Byt vas en dóén!        

saad-saadjie-hande

Foto: Joshua Lanzarini/Unsplash.com

Deur Barend Meintjies

Meintjies, ʼn voormalige hoofseun van die Hoërskool Florida in Florida, Johannesburg, het hierdie toespraak met die 50ste reünie van die matrikulante van 1969 gelewer. Maroela Media het ʼn verkorte weergawe van die boodskap van hoop geplaas.

Prof. Nic Wiehahn, wat verantwoordelik was vir nywerheidsbetrekkinge in Suid-Afrika, het in 1992 in Randburg ’n motiveringspraatjie gelewer.

Dit was toe almal meel en blikkieskos gestoor het vir die “noodlottige” 1994-verkiesing. Hy het toe aanbiedinge van beide universiteite in Amerika en Engeland gehad, maar besluit om te bly. Sy toespraak was twee en ʼn half uur lank, dus gaan ek slegs op een punt fokus. Ek hoop ek kan dit suksesvol oordra.

Hy het gevra ons moet ons probeer indink in ’n tydperk so 180 jaar gelede. Jy trek uit die Kaap. Jy weet nie eintlik presies waarheen nie en ook nie hoe lank dit gaan neem nie. Die dae word weke, weke word maande. En maande word jare. Jy en jou mense is al moeg vir die ossewa – elke oggend inspan, elke aand uitspan en kraal bou. Jy slaap nie ordentlik in die nag nie. Daar is gedurig leeus om die kamp en kort-kort breek die beeste uit. Dis moeilik – jy is só moeg. Vars kos is al lankal op. Jou vrou en kinders gaan agteruit. Maar gebed, hoop en geloof hou julle aan die gang en uiteindelik is julle in ’n klein hartbeeshuisie. Dis ’n nuwe lewe!

Jou beeste is in ’n netjiese takkraal, jou landerye lyk goed. Jy gaan die week begin oes. Almal is opgewonde oor jul eerste oes. Deur die nag hoor jy mense skreeu, jou beeste bulk. Julle kniel bymekaar en bid tot daglig. Daar is geen alarms, spreiligte, selfone, polisie, ensovoorts nie. Jou naaste bure is ’n uur te perd weg.

Die volgende oggend is alles verlate. Die landerye is swart, die beeste weg en dié wat agtergebly het is vermink. Wat doen jy? Die toekoms lyk donker. Is daar ’n toekoms? Pak jy op en trek terug Kolonie toe?

Nee, die mense het vasgebyt – gebid, geglo en gehoop.

Toe kom die uitmergelende Anglo-Boereoorlog so 60 jaar later. Wéér word die vroue en kinders weggevoer en die landerye afgebrand. Ná die oorlog was daar vrede, maar verdere vernedering. Dié kinders wat durf waag het om Afrikaans te praat, moes in die hoek gaan staan.

Dog, dié mense het nie gevlug nie, nie klippe gegooi en skole afgebrand nie, maar hier gebly, vasgebyt en hard gewerk om bo uit te kom.

Vandag leef ons in hierdie mooi land as gevolg van húlle volharding.

Ja, daar is vandag ook baie onsekerhede en ons raak soms vreeslik mismoedig. Tog is ons deur die 1994-verkiesing. Daar is steeds geweld en korrupsie, die ekonomie is swak en mense verloor hul werk. Die lys is lank. Maar as ons dit met ons voorouers s’n vergelyk, lyk dit tog nie so donker nie. Eintlik gaan dit glad nie so sleg nie, inteendeel gaan dit goed met ons.

Daar is ’n gesegde: “You are older today than you’ve ever been, but younger than you will ever be again”.

Fokus op die laaste deel en maak die meeste van elke dag. Verander jou ingesteldheid, doen iets positief, praat en leef positief. Moenie almal om jou terneergedruk maak nie. Deur positief te lewe en op te tree, kan ons dalk net die toekoms beïnvloed.

“If we all think it, believe it, talk it, it will eventually happen.” Ons kan onsself in ’n groef praat of daaruit.

Dr. Frans Cronje het in Augustus ’n artikel geskryf oor sy toer deur die land waar hy boeregemeenskappe ontmoet het. Hy het op elke geleentheid vir Steve Biko aangehaal: “Daar is niks magtiger in die hande van die onderdrukker, as die ingesteldheid van die onderdrukte nie.”

Dink daaroor: net iets wat jy vrees, het beheer oor jou. Goliat het die Israeliete in vrees vasgevang gehad totdat Dawid arriveer het en verby sy grootte gekyk en die Here agter Goliat gesien. Ons het ook baie Goliatte in ons pad – probeer agter jou Goliat kyk.

Die rolprent The Best Exotic Marigold Hotel gaan oor ’n klomp Britse afgetredenes wat Indië toe gaan omrede hoë kostes in Engeland. Die hotel behoort aan ʼn jong Indiër en lyk sleg – die kamers het nie deure nie, daar is nie warm water nie, ensovoorts. Almal kla. Op ’n dag sê die jong Indiër: “Everything will be okay in the end. If it is not okay, it is not the end!”

Kom ons maak dit deel van ons daaglikse motivering!

Ons moet weer leer om vriende, familie en verhoudings te koester. Ons leer ongelukkig eers ná pyn en lyding. Ons moet gaan regmaak met vriende en familie, die lewe is te kort. As ons dit agterna ontleed, is dit dikwels diep teleurstelling in wat iemand gedoen het – jy is eintlik kwaad omdat hy nie volgens jou norme opgetree het nie.

Een van my vorige base het altyd gesê: “We manage to make a profit despite ourselves”.

Ek kan dit oordra na vriendskappe toe. Vriendskappe oorleef “despite ourselves”.  Vriende sien mekaar 30 jaar later en gesels asof hulle nog gister bymekaar was. Ons het die vermoë om vriende te kan bly ten spyte van baie ongereelde kontak en lang afstande. Dit ís mos spesiaal!

Anton Rupert het gesê: “You must always leave something for the next man”.

Hy het oor besigheid gepraat, maar ons kan dit deurtrek na ons alledaagse lewe en ons verantwoordelikheid as mens teenoor ons medemens, diere en die natuur in die algemeen. Julle ken die storie oor die ou wat op die strand geloop het waar miljoene seesterre uitgespoel het en hy kort-kort een opgetel en teruggegooi het. Toe iemand vir hom sê hy kan hulle nie almal red nie, sê hy: “I can perhaps save this one”.

Ons moet ons verantwoordelikheid aanvaar en na die natuur omsien, dit bewaar. Ja, sodat ons kleinkinders dit kan beleef, maar ook omdat dit ’n opdrag is. Raak betrokke by bewaring of liefdadigheid. Doen net iets!

Greta Thunberg, ’n 16-jarige kind, het die moed van haar oortuiging gehad om op te staan vir die aarde. Party lag haar uit, maar dat die aarde besig is om ons ’n boodskap te gee, is duidelik.

Onlangs, op die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurswese (SAISI) se jaarvergadering, was die president Brian Downie se onderwerp “It’s a new world”. Volgens hom is die hoofuitdagings die onderwys, entrepreneurskap, werkskepping en bemagtiging. Ek sal graag net liggies aan onderwys en entrepreneurskap wil raak.

Charles Holland Duell was die Commissioner of US Patent and Trademark Office van 1898 tot 1901. Hy het bekendheid verwerf deurdat hy kwansuis sou sê: “Everything that can be invented has been invented.”

Hoe verkeerd kan mens wees. ’n Slimfoon het seker vandag meer kapasiteit as die eerste maantuig. Ontwikkeling is nou eksponensieel – dit begin plat, en dan onverwags begin dit amper vertikaal klim.

Ons lewens het die afgelope 40 jaar dramaties verander as gevolg van tegnologiese ontwikkeling. Dis egter ʼn druppel in die emmer van wat gaan gebeur. Ontwikkeling is goed, so lank ons dit beheer en nie God se rol probeer oorneem nie – en solank die aarde dit met ons kan uithou.

Wat ek hiermee sê, is dat die toekoms ander uitdagings inhou.

Ons kleinkinders sal anders moet opgevoed word, hulle gaan nie werk soos ons nie. Hulle werk sal anders wees. Die werk wat hulle gaan doen, bestaan nog nie. Jy kan deesdae inbel vir mediese of regshulp. Daarby leer die rekenaar met elke fout wat hy maak. Dis die tyd van Kunsmatige Intelligensie (KI), voortdurende leer en robotika. Dis nou deel van ons lewe.

Mense leer ook uit ondervinding, maar nie teen die spoed van rekenaars nie, want emosies en ander dinge beïnvloed ons. Iemand het dit so verduidelik: “Marriage is the triumph of imagination over intelligence. Second marriage is the triumph of hope over experience”. ’n Rekenaar gaan nie dié fout maak nie!

In 2008 begin Salman Khan die Khan Academy nadat hy agtergekom het dat kinders enige plek kan leer. Vandag is daar 5 000 video’s, 59 miljoen intekenaars in 180 lande. Hierdie video’s behoort in elke skool en huis waar kinders is.

Ons moet ons kinders leer om soos entrepreneurs te dink. Divan Botha (Winslyn) het vroeër vanjaar oor entrepreneurs gepraat. Hy het gesê hy en ’n Joodse vriend het gesels oor die vraag of jy as entrepreneur gebore word, al dan nie.

Afrikanerkinders het tot onlangs grootgeword met die tendens om gesien en nie gehoor te word nie. Volwassenes se gesprekke gaan oor politiek en hoe sleg dit gaan. ’n Kind sal byvoorbeeld weet waar sy pa werk, maar nie eintlik wat hy doen het nie. As jy vra hoe gaan dit by die werk, is die antwoord “Goed”.

Botha se Joodse vriend vertel hulle praat saans voor die hele gesin oor hul werk – hul eie, maar ook die familie s’n. Die kinders is gewoond om oor naweke uit te help, rakke te pak, of agter die kasregister te staan.

Entrepreneurs word gevorm, nie gebore nie.

Ons moet ons kleinkinders leer om iets met selfvertroue aan te pak. Michael Jordan, legendariese basketbalspeler, skryf sy selfvertroue daaraan toe dat hy nie bang was om te misluk nie.

“I’ve missed more than 9 000 shots in my career. I’ve lost 300 games and 26 times I’ve been trusted to take the game-winning shot and missed. I’ve failed over and over and over again in my life – that is why I was so successful.”

Rocco Meiring, Tatjana Schoenmaker se afrigter, sê sy is so suksesvol omdat sy nie vrees om te misluk nie. Ouers, onderwysers en afrigters is hierdie ingesteldheid aan hul kinders verskuldig.

Ter opsomming: Kom ons verander ons ingesteldheid, leef en kommunikeer positief. Kom ons leer weer om te bid, te glo en te hoop. Kom ons probeer om nie in vrees te lewe nie. Kom ons koester ons familie en vriende. Kom ons gee weer om en raak betrokke by liefdadigheid, bewaring of enige iets wat ons gemeenskap tot voordeel sal strek.

Kom ons help ons kleinkinders om selfvertroue te hê en positief te lewe, om soos entrepreneurs te dink en om nie mislukking te vrees nie.

Ek vertrou ek kon ’n saadjie plant om ons kinders te help om ons kleinkinders voor te berei vir ’n nuwe wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.