Con Krüger se laaste onderhoud

Dr. Con Krüger

Die bekende en begaafde sielkundige, historikus en skrywer, Con Krüger is vroeër vanjaar in die ouderdom van 89 oorlede. Kort voor sy dood het hy ’n eksklusiewe onderhoud oor sy vol lewe aan Pierre Massyn toegestaan. Lees ook die eerste gedeelte van die onderhoud op Maroela Media wat op Vrydag 13 Desember gepubliseer is.

Landgrense kon dié Suid-Afrikaner nie keer nie. Zambië gee hom diplomatieke immuniteit. Rhodesië gee hom permanente verblyfreg. Hy geniet selfs die volle internasionale beskerming van Interpol en hy word ook een keer onder die wet bemagtig om ’n huwelik te voltrek.

In 1965 bevind Con Krüger hom in Wallis, net betyds om die Aberfan-ramp te beleef, toe ’n berg steenkool ’n skool letterlik begrawe het – met katastrofale lewensverlies.

“Ek was op ’n amptelike sending na die Britse Spoorweë toe die ramp Aberfan tref. Ek het die oorlewendes met berading bygestaan. Ek huil nou nog onbeskaamd as ek aan al daardie smart dink.”

In daardie tyd kon hy ook die Walliesers se sang ervaar. “Die Walliese volkslied Land of our Fathers het diep in my hart ingekruip,” vertel Con en trek terstond los met ’n paar strofes suiwer Gallies. “Die Walliese Mannekoor en die Weense Seunskoor se liedere sal ek nooit vergeet nie, maar eersgenoemde is bo-aan die lys.”

Hy kom “tree af” in Struisbaai en onthou nog die ou dae met die tjakkies (klein vissersbote) soos gister. “Die manne het met bloedlyne visgevang. Dit was lank voor die dae van nylon. ’n Bloedlyn was ’n visserstou wat met osbloed deurweek is om dit langer te laat hou. Ons het naas Kalkbaai in die Kaap, die oudste tjakkies in Suid-Afrika met ons eie tradisie van die gebruik van handlyne.”

Con praat verskeie tale en het in Tsjeggo-Slowakye ’n draai gemaak toe generaal Tito nog daar die sweep geklap het.

Dan is daar Con Krüger die skrywer. Hy het ’n Afrikaanse digbundel in Spanje uitgegee. Een van vier bloemlesings. Hy het ook twee historiese dramas geskryf. Ook een van twee. Sy jongste boek is Rub out my History, waarin hy Engeland se vergrype teen die burgerlike Boerebevolking aan die kaak stel, asook die wreedheid teenoor diere toe hulle, onder meer, die afgryslike perdespyker gebruik het. Die gebruik van hierdie “ysterpendoring” het Con se Engelse vriend “Kevin Cunynghame” (’n skuilnaam wat hom aangespoor het om Rub Out te skryf), só gegru, dat hy sy Engelse nasionaliteit verwerp en homself as Skot verklaar het.

“Sien jy hierdie Engelse pendoring?” vra Con en wys na ’n hellebaardagtige instrument met drie dodelike punte wat teen ’n muur hang. “My oupa moes sy perd doodskiet nadat hy in so ’n ding getrap het. Ek is nou besig met my lewensverhaal. Daarin sal jy meer te lese kry oor Britse wreedhede hier. Ek noem die boek Grepe uit my lewe,” verklaar hy met ’n veraf uitdrukking op sy gesig.

Hy kan ook skilder, hierdie deurtrapte Suidpunter met sy vele talente.

“Maar Con, jou voorsaat Paul Krüger het mos volgens die skrywer en seevaarder Josua Slocum geglo dat die aarde plat is, of hoe?”

“Dit kon so gewees het. Maar oom Paul was ten minste beginselvas. Al wat hy ooit gelees het, was sy Bybel.” En met dié pluk Con ’n egte Hollandse Statebybel met die naam Krüger en die datum 1853 voorin, te voorskyn.

“In die naam van Engeland is duisende Boerewonings afgebrand en eiendom vernietig. Ek vermoed ’n Engelse soldaat het hierdie Bybel uit die vlamme gered toe ’n Krüger-opstal afgebrand is, want ek het hom dekades later in België opgespoor. Paul Krüger het nêrens gegaan sonder sy Statebybel nie. Hy was ’n baie slim man en tot in sy siel toe logies. Hy het ook nooit sy Skepper met nietighede belaai nie. Terloops, as jy ’n egte Krüger is, plaas jy altyd ’n umlaut op die “u”. En New York se gewese verkeershoof was ook ’n Cornelius Francois Krüger! Daar is tot ’n Krüger-bierbrouery in Brugge en op die naambord van ’n straat in St. Gallen in Switserland pryk die naam Krüger.”

Die tyd vlieg verby. Ek het al met ’n velerlei mense onderhoude gevoer, selfs met FW de Klerk vir TV, maar nog nooit het ek in een mens so ’n wye verskeidenheid kennis van vele onderwerpe aangetref nie. Con Krüger deel met my die volgende verbysterende onthullings waarvan die meeste tot nog toe onbekend was:

  • Die eerste botsing tussen die inheemse bevolking van Suid-Afrika en die Europeërs het in die omstreke van die huidige Mosselbaai plaasgevind toe Dias en sy manne wou gaan water haal in ’n rivier. Die plaaslike mense – waarskynlik lede van die Outeniekwa-stam – het hulle egter onder die klippe gesteek.
  • Dias het in Struisbaai anker gegooi baie naby aan waar die ou waterput is om daar sy watervoorraad aan te vul.
  • Dias het die Suidpunt van Afrika met sy terugreis na Portugal “ontdek” – nie met die terugvaart nie. (Bronne dui daarop dat dit op 23 April 1488 moes gewees het.) Sy matrose het hom met muitery gedreig en hy was genoodsaak om by die Boesmansriviermond naby Kwaaihoek om te draai, waar hy ’n klipkruis of die Padrão São Gregório geplant het. Dit was die einste Dias wat Kaappunt die naam Cabo das Tormentas (Stormkaap) gegee het.
  • Die Phoenisiërs het egter al 2 000 jaar vantevore hier verbygeseil – van oos na wes en nie van wes na oos soos die Portugese en Hollandse ontdekkers nie. “Die seestrome soos die Agulhas-stroom het in hul guns getel. Die wêreld se eerste historikus, Herodotus, maak hiervan melding in sy geskrifte.
  • Engelse soldate het in die Tweede Vryheidsoorlog doelbewus jag gemaak op alle Krüger-families en hulle geteiken. “Hulle was uitgesonder vir ‘spesiale behandeling’.”
  • Dit was die Moslem-aanvalle op Portugese spesery-ekspedisies oor land na Indië wat direk tot die ontdekking van die seeroete om die Kaap gelei het. “Hulle praat vandag baie oor Isis, maar ek kan vir jou sê die stryd tussen Islam en die Christendom kom al van eeue gelede toe karavane na Indië herhaaldelik deur Moslems aangeval is. Einde ten laaste moes die Portugese hulle tot die see wend om die seeroete via Kaappunt en die Suidpunt hier by ons as handelsroete te vestig. Dis per slot van rekening hoekom Prins Hendrik die Seevaarder sy seevaartskool by Sagres gevestig het.”
  • Daar was streng klasseverdeling op Dias se skepe. “Die beste seelui was op die vlagskip waar die edelmanne en verteenwoordigers van die adelstand, en natuurlik die ekspedisieleier self, die opvarendes was. Het jy geweet die kanonne op daardie skip (die São Cristóvão) was van brons gemaak, maar dié op die ander skepe van yster? Want die uitwerking van yster op ’n magnetiese kompas is veel groter as brons!
  • Die Kruger-stammoeder van die familie was ’n Indonesiese slavin. “Ons is eintlik wit basters,” verduidelik Con.
  • Koningin Anne (“Queen Anne”) het die Jode uit Engeland verban en baie van hulle het na Antwerpen gevlug om hulself as diamantslypers te bekwaam. Tot vandag toe word diamantslypery internasionaal deur die Jode in Antwerp beheer.
  • Die Anglo-Boereoorlog word in Brittanje doodgeswyg. “Hulle het egter hul rieme hier kom styfloop teen die Boere. ’n Handjievol Boere het die Britse Empire tot in sy fondamente geskud. Al was hulle tien keer meer as ons, het hulle het ook tien keer vinniger gevrek!”
  • Dit was Krüger-trekboere wat die Voortrekkerheld Andries Pretorius van die een watergat na die ander gelei het toe hy die onbekende ingetrek het. “Hierdie Krügers is van egte trekboere, nie Voortrekkers nie,” beklemtoon hy.

’n Oggend is hopeloos te min om die geweldige klomp kennis waaroor Cornelius Francois Krüger beskik, te tap. Soveel intellektuele wysheid en verstommende algemene kennis het ek nog nooit in een mens teengekom nie. Ook nie soveel gravitas (waardigheid) nie.

  • Pierre Massyn is ’n oudjoernalis en voormalige lid van die Suid-Afrikaanse Raad vir Oorlogsgrafte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae