Cobus Bester: Die man agter die stem

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Cobus Bester het van skool af al belang gestel om by die SAUK te werk, maar die lewe het eers ander draaie met hom geloop. Hy was in sy midtwintigs toe hy aan die TV-kant by die SAUK begin werk het. In 1992 het hy heeltyds by radio betrokke geraak.

“Ek was in ʼn besonder goeie tyd by die SAUK, kort nadat televisie in 1976 begin beeldsaai het. Daar was so ʼn pioniersgees –  ʼn aansteeklike gees onder die ouens. Jy’t op jou af dae ook sommer kom werk. Dit was ʼn wonderlike tyd.”

Cobus sê die intimiteit van radio het hom getrek. “Radio is net klank, maar baie mense onderskat dit.” Hy vertel van ʼn opname wat die BBC gemaak het waarin hulle mense gevra het of hulle verkies om televisie te kyk of radio te luister. ʼn Twaalfjarige seuntjie het gesê hy verkies radio: “Because radio has better pictures.” Cobus sê dit is die mag van goeie radio, want goeie radio dwing die luisteraar om saam te dink en te verbeel.

Hy vertel van ʼn keer wat hý as goeie radio beskou. “Peet Bothma en ʼn klankman het destyds ʼn bydrae gaan maak saam met Koevoet wat in Namibië gewerk het. Hulle het in voertuie saam met dié ouens beweeg en toe in die middel van ʼn lokval gery waar ʼn groot geveg uitgebreek het. Die klank wat hy teruggebring het, was ongelooflik én hulle het dit in stereo gedoen. Bitter selde het daar ander klank gekom wat volgens daardie standaard was.”

Cobus sê hy kan nie die datum onthou wanneer hy Monitor begin uitsaai het nie. “Volgens Foeta Krige was dit in 1998,” skerts hy. Met sy eerste uitsending was hy nie oorweldig nie, maar daar was ʼn “beklemming”, of soos die Engelse dit noem – butterflies. “Ek het vroeg in my loopbaan geleer die dag wanneer jy voor so ʼn mikrofoon sit en daar nie daardie effense spanning is nie, moet jy maar opstaan en huis toe gaan.” Cobus het met sy laaste uitsending steeds hierdie butterflies ervaar.

Hy het aanvanklik nie opleiding as omroeper gekry nie, wel baie goeie raad van talle. “Mark Lloyd het my geleer om voor die mikrofoon te sit en met een mens te praat wanneer ek uitsaai. Jy dink nie, ‘sjoe, daar’s nou 600 000 mense wat na my luister’ nie. Jy praat altyd met een persoon.”

Daar is baie staaltjies wat deur SAUK-mense vertel word van poetse wat gebak word of ʼn tipe ontgroening wat deur nuwe werknemers ervaar word. Cobus deel sy ervaring van só ʼn keer.


As jy hom vra oor die onderhoud wat hy die meeste geniet het, kan Cobus nie eintlik besluit nie, maar oor die tipe onderhoud kan hy wel praat. “Die onderhoude wat gehandel het oor morele of etiese kwessies het ek die meeste geniet. Ons sit met ongelooflik kundige mense in hierdie veld – filosowe en mense wat kenners is oor die etiek, wat eintlik min gebruik word. Dit was vir my lekker om hierdie ouens op te spoor.” Die onderhoude met politieke ontleders was ook gesprekke wat hy geniet het.

As dit kom by voorbereiding vir onderhoude, sê Cobus navorsing moet gedoen word om die regte vrae te vra, om helderheid by jou luisteraar te bring. “Die fout wat ons partykeer met ons navorsing maak, is om te aanvaar dat jou luisteraar reeds weet wat jy weet.” Hy sê enige beskikbare tyd word gebruik om oor die onderwerp na te lees. Soms is daar wel gevalle waar voorbereiding nie moontlik is nie. Hy vertel van die keer toe hy ʼn onderhoud op kort kennisgewing met die hoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, moes voer.

Omroepers het net hul stem om ʼn boodskap mee oor te dra en mens kan dadelik hoor as iets skort. Cobus sê hy kon dit regkry om sy gevoelens buite die ateljee te los. “In my jare as joernalis het ek dit geleer. Daar was tye dat mens ontsteld was oor iets, jy hoor jou vriend is die oggend oorlede, maar jy stap by die deur in en gaan sit by die mikrofoon – daar is werk om te doen. Gelukkig het dit baie selde gebeur.”

Cobus sê radio se toekoms lyk baie goed en dat hierdie medium altyd sal bestaan. “Hy gaan miskien nie lyk soos hy nou lyk nie, en dit gaan afhang van die mense wat hom bedryf. Mens moet dit vir die luisteraar lekker maak sodat elkeen wíl luister.”

En as dit kom by sy eie toekoms, is daar net geen keer aan Cobus nie. Dié man is hard aan die werk en reeds by verskeie projekte betrokke. “Ek kan my nie indink dat ek nou maar by die huis gaan sit nie. Ek sal eerder wil besig bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet Snot ·

Maroela: vra asb vir Cobus of hy Peet Bothma se Koevoet-lokvalbydrae in die hande kan kry, dan plaas julle dit.
Sal vir ons almal goeie opvoeding wees in die wêreld van goeie klank.

Winston ·

Cobus ek het baie jou stem gehoor en beelde gesien wat jy geskilder het in mooi Afrikaans. Bravo

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.