Boer in harmonie met buffels, seekoeie ís moontlik

pierre-massyn-buffels

Appollo, die allemintige bul van die Nuwejaars-bewaringsgebied in die Overberg. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Sy laaste voorsaat het 200 jaar gelede ʼn koeëldood op die Agulhas-vlakte gesterf.

Vandag hou Apollo die buffelbul ʼn wakende oog oor sy troppie in dieselfde omgewing. Apollo is ʼn 15-jarige bielie van amper ʼn ton spiere en been en hy spog met ʼn paar ordentlike weglêhorings. Sy seun, Mooibul, skaars sewe jaar oud, is die enigste ander bul in die trop en hy weet hy moet mooi in sy spoor trap.

ʼn Groepie toegewyde boere van die Overberg het ʼn streep in die sand getrek en gesê: “Ons kán in harmonie met die natuur boer.” Dis hoe die Nuwejaarsvleiland Spesiale Bestuursgebied (NVSBG) ʼn jaar of tien gelede tot stand gekom het. Vandag beslaan die NVSBG ʼn gebied van 45 000 hektaar, byna twee keer so groot soos die aangrensende Agulhas Nasionale Park wat self met ʼn stewige 22 000 hektaar spog.

Die 25 boere is net so passievol oor hul boerdery as wat hulle oor natuurbewaring is. Hulle het tot seekoeie in Waskraalvlei op die plaas Moddervlei hervestig. Dit nadat die laaste seekoei in 1869 hier geskiet is.

Moddervlei behoort aan die hart en siel van die Nuwejaarsvleiland-insisiatief, ʼn merkwaardige man met die naam Dirk Human, voorsitter van die Nuwejaarsvleiland-bestuurskomitee en eienaar van die Black Oystercatcher-landgoed.

Aan medaljes en toekennings vir wyn steur hy hom min. “Ek het akkerbou op Elsenburg studeer maar weet van wynmaak niks nie. Ek speel met druiwe omdat dit vir my lekker is en die mense geniet dit”, beduie hierdie gesoute Overberger van 51 jaar. Een van sy voorouers was ʼn Fransman wat met ʼn Bataafse slavin getrou het.

“Ek verbou jaarliks 100 ton rooi- en witwyn. Ek het geweet ek kan hier wyn maak want die Morawiese sendelinge kon voortreflik plekke identifiseer wat geskik is vir wynbou, en hulle moes wyn hê vir nagmaal. Een plek wat hulle geïdentifiseer het, was Elim.”

Dirk Human se Black Oystercatcher wat eens op ʼn tyd ou perdestalle was, lê op pad na Elim, ongeveer 10 km van dié dorpie wat in 1824 deur Morawiese sendinge gestig is.

Oor jag sê hy: “Dis juis omdat ek jag as ʼn bewaringsmeganisme hier verstaan en toepas dat ek my gewig agter hierdie projek ingegooi het.” Daar is ʼn stuk of 90 elande in die bewaringsgebied, “want dit is soveel as wat die drakrag van die grond dit toelaat”.

In die restaurant klap Dirk se vrou, Sandra, die sweep. “Sy kan toor in ʼn kombuis en ek hou my daaruit. Ons brou ook ons eie bier hier. Een van ons unieke skeppinge is ons gewilde Moerkoffie-bier.”

Die Nuwejaarsrivier is die hoofslagaar van die Agulhas-vloedvlakte. Foto: Verskaf.

Die Nuwejaars-bewaringsgebied is nie net die koninkryk van die wêreldberoemde fynbos, ingesluit die kritiekbedreigde Ferricrete-fynbos nie, maar ook van ʼn aantal sensitiewe vleilande soos Waskraalvlei en Voëlvlei. Hier word onder meer ʼn aantal bedreigde spesies soos die heuningnes-rooivinvissie (Pseudobarbus) en die Kaapse platanna aangetref. Behalwe vir die kenmerkende proteas en alomteenwoordigende boegoe is die gebied is ook ʼn voëlparadys. Palmiet, wat die vleilande stabiliseer, dra daartoe by dat die ekostelsel gesond bly. Die Agulhas-vloedvlakte, ʼn gebied byna so groot soos Luxemburg, word gedreineer deur die Nuwejaarsrivier wat die Zoetendalsvlei, die grootste varswatermeer in Suid-Afrika, voed.

Die gebied se bekendste name klink plek-plek soet op die tong: Daar is die Soetanysberg en die Heuningnesrivier wat in die Zoetendalsvlei dreineer en by De Mond in die see vloei en Soetmuisberg is die opvanggebied vir die Nuwejaarsrivier en die hoofdreineringslagaar vir die Agulhas-vloedvlakte, wat ook lank gelede ʼn tuiste vir olifante was. Luiperds kom ook hier voor.

“Maar wat van potensiële konflik met boerderybedrywighede?” Ek vra die vraag omdat die mens se “oplossing” gewoonlik sonder uitsondering is om ʼn dier as “probleemdier” te brandmerk en hy dan voor die voet geskiet word –  wat onlangs die lot van die ikoniese olifantbul, Voortrekker, in Namibië was.*

“Nee”, verseker Human my. “Nie een van ons 25 boere wat in ons projek betrokke is sal ʼn luiperd skiet nie. Inteendeel, ons besef en waardeer dat luiperds ʼn belangrike rol speel om bosvarke wat vir ons ʼn probleem skep, se getalle in bedwang te hou.”

Van die 45 000 hektaar is sowat die helfte natuurlike fynbos, renosterveld** en vleilande. Op die ander helfte word geboer. “Ons het nagenoeg 120 km se heinings hier gespan om die diere uit die boerderysones te hou, verduidelik Erica Brink, voltydse wetenskaplike van die NVSBG.

“Ons bestuur die natuurlike areas namens die eienaars. Indringerplante soos rooikrans en Port Jackson word verwyder, maar daar bly nog 40% van daardie spesies oor wat ons moet uitwis. Namate ons dit doen, vloei die riviere en strome merkbaar beter.”

Skaars dieresoorte soos hartebeeste is ook hier gevestig, vertel Mick D’Alton, wat naby Elim boer en een van die stigterslede van die NVSBG is. “Ons eksperimenteer selfs met kwaggas hier as deel van die Kwagga-projek en kon al ʼn dier hier skep wat baie lyk soos die uitgestorwe kwagga. Ons werk ook saam met die Wêreld-Natuurlewefonds wat 200 hektaar hier by ons geoormerk het. Dit hou ten nouste verband met klimaatsverandering wat ʼn groot uitwerking op die natuur uitoefen.”

pierre-massyn-buffels-02

Dirk Human, die dryfveer agter Nuwejaarsvleiland-bewaringsinisiatief, saam met een van sy lieflinghonde op sy landgoed naby die Agulhas-vloedvlakte in die Overberg. Foto: Verskaf.

Ross Kettles is projekbestuurder en praat passievol oor sy werk. “Vir die volgende geslag gaan natuurbewaring in ʼn hoek gedruk word soos nog nooit voorheen nie en dis hoofsaaklik oor een rede: die menslike bevolkingsontploffing. Die eilandjies waarop diere nog natuurlik en vry voorkom krimp al hoe meer.”

En wat van finansiering? “Elkeen van die 25 boere wat betrokke is in die projek dra finansieel by, verduidelik Kettles. “Die Ontwikkelingsbank het ons baie gehelp. Ons het ook aanvanklik 2 miljoen euro van die Duitse regering gekry, wat ons binne 18 maande moes bestee!”

Human spel sy visie uit: “Ek bly op die beste plek ter wêreld. Hier by ons kan jy jou skoene kom uitskop en lekker kuier. Ek weet hoe ons plek oor 50 jaar van nou af moet lyk. Ons het ʼn keuse oor hoe aggressief ons wil hê ons invloed hier moet wees. Ons werk met die grootste omsigtigheid en so min moontlik inmenging in die natuur as moontlik. Terselfdertyd verstaan ons basiese beginsels soos voedselsekerheid en werksekerheid. Ons probeer om ons bestuursgebiede te integreer met ons natuurlike gebiede.”

Vat vyf, Dirk Human en jou span! Ons het meer van jou soort nodig.

  • Pierre Massyn is ’n skrywer en onafhanklike natuurbewaarder.

Voetnoot:

*Wêreld-olifantdag is op 12 Augustus gedenk. RSG berig op 13 Augustus 2019 op Monitor dat daar daagliks 100 olifante doodgemaak word. Voortrekker is geskiet in weerwil van pleidooie van drie plaaslike gemeenskappe, die Otjimboyo-, Sorris Sorris- en Tsiseb-mense, dat hy nié geskiet moet word nie. Die ikoniese bul is “vermoor”, aldus Johannes Haasbroek van die EHRA-olifantbewaringsgroep in Namibië. Daar word ook bespiegel of Voortrekker, as hy nog sou geleef het, nie oneindig meer as ʼn skamele 120 000 Namibiese dollar  in buitelandse toerisme-valuta vir Namibië sou verdien het nie. Die vraag word ook gevra of die bul geskiet sou gewees het as dit nie vir sy pragtige ivoortande was nie. Sien Maroela Media, 5 Augustus 2019.

** Daar is na raming slegs 4% renosterveld in Suid-Afrika oor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rubber ·

Wou ‘n bydrae maak, maar kom toe agter ek kan nie meer sekere nuus lees nie. Dis nou jammer.

CHAPPIES ·

WONDERLIKE inisiatief!
Welgedaan Dirk en RES VAN DIE BOERE

Rupert Ashford ·

Was baie geinteresseerd totdat ek die stuk gelees het oor die dier wat “menslike” eienskappe toegedig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.