Dankie ABBA vir soveel oomblikke

Abba is terug met nuwe musiek. (Foto: Verskaf)

“Thank you for the music!”

Vandag, na baie jare, is ABBA weer saam en hang nie net ons nie, maar dié keer ook geslagte soveel jonger as ons aan hulle lippe met hul nuwe, tog bekende, klanke. Hul nuutste musiek word tans wyd op sosiale media gedeel.

Ek het met Jimmy Swaggart, Anneli van Rooyen en Gé Korsten grootgeword. So tussendeur was daar ook natuurlik boeremusiek en dan was daar ABBA. As ek reg kan onthou, was ABBA ook die eerste Engelse musiekvideo wat ek daardie jare op televisie gesien het. Anni, Agnetha, Benny en Björn was net dié mooiste mense met dié mooiste stemme.

ABBA was selfs so ʼn bietjie kontroversieel. Ek dink my alma mater sal almal die “ou” ooms se besoeke by die skool kan onthou om ons te vertel hoe die duiwel ons met musiek oorrompel! Ek sê nie alles wat hul gesê het was onwaar nie, maar daar was ʼn paar verregaande stellings, soos as jy plate agteruit gaan speel, jy ʼn boodskap direk van die duiwel af kry. Ek onthou nog hoe ons dit probeer het, en daar was net mooi geen boodskap nie … ABBA is ook beskuldig. Hulle liedjie “Does Your Mother Know” was totaal en al uit die bose en natuurlik het dit my juis genoop om die liedjie oor en oor te luister en te ontleed.

Annelize en Mandie by ‘n familiebyeenkoms. (Foto: Verskaf)

Een van my kosbaarste herinneringe aan ABBA was hoe ek en my niggie, Amandé, hulle musiek geniet het. Mandie was so ʼn jaar jonger as ek en as laerskooldogtertjies het ons baie gedeel. Ook ons bewondering vir ABBA. Ons het ure aaneen konsert gehou. Ek was Agnetha en sy was Anni, met die bed as ons verhoog. Terwyl die son nog geskyn het, was ons haarborsels ons mikrofone, maar in die donker het ons die kamerlig afgesit en die haarborsels vir flitsligte verruil – dan was die spotlight op ons! Ons het gesing en gedans en wanneer ons Agnetha en Anni was, het die wêreld stilgestaan en alles was mooi. Ons was ver, iewers in die toekoms. Na die tyd sou ons doodmoeg op die bed neerval en ons drome met mekaar deel. Drome van eendag as ons groot is …

Die lewe het egter sy gang gegaan en soos dit nou maar is, het ek en Mandie verskillende rigtings ingeslaan en mekaar eintlik maar net by familiebyeenkomste, verjaardae en begrafnisse gesien. Alhoewel ABBA ook uitmekaar is, het hulle in die musiekblyspel “Mama Mia” bly voortleef, wat selfs in ʼn film mét ʼn opvolg omskep is! Ek en Mandie het later teenoor mekaar gebieg oor hoe baie ons dié films oor en oor gekyk het!

ʼn Paar jaar gelede het Mandie Centurion toe getrek en vir ʼn kortstondige oomblik het ons ons ABBA-dae herleef. Ons het een konsert na die ander bygewoon; saam met Jak de Priester gedroom oor dit wat was en Joe Black se hoop wat hy in ons harte kom vaslê het, gevoel. Ons het saam met Jan Blohm verlang terwyl Lidi se mooi woorde en kuns ons saam laat lag én huil het.

Ek weet as Mandie nog hier was ons nou weer saam na ABBA se nuutste musiek sou luister en ʼn glasie op ons ABBA-oomblikke wat was sou klink …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Smurf

Ja…..ABBA , As ek enige van hul musiek hoor, kom oorrompel my wonderlike kinderdae in die 70’s en 80er jare my….soms met weemoed ook , want nie een van die ” grootmense’ wat dit netso geniet het tydens n braai of n hemelse famielie kuier op die plaas , is meer daar nie……..

JohanR

Ek sit in ‘n kits kos resturant om gou ietsie te eet en seker vir die eerste 15 minute is die ‘n liedjie(as mens dit soe kan noem) met net twee akkoorde, en die bas en tromme wat een akkoorde speel en dan die ander akkoorde, en dan weer terug na die ander akkoorde. Geen wonder die jeug is partykeer gaga nie. Daai boom boom boom tas jou brein aan.