Charles J. Fourie se drama “ʼn ode aan vergifnis”

Charles J. Fourie. Foto: Verskaf

Charles J. Fourie. Foto: Verskaf

Die dramaturg Charles J. Fourie se radiodrama, Vergifnis, vertel die storie van ʼn bejaarde vrou in ʼn rolstoel wat ʼn protesoptog vir misdaadbewusmaking lei van Touwsrivier na die parlement in Kaapstad.

Fourie was die wenner van die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie vir 2015 en Vergifnis word op 28 April om 20:30 op RSG uitgesaai.

ʼn Jong man wat haar in haar huis beroof het, stem in om haar in die rolstoel na Kaapstad te stoot waar sy die toenemende misdaad en gebrek aan werksgeleenthede vir jong mense onder die regering se aandag wil bring. Tydens hul reis sluit al meer mense by hulle aan en dit word gaandeweg ’n kleurryke optog vir verandering.

Dié storie wentel om ʼn stryd wat die meeste mense daagliks moet stry. “Vergifnis is ʼn ode aan vergifnis in ʼn land waar ons daagliks sukkel met die toepassing daarvan,” het Fourie vertel.

Hierdie drama beloof om luisteraars geboei te hou. “Dit is ʼn boeiende, filmagtige verhaal, terselfdertyd snaaks én roerend, maar ook betowerend en kostelik,” het die beoordelaarspaneel van die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie laat hoor.

Soos die Hollywood-rolprent Forrest Gump het die twee hoofkarakters ’n skare wat hulle volg, ’n element wat aan hierdie drama sy epiese bekoring verleen.

Victor Hugo se klassieke Les Misérables het as katalisator gedien vir Fourie se wendrama. Die regisseur Johan Rademan gebruik ook temamusiek uit Les Mis gekontrasteer met ’n stukkie Afrikaanse flair waaraan die Hoërskool Durbanville se skoolkoor meegedoen het in die opmars parlement toe.

Fourie is ook bekend vir die radiodrama Offer, wat met die Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir radiohoorspele in Afrikaans bekroon is.

Die rolverdeling sluit in Amor Tredoux, Jarrid Geduld, Charl van Heyningen, Roelien Daneel, Zenobia Kloppers, Wessel Pretorius en Leandé Valentyn met Rademan in die regisseurstoel.

Vandeesweek se Radioteater volg om 20:30 vanweë die regstreekse uitsending van Distrik 6 Klassique van die Suidoosterfees, wat reeds om 19:30 begin.

Radioteater word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

Besoek RSG se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.