Daar is lesse te leer uit die Spaanse griep van 1918

‘n Militêre noodhospitaal tydens die 1918-epidemie in die VSA. (Foto: Nasionale Museum van Gesondheid en Medisyne in Washington, VSA / Commons.wikimedia.org)

Nes die koronavirus (Covid-19) die wêreld vandag in ʼn warboel het, het die Spaanse griep, ook bekend as die Groot Griep, die wêreld net meer as ʼn eeu gelede onherroeplik verander toe dit sowat 25 miljoen lewens in ʼn kort tydperk geëis het.

Die Spaanse griep verskil egter van nou se Covid-19 omdat die meeste slagoffers jonger as 40 jaar en andersins gesond was.

Hierdie groot ramp het die mensdom met mag en mening in die laaste jaar van die Eerste Wêreldoorlog getref, 1918. Daar word gemeen dat die Spaanse griep laat in 1917 of aan die begin van 1918 in Asië ontstaan en daarvandaan na Europa en Noord-Amerika versprei het. Dit is so genoem omdat berigte van die uitbreking daarvan in Spanje nie gesensureer is, soos in ander lande wat aan die oorlog deelgeneem het nie.

Suid-Afrika swaar getref

Suid-Afrika het nie aan die gevolge van dié ergste pandemie ontkom nie, en was trouens een van die lande wat die hardste daardeur getref is, met 2,6 miljoen mense uit ʼn totale bevolking van ses miljoen wat die griep opgedoen het. Binne weke vandat die griep in Durban “aan land” gekom het, het 300 000 mense gesterf. En byna net so skielik as wat dit gekom het, het dit eenvoudig weer verdwyn.

Van die vroegste gevalle van die Griep in Suid-Afrika is op 9 September 1918 in Durban aangemeld. Dáár is swart mynwerkers, wat op pad na die Rand was, waarskynlik aangesteek. Teen 27 September was daar reeds 14 000 siekes.

Aanvanklik was die griep betreklik lig. Mense het vinnig herstel en min is dood. Maar dit het gou kwaadaardig geword, met die kenmerkende viruslongontsteking wat binne een of twee dae ontstaan het. Daar bestaan ʼn teorie dat twee griepgolwe die land getref het: ʼn betreklik ligte vorm uit Durban, en ʼn meer kwaadaardige vorm uit Kaapstad.

Die kwaadaardige golf van die siekte is deur skepe reg deur die wêreld versprei. Teen die middel van Oktober is mense in alle dele van die destydse Unie van Suid-Afrika aangetas. Volgens die amptelike syfers het 11 726 wit en 127 745 swart, bruin en Indiërmense in die epidemie gesterf. Die navorsing van Howard Phillips, ʼn historikus wat ʼn deeglike studie gemaak het, dui egter daarop dat die eintlike dodetal waarskynlik veel hoër as die amptelike syfer was en dat daar altesaam tussen 250 000 en 350 000 sterftes in die Unie was, ʼn redelike skatting sou wees.

Philips kom ook tot die slotsom dat Suid-Afrika selfs volgens die amptelike syfers een van die hoogste per capita-sterftesyfers weens die Spaanse griep in die wêreld gehad het, veral onder die swart en bruin mense. Indien die syfer van 250 000 tot 350 000 korrek is, is dié land een van vyf in die wêreld wat die swaarste getref is.

Volgens Philips het die Spaanse griep “byna eensklaps … die bevolkingsamestelling van die Unie in terme van grootte, ouderdomstruktuur en die verhouding tussen die geslagte radikaal verander. Dit het aan die struktuur van die Suid-Afrikaanse bevolking vir die res van die eeu fundamenteel beslag gegee.”

Ellende onder die mense

Die Engelse koerant Sunday Times se voorblad het op 13 Oktober 1918 uitgeroep dat dit ʼn griep is “that came to kill”.

“A tour yesterday of the Malay camp, Vrededorp, and other areas where coloured people and poor whites live showed that conditions are appalling there. Whole streets of the camp are under the pall of disease and death. Unfortunate persons lay about in numbers.”

Die koerant het berig dat die armes in dié buurte hopeloos en hulpeloos geraak het nadat die epidemie uitgebreek het. Hulle het saamgekoek, op soek na simpatie en warmte, saam “dop” gedrink en saam doodgegaan. In een huis wat die verslaggewer besoek het, was vyf mense reeds oorlede. Die vier oorlewendes, almal kinders, het op die grond rondgekruip, bo-oor die lyke. Die omstandighede was soortgelyk in baie van die gebrekkige wonings.

Soos wat raad en rate onvermydelik in krisistye uitgedeel word, het die nuus Vrededorp en Fordsburg bereik dat aspirien die misterieuse griep genees. Daar was oombliklik ʼn stormloop na die plaaslike apteke. Een man het so baie aspirien gedrink – saam met alkohol – dat hy daarvan dood is, eerder as die griep. Mense het ook met rate na koerante gestroom. Een man wat geglo het aan “vars lug en diep asemhaal” het by Die Burger-kantoor dood neergeval.

In Kaapstad was die meeste winkels toe. Nou en dan het ʼn trem gery. Die grootste deel van die verkeer was begrafnisstoete dag en nag.

Groot geeste sterf

Onder die oorledenes was groot figure in die Afrikaanse beweging. Die bekendste is die predikant dr. Tobie Muller, wat in sy studentedae ʼn leidende aandeel in die taalbeweging gehad het. As yweraar vir ʼn Afrikaanse Bybel is hy benoem tot een van die Bybelvertalers. In 1916 is hy aangewys as professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch, maar het besluit om liewer die beroep na die NG gemeente Philippolis aan te neem. Hy was al siek toe hy op Sondag 13 Oktober 1918 die diens waargeneem het, en is die namiddag per motor na ʼn plaas waar die hele gesin siek was. Op 25 Oktober is hy oorlede en die volgende dag begrawe. Net ʼn paar mense, hoofsaaklik ou mense en kinders, kon die begrafnis bywoon.

Ander bekendes wat dood is, was Fred Dormehl, hoofbestuurder van die Nasionale Pers, en dr. Guillaume Marais, ʼn Oos-Transvaalse veearts en kultuurman. Ná die griep het ds. MTR Smit ʼn weeshuis vir verwaarloosde kinders op Ugie begin wat deur die jare duisende kinders gered het.

Onregstreeks het die griep gelei tot die totstandkoming van Avbob in Bloemfontein. ʼn Aantal klein begrafnisfondse het weens die baie griepsterfgevalle in duie gestort. ʼn Nuwe onderneming is toe begin wat weens wanbestuur misluk het. Op grond van ʼn verslag van H.H. van Rooijen, gebore Nederlander wat hom volkome met die Afrikaners vereenselwig het, het die Afrikaanse Verbond Spaar- en Voorskotkas Bpk. dit ter wille van die Afrikanersaak oorgeneem, en dié het die Afrikaanse Verbond Begrafnis Onderneming Bpk. (Avbob), op 1 Maart 1921 gestig. Van Rooijen was die Afrikaanse skrywer Karel Schoeman se oupa.

Oorsaak vir dekades lank duister

Die oorsaak van die Groot Griep was vir dekades lank onbekend. In die internasionale nuustydskrif Time is in 1998 geskryf dat die grieppandemie ʼn misterie bly, want byna net so skielik as wat dit gekom het, het dit eenvoudig weer verdwyn.

Die Burger rapporteer op 7 Oktober 2005 dat “in wat as ʼn virologiese deurbraak bestempel kan word”, ʼn span navorsers van Amerikaanse universiteite en die regering aangekondig het dat dit in werklikheid toe voëlgriep was. Die ontdekking sal wetenskaplikes help om te verstaan hoe die voëlgriepvirus geneties verander sodat dit vinnig deur mense versprei word.

Wat die 1918-virus só dodelik gemaak het, was juis die genetiese verandering wat veroorsaak het dat dit blitsvinnig van die een mens na die ander oorgedra kon word. Die meeste slagoffers was jonger as 40 jaar en andersins gesond.

Dit het die Amerikaanse wetenskaplikes tien jaar geneem om die voëlgriepvirus van 1918 te isoleer en te identifiseer. Hulle was uiteindelik suksesvol toe hulle die longweefsel gebruik het van twee Amerikaanse soldate en ʼn vrou van Alaska wat destyds weens die virus beswyk het. Die twee soldate se weefsel is opgespoor in ʼn patologiese laboratorium van die Leër, waar dit al die tyd in formalien bewaar is. Die vrou se weefsel is bekom nadat haar lyk uit ʼn massagraf in die bevrore grond van Alaska opgediep is.

Wat kan ons hieruit leer?

’n Artikel wat onlangs op The Conversation verskyn het, het gesê dat Suid-Afrika 102 jaar gelede met die land se hantering van die Spaanse griep gestruikel het. “Die geskiedenis mag homself nie met Covid-19 herhaal nie,” sê prof. Howard Phillips, emeritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Kaapstad en skrywer van dié artikel.

Die departemente van gesondheid en verdediging moet ag slaan op die lesse van 1918 wat insluit dat voorsorgmaatreëls streng en tot die laaste letter toegepas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
JC Venter

Voëlgriepvirus in 1918, en as mens na berigte oor die oorsprong van die koronavirus kyk, sien mens Wuhan word amptelik as die episentrum bevestig, en dat dit van diereprodukte afkomstig was. Ek haal aan: “Coronaviruses are common in animals of all kinds, and they can evolve into forms that can infect humans, like SARS in 2002 and MERS in 2012. Scientists think this new virus first became capable of jumping to humans at the beginning of December. It originally seemed like the virus first infected people at a seafood market in Wuhan, from where it spread. It is reported one… Lees meer »