Covid-19: Wees besorg oor ons bejaardes

Argieffoto: Pixabay

Die welsynsorganisasie Helpende Hand doen ’n beroep op kerke, families, bure, tehuise en lede van die publiek om seker te maak dat bejaardes medies versorg word, genoeg kos het en nie vereensaam nie.

Dit volg ná vrywilligers by ʼn aftreeoord in Standerton in Mpumalanga ingespring het om te help nadat werkers hulle weens ʼn arbeidsgeskil midde-in die Covid-19-pandemie onttrek het.

Maroela Media het berig dat van die werkers by die Kosmos-aftreeoord nie op die perseel wou inwoon tydens die 21 dae lange staat van afsondering nie. Dit het die bestuur van die aftreeoord genoop om vrywilligers te vra om gesondheidsorg in die isolasietydperk aan dié bejaardes te verskaf.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het intussen kerke versoek om ’n lys van hul bejaardes, veral diegene wat nie in tehuise is nie, op te stel en seker te maak dat hulle in hierdie tyd fisiek en emosioneel versorg word.

“Indien iemand van ’n bejaarde bewus is wat hulp benodig of self ’n bejaarde is wat hulp benodig, skakel dringend Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike hulpnommer by 012 111 8365 of 063 408 7887.

“Ons is baie besorg oor ons ouer mense. Ons kry verskeie berigte van ouer mense wat swaar kry. Hulle is ten eerste baie kwesbaar vir die Covid-19-virus en moet opgepas en geïsoleer word. Dit maak hulle egter ten tweede uiters kwesbaar vir verwaarlosing en vereensaming. ’n Gemeenskap word getoets aan hoe hy die kwesbare en veral ouer mense in sy midde versorg,” het Noëth gesê.

Lindiwe Zulu, die minister van maatskaplike ontwikkeling, het gesê die staat doen tans wat hy kan, maar bure van bejaardes moet hulle ook oor dié mense ontferm. Zulu het ook aangedui dat die staat meer maatskaplike werkers wil ontplooi om die nood van ouer mense te verlig.

“Ons het waardering dat die rol van maatskaplike werkers in die krisis erken word. Die staat se maatskaplike vermoë het egter so drasties oor die afgelope jare verswak dat ’n krisis soos hierdie nie net alleen deur die staat hanteer kan word nie.

“Die staat se maatskaplike stelsel word in krisistye werklik getoets. Jare lange verwaarlosing vergroot ons huidige krisis. Ons sal die staat steun waar nodig, maar moet ook vanuit die gemeenskap op ’n groot skaal help. Daarom ons beroep op die gemeenskap om ’n ekstra oog, oor en helpende hand vir ons ouer mense te wees,” het Noëth bygevoeg.

Die Solidariteit Beweging het ’n noodfonds gestig om gedurende die Covid-19-krisis veral met maatskaplike nood te help. Skenkings vir die noodfonds kan by die Solidariteit Korona-krisissentrum gemaak word by www.corona.org.za.

Diegene wat dié skakel volg, kan ook die volgende dienste kry:

  • Breinopkikkers vir bejaardes saamgestel deur Senior Mind Moves (SMM):

In hierdie tyd van afsondering is ons bejaardes vreeslik eensaam, wat daartoe lei dat hulle dikwels moedeloos en ook depressief raak. Hier is ’n paar breinopkikkers vir bejaardes, wat die brein sommer weer lekker sal laat werk en die gemoed aansienlik verbeter!

  • Stories vir bejaardes voorgelees deur Elma Vertue in samewerking met Helpende Hand en SMM. Hiermee wil ons bejaardes ondersteun in hierdie tyd van afsondering. Ons doen dit deur storievoorlesings op te neem wat die ouer garde sal vul met nostalgie, baie lag en dalk ’n traan hier en daar.

Elma lees van die stories voor uit die pen van Dana Snyman, Pieter Pieterse, Hans du Plessis en vele meer. Daar sal minstens drie stories per week vir die tyd van afsondering uitgesaai word – van nou af elke Maandag, Woensdag en Saterdag om 18:00.

Besoek ook Maroela Media se boekeafdeling vir ʼn verskeidenheid skrywers se eie boekvoorlesings wat daagliks op dié afdeling verskyn.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.