Dalk is dit mý beurt vandag?

Mimi, wat voorheen Honey was, het intussen haar vir-altyd-huis by Lizma gekry en is glo stertswaai-gelukkig. (Foto: Verskaf.)

Ek het eers besef ek het die N2-afdraai na Kaapstad gemis toe ek Muizenberg se seelug begin ruik.  My kop was by die 185 honde deur wie se hokke ek pas by die Animal Welfare Society Stellenbosch (AWSS) gestap het.

Lieflike diere, so desperaat vir ’n vir-altyd-huis.

Een van die vierpotiges met wie ek tyd spandeer het, het my hart binne sekondes ná ons kennismaking gesteel.

“Honey” met haar groot ogies vol vertroue, ten spyte van al haar lyding, gaan eersdaags warm slaap, lekker eet en hope liefde kry. Soos dit mos hoort.

’n Besoek aan ’n skuiling sal enige diereliefhebber ontstel, maar ek moes eenvoudig kom – my klein Lienka, ’n dowe, driebeen-Jack Russel mis ons Buddy-hond, wat haar oortjies was. Buddy kon ná ‘n lang stryd nie langer teen die kanker baklei nie en is op 13 Januarie dood. Dus was dit skuiling toe vir aanneming. Maar om soveel honde te sien wat met hoop opspring en draad toe storm vir ’n bietjie aandag (en waarskynlik met die hoop dat dit dalk vandag sy/haar beurt is) pluk hard aan die hartsnare.

As mens die “regte” ding doen om ’n dier by ’n skuiling te gaan aanneem, verwag mens ’n “warm” ontvangs wat nie heeltemal die geval by AWSS was nie. Van die personeel was baie beskaafd maar nie wat ‘n mens juis hartlik sal noem nie.

Dit was egter nie lank voor ek skaam gekry het vir my kleinlike gedagtes nie. Elke hond wat Christoné Coetzee, die skuilingbestuurder, vir my uit ’n blaffende kampie gaan haal het om van naderby te leer ken, wou haar opvreet van liefde en vreugde. En op die valerige veldjie waar ek hulle aan Lienka voorgestel het, was Christoné soos nektar vir ’n by. Elkeen van die diere het hulle teen haar aangevly en sy het hulle spontaan omhels.  Dit spreek mos brak-boekdele!

En, dis eintlik al wat saak maak.

Christoné en Mimi. (Foto: Verskaf.)

Mense soos Christoné wat by skuilings werk, doen dit nie vir die geld nie. Dis pure passie. Soos sy ook sê: “Vir love and charity.”

Al het my hart vandag in 185 stukke gebreek sal ek vannag my oë kan toemaak omdat daar mense soos Christoné en haar assistant Samantha is. En as ek mag: ’n groot dankie aan Stephne Jackson van Watershed Animal Rescue and Rehabilitation Fund en Belinda Abraham van die SPCA Grassy Park wat altyd regstaan om te help – of dit nou met aanneming is of met ’n hond in nood.

“Julle is twee van die hondehelde van my wêreld.”

Ek begin nou weer die lang pad stap met ’n nuwe hondekind. Klein Honey, wat ek Mimi gaan noem, se dae van onder ’n bos babas kry en van honger vergaan, is verby.

Met elke nuwe hondekind weet jy egter ook daar lê ’n bitter seer afskeid voor – soos met Buddy – want ons honde word net vir ’n rukkie aan ons geleen.

Honde verstaan wat dit beteken om te lééf – geen verwyte oor gister en geen bekommernisse oor môre nie. Tot die dag wat hulle doodgaan.

En tot dan het hulle ons onvoorwaardelik lief.

  • Mimi het intussen haar vir-altyd-huis by Lizma gekry en is glo stertswaai-gelukkig en reeds klein Lienka se nuwe beste maat.
  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sandy

Ek het my Parsley kind by die DBV aangeneem. Beste besluit wat ek ooit gemaak het. Sal nooit weer ‘n hond koop nie. Asb neem liewers aan – hulle vra net liefde, kos en ‘n warm plekkie om te slaap. In ruil daarvoor kry jy meer liefde as wat jy ooit kon dink moontlik is.

Pieter

Welgedaan Lizma. Het self dit dikwels meegemaak. Seën vir julle.

Helene

Ai dis so hartseer…. My laaste vier honde se eienaars wou hulle nie Meer gehad het nie. My net groot plesier verskaf!

Toy

Ek het self al ‘n hondjie aangeneem by die DBV, dit is net asof hulle geaardheid anders is, die dierbaarste hondjie gewees, dit was een van my beste besluite gewees.

Louise

Hoekom is daar nie meer so baie staats veeartse nie. Hoekom so duur om n hondjie of katjie aan te neem. Hoekom nie meer toegankliker vir die gewone mens nie.
Se maar net, dit bly hartseer. Dink net as die DBV meertoegankliker was, sou daar meer diere huise kry.
Moenie verkeerd verstaan nie, DBV doen uitstekende werk!