Daar is niks soos ware liefde

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Nie elke verhouding deurstaan die toets van tyd nie, maar Gonda en Pieter de Bruyn laat ʼn mens weer in ware liefde glo. Dié egpaar van Pretoria vier vanjaar hul 50ste huweliksherdenking. Ek het met Pieter en Gonda gaan gesels om te hoor wat hulle geheim is.

Pieter is so ʼn bietjie laat vir ons afspraak want hy het eers ʼn lesing bygewoon. Terwyl ek en Gonda tee drink en gesels oor hul kinders, kom Pieter by die voordeur ingestap. Eers raas Gonda so ʼn bietjie (omdat hy laat is) en dan bied sy vir hom tee aan.

Hulle sit langs mekaar op die bank en stry eers oor hoe hulle moet hande vashou. “Hou vas my hand,” sê Gonda terwyl sy Pieter se hand vat. “Dit lyk nou asof jy mý hand vashou en ek nie jóúne nie,” sê Pieter en vat haar hand gemaklik in syne. “Nou toe, hou dan my hand vas,” skerts sy terug.

Hulle het mekaar by Hoërskool Oos-Moot in Pretoria ontmoet. Pieter was reeds ʼn onderwyser daar en Gonda is in ʼn nuwe pos by dié skool aangestel.

Gonda sê sy was aan die begin so oorweldig deur die nuwe pos dat sy nie dadelik vir Pieter ráákgesien het nie. Die leerlinge in haar klas het haar bewus gemaak van dié Afrikaanse onderwyser. Een van die vakke wat Gonda moes aanbied, was toevallig ook Afrikaans en die hoof het haar aangemoedig om kers te gaan opsteek by Pieter, wat Afrikaanse vraestelle opgestel het. Pieter sê hy nie ʼn probleem gehad met dié opdrag nie. “Die hoof het gevra dat ek haar moet help en ek het haar baie gráág gehelp.”

Vir Pieter was dit liefde met die eerste oogopslag. “Sy is in die personeelkamer voorgestel en ek het net gedink sy is verskriklik mooi.” Gonda het toe by haar tannie geloseer en Pieter het gesê hy sal haar sommer by die huis kom help.

Gonda sê sy het voor die klavier gesit toe Pieter instap. “Ek het ‘Chopsticks’ gespeel want dis al wat ek kón speel. Ek het nie gedink hy kan klavier speel nie.” Pieter het voor die klavier ingeskuif en, volgens Gonda, te pragtig begin speel. “Ek het nooit weer ‘Chopsticks’ voor hom gespeel nie!”

Dié twee het dadelik begin uitgaan en het ná drie maande verloof geraak. “Ek dink ʼn mens weet net dadelik dis die regte een. Ons was al twee halsoorkop verlief,” sê Gonda terwyl sy Pieter se hand so ʼn bietjie stywer vashou.

Pieter en Gonda is op 2 Oktober in Kempton Park getroud. Hulle is later Potchefstroom toe waar Pieter as dosent by die Noordwes-Universiteit in die departement Afrikaans-Nederlands begin werk het. Gonda het in die studentedekaan se kantoor ʼn pos gekry waar sy ook later gevra is om as huismoeder van die Eikenhof-koshuis te dien, die eerste vrou wat dié posisie sou beklee. Gonda en Pieter het vir amper 4 jaar as koshuisouers gedien.

En die sleutel tot ʼn suksesvolle huwelik?

Pieter sê hulle het nie ʼn resep gevolg nie, maar hulle het net goed bymekaar gepas.

 “Ek dink ons albei het toegewings gemaak.”

Hy sê ook dat die saambly en saam-lewe sommer vanself gekom het. “Ons het geen kwellings daaroor gehad nie, ons het dit sommer net gedoen.”

“Pieter is ʼn maklike mens,” vertel Gonda. “Ons geaardhede het bymekaar ingeskakel, maar moenie dink mens baklei nié, want daar is verskille wat ʼn mens altyd moet kan oplos. Ons het ook altyd gesê ons moenie kwaad gaan slaap nie.”

Pieter en Gonda het twee dogters en ʼn seun en hulle is ook geseënd met agt kleinkinders. Pieter sê dat hulle altyd probeer het om die beste vir hulle kinders te gee. “Ons het geloop met die lig wat ons gehad het.”

Gonda sê dat die geboorte van hul kinders hul verhouding verdiep het. “Ons was oorstelp met die geboorte van ons kinders en het hulle baie geniet. Kinders bind jou huwelik nog meer.” Pieter sê kinders is ʼn gesamentlike nuwigheid wat ʼn man en ʼn vrou saam ervaar. “Ewe skielik is die babatjie daar en jy’s ʼn pa en ʼn ma. Met die eerste kind word jy wakker in die nag en gaan kyk of die babatjie nog reg is. Met die derde kind is mens nie meer so vreeslik bekommer nie. Jy weet die babatjie is reg.”

Dit wil voorkom asof elkeen die kans gegun is om hul passie en drome uit te leef. Pieter en Gonda geniet steeds ʼn verskeidenheid aktiwiteite, al doen hulle dit nie noodwendig altyd saam nie. Maar Gonda sê sy mis vir Pieter as hy te ver is. “Ek mis hom as hy nie in die huis is nie.”

Pieter sê hy en Gonda se verhouding is so diep dat hy al amper haar gedagtes kan lees. “As sy vir my kyk dan weet ek al wat sy gaan sê.” Gonda sê sy kry soms ʼn benoude gevoel want sy weet hulle word oud. “Een of ander tyd gaan een dalk voor die ander een doodgaan. En ek vrees nogal dat ek alleen moet agterbly. Ek is so gewoond om Pieter naby te hê.”

Ek sê vir Pieter dat hy nie vanjaar se huweliksherdenking mag vergeet nie, en dat hy dalk ʼn nota moet maak. “Nee wat” sê hy, hy sal dié datum nie sommer maklik vergeet nie. “Dis baie naby aan my verjaarsdag,” skerts hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Hanlie ·

Baie geluk met 50 jaar se huweliksherdenking! Ek dink daar is min mense wat dit nog vandag kan doen. Ek hoop dat ek en my man teen 50 jaar nog leef en dit kan beleef. Ons is 26 jaar getroud vanjaar.

jeannine ·

baie geluk oom en tannie met julle gouden huwelijk nog baie mooi jare tesaam gewens vanuit belgie

Cathy Kotze ·

Veels geluk! Daar’s min dinge so lekker soos om saam oud te word. Baie humor, tonne liefde en saamstaan onder alle omstandighede is ons resep. Dis steeds lekker om saam met my man te kuier.

In ons vriendekring is ons van die paartjies wat die kortste getroud is – net 52 jaar!

Douwlene van der Nest ·

Wat ‘n wonderlike voorreg om so gelukkig saam te wees! Dankie vir die mooi voorbeeld jare gelede voor ons die waarde daarvan besef het! Baie geluk Tannie Gonda en Oom Pieter!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.