word so op ʼn drafstap uitgedink.

Daar is min plekke in die wêreld waar mense, soos Koos Doep se liedjie, ʼn Somerkersfees onder die Suiderkruis vier. Daar is net één plek waar ʼn mens dit in Afrikaans kan doen.  Dit bly immers ons land.  En ons ίs Afrikaans.

Meer oor die skrywer: Karin Muller

Karin Muller is getroud en het twee tieners. Sy skryf ʼn weeklikse rubriek en artikels vir die Noordkaap, en nou en dan rubrieke vir Volksblad en Bloemnuus. Die hoogtepunt van haar skryfloopbaan was toe haar pad in 2012 met dié van Koos Kombuis in ʼn gedigtekompetisie gekruis het.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anonoom ·

Jy kan Afrikaans praat, skryf en verstaan, maar jy kan nie Afrikaans wees nie. Afrikaans is meer as jy. Afrikaans is meer as almal wat op die oomblik Afrikaans praat. Om te sê jy is Afrikaans is op die beste onvanpas en op die slegste egoïsties, maar ek is seker jy verstaan dit tog want die seuntjie soos genoem is op die beste.

John ·

Ras en taal is nie sinoniem nie. ‘n Indier wat Engels praat of ‘n Rooi Indiaan, almal is steeds ras-/volk-gekoppel. Dis ‘n slim spel om eenheid en samehorigheid en taal saam te gooi. Dis die fyn speletjie wat die regering ons in wil dwing anders is jy ‘n rassis. Wanneer rasse fisies saamsmelt kom iets nuuts tot stand. Ons Kleurlingbevolking word nie geabsorbeer deur die swart bevolking nie en wil by die Boere ‘n skuldgevoel kweek en hul bedreig laat voel oor hul minderheid om sodoende integrasie aan te help. Die sogenaamde nuwe wereldorde het dieselfde oogmerk.

Toekoms ·

Die wêreld word wakker en is besig om Anonoom se nuwe wêreldorde regtydig te erken vir dít wat dit is. ´n Wanorde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.