‘Byvoegseisoen’: Omskep jou klerekas só dié winter

Simon RademanDie koue kruip stadig maar seker nader vir Suid-Afrikaners en dit raak nou amper weer tyd om die somersklere vir wintersjasse en serpe te verruil.

Dié ommeswaai van somer na winter is nie altyd so eenvoudig nie, veral nie in ʼn land met provinsies waar daar soms vier seisoene in een dag voorkom nie!

Simon Rademan, bekende mode-ontwerper en stilis, het egter goeie nuus vir Suid-Afrikaners wat heeljaar van die items in hul kaste gebruik wil maak.

“Dié winter noem ons ‘byvoegseisoen’,” sê Rademan. “Voeg ʼn trui by, voeg ʼn serp by, voeg warmer sokkies by, of eintlik: voeg net nog ʼn laag by. Suid-Afrika se winters is te kort om ʼn totaal ‘nuwe’ klerekas te skep, maar net lank genoeg om identiteit te skep met nuwe kleur en tekstuur, miskien ʼn hoedjie vir je ne sais quoi-dae.”

Leandie du Randt Bosch, bekende aktrise en eienares van Skoonma Clothing, beaam Rademan se “byvoegtaktiek” en sê vroue kan maklik ʼn paar sykouse en ʼn enkelstewel by ʼn somersrokkie dra. “Trek ʼn warm baadjie of ʼn jas hierby aan soos die Europeërs, dit is vreeslik in die mode om dit só te doen.”

Rademan voeg by dat alle somersklere in die winter gebruik kan word, veral as jy van die laag-op-laag-voorkoms hou, daarom hoef jou wintersklerekas jou nié ʼn fortuin te kos nie.

“Suid-Afrika se modes is lankal nie so ver agter Europese modes nie, en terwyl die winters daar baie lank is, het ons nou mega-winkelsentrums met lugverwarming, waarin mense ronddwaal en soek vir plekke om geld te mors.”

Du Randt Bosch sê sy hou daarvan om al haar klere dwarsdeur die jaar te dra, maar sy besef spasie is ʼn groot probleem vir baie mense. “Ek koop klererelings by Game aan. Dit slaan eenvoudig op en kan maklik in ʼn hoekie van ʼn kamer staangemaak word as jy nie genoeg kaste het nie. Pak jou truitjies bo-op mekaar en vroue kan solank bypassende rokke en truie op een hanger hang. Sodoende kan jy plek bespaar.”

As jy egter van ʼn paar kledingstukke wil ontslae raak, glo Rademan dat daar nooit ʼn regte of verkeerde tyd is om dit te doen nie. “Dit is enige dag die regte tyd om met iets weg te doen. As jy dit ʼn jaar laas gedra het, en dalk gewig aangesit het, hou een item vir inspirasie en skenk die res vir liefdadigheidsorganisasies of skenk dit vir daardie vriendin wat gesê het jy moet dit in die eerste plek koop.”

Leandie du Randt Bosch in een van haar eie Skoonma-somerskeppings, wat saam met 'n baadjie, 'n paar sykouse en 'n enkelstewel nommerpas is vir die 'byvoegseisoen'. (Foto: Facebook/Skoonma Clothing)

Leandie du Randt Bosch in een van haar eie Skoonma-somerskeppings, wat saam met ‘n baadjie, ‘n paar sykouse en ‘n enkelstewel nommerpas is vir die ‘byvoegseisoen’. (Foto: Facebook/Skoonma Clothing)

Rademan sê baie mense wil tog iets nuuts aanskaf wanneer die seisoen begin en benadruk dat die beste stapelitem wat jy kán aankoop, die een is in die kleur wat die beste by jou pas. “Dit geld vir bo- en onder-items. Die mode verander heeltemal te vinnig om dit in helder kleure te hê, maar speel daarmee met bykomstighede soos serpe, knope en handsakke. Jou skoene moet liewer in neutrale en natuurlike kleure wees, sodat môre se mense om jou nie vandag se skoene herken nie.”

Items wat ʼn mens altyd in jou klerekas nodig het, volgens Du Randt Bosch, is ʼn denimbaadjie en ʼn leerbaadjie van goeie gehalte. “Skaf ook vir jou ʼn ordentlike swart langbroek en ʼn denim wat netjies pas aan.”

Rademan maan mense daarteen om te koop wanneer ander sê jy moet koop. “Koop wanneer jy die behoefte het en selfs wanneer die prys reg is. Koop met jou bestaande klerekas in gedagte. Min mense voel vyf dae agtereenvolgens presies dieselfde en ondervinding leer ons dat jou gemoed selfs die tipe uitrusting bepaal wat jy koop.”

As jy van jou somersklere wil bêre, het Rademan ʼn paar wenke om jou items te stoor sodat dit teen die volgende somer gereed is om weer gedra te word. “Klere moet netjies en reeds skoongemaak gebêre word. Jy kan dit selfs in ʼn ou reistas bêre, maar skryf buiteop wat in die tas is. Ek bêre myne in stelle, byvoorbeeld ʼn broek, ʼn hemp, ʼn paar skoene en selfs sokkies verpak in pakkies, sodat indien ek iewers iemand kan help, ek nie nodig het om te grawe nie. Sodra dit in motbolle moet gaan, weet jy reeds daar is iemand daarbuite wat daarby sal kan baat.

“Indien alle kledingstukke in jou kas op die regte manier gebêre is, sal jy altyd weet wat daarin is, en is dit makliker om met ʼn missie iets aan te koop en nie impulsief nie. Tensy jy natuurlik kort is en altyd langer vertoon wanneer jy bo-op jou beursie staan,” skerts hy.

“Moenie sommer net iets weggooi nie, want selfs klere wat ons ouers gedra het, is nou weer terug in die mode,” sê Du Randt Bosch. “Die 80’s en 90’s se modes is nou weer in – geruite klere, fluweel, kolle en metaalkleure.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.