Bobbelhalssnoer

Patroon uit: ’n Brei-avontuur met Suid-Afrikaanse wol

Indien jy slegs ‘n klein bietjie van ‘n spesiale breidraad oorhet, is hierdie halssnoer (ontwerp deur Linda Jones) die beste manier om dit te vertoon.

Jy het nodig

  • Breidraad van jou keuse
  • Geskikte I-koord-pen
    – 4 mm of 6 mm
  • Poliëster-stopsel
  • 2 endkappies (opsioneel)
  • Sluiter (opsioneel)
  • Krale, lint, repies lap vir versiering (opsioneel)

Aanwysings

Die halssnoer bestaan uit reguit-gebreide I-koord met krale (bobbels). Maak soveel bobbels soos nodig om jou die verlangde lengte te gee.
H/aan 3 ste en brei die I-koord.
Vlg ry: vmeer in eerste en laaste st = 5 ste.
Brei sowat 30 rye en begin vlg ry asof om verder te gaan met I-koord.
Vlg ry: vmeer in elke st; draai = 10 ste.
Vlg ry: r en draai.
Vlg ry: vmeer in elke st; draai = 20 ste.
Vlg ry: r en draai.

Brei ’n ewe-getal rye en draai om elke nuwe ry te begin (ek het 10 of 12 rye gebrei), afhangende van hoe groot jy die bobbel wil hê.

Vlg ry: r2tes tot end; draai = 10 ste.
Vlg ry: r en draai.
Vlg ry: r2tes tot end; draai = 5 ste.

Gaan voort om I-koord tussen die bobbels te brei en spasieer hulle soos jy daarvan hou (ek het 3 tot 5 rye I-koord tussen elke bobbel gebrei) en eindig met dieselfde aantal I-koord-rye as waarmee jy begin het.

Vlg ry: vmin 1 st aan beg en end = 3 ste. H/af.

Werk endkappies en sluiter aan, of werk die punte van die I-koord aanmekaar indien die halssnoer lank genoeg is om maklik oor jou kop te gaan.

Breidraad

1. Serena Alpaca chunky multicolour vir eerste halssnoer.
2. ColourSpun DK Hand dyed 100% Cotton vir tweede halssnoer.

Gebreide I-koord

I-koord is buisvormige breiwerk wat jy op twee knoplose breipenne of een sirkelpen kan doen. Dit gee dieselfde eindproduk soos met tolletjiebreiwerk, maar het die verdere voordeel dat jy die aantal steke kan vermeerder of verminder en jy kan ook die dikte van die breidraad varieer.

H/aan tussen 4 en 8 steke.

** Brei deur.

Skuif die ste terug (agtertoe) na die ander punt van die pen sonder om te draai en neem die draad styf teen die agterkant van die werk saam.

Her vanaf ** tot jou koord die lengte is wat jy wil hê.

Knip draad sowat 20 cm verder af. Ryg deur ste en h/af.

Jy het nou ’n koord in koussteek – met die regte kant na buite.

Vir ’n koord in omgekeerde koussteek – neem die draad aan die voorkant van jou werk saam voordat jy die volgende ry begin brei.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.