Dans dat die stof staan

Rieldans

Foto: www.atkv.org.za

Wanneer jy vir die eerste keer sien hoe die rieldans gedoen word, sal jy verstom staan. Hierdie dans kan nie sommer deur enige iemand gedans word nie, en maggies, daar word gedáns!

Die ATKV se Rieldanskompetisie vier vanjaar sy tiende bestaansjaar en Elias Nel, ATKV-projekorganiseerder, sê hulle het die afgelope tyd baie bereik. “Ons het selftrots en ʼn besef van eie waarde bereik. Die behoefte om êrens te behoort, wat veral by die deelnemers gevestig is, is een van ons grootste suksesse sover.” Elias meen daar was ook ʼn bewusmaking van dié oeroue kultuur wat byna ʼn stil dood gesterf het. “Met die ATKV se toetrede, het dit weer lewend geword.”

Die rieldans is eie aan die bruinmense, en Elias sê dit is ʼn terugneem van ʼn deel van hul kultuur. “Vir te lank het ons ander kulture nagevolg – veral die oorsese popkultuur het groot inslag gevind. Maar ewe skielik is hier iets waarmee ons mense kan identifiseer en besef dit (die rieldans) het te make met wie ek is en waar ek vandaan kom.”

Dit is verbasend hoe baie jongmense aan dié kompetisie deelneem – van die 82 groepe wat deelgeneem het, is ongeveer 68 jongmense onder die ouderdom van 18 jaar. “Mens moet dit sien om dit te kan beleef hoe outjies so jonk as drie, vier jaar hulle passies begin maak wanneer die groter ouens dans. Dit was altyd as ʼn kultuurding van die ouer mense beskou, maar vandag is dit andersom, want die meerderheid deelnemers is jongmense.”

Verskeie mense getuig van die positiewe invloed wat dié dans op die kinders het. Leerders wat nie eintlik by ander aktiwiteite ná skool betrokke is nie, kan maklik met verkeerde dinge deurmekaar raak, maar Elias sê daar het soveel kinders handomkeer verander omdat hulle nou besig gehou word. Hy meen dat akademiese vordering ook by hierdie leerders gesien kan word en selfs die stil outjies begin deelneem aan gesprekke in die klas. “En omdat hulle slegs so drie of vier keer per jaar kan deelneem, spring leiers in en soek gereeld geleenthede waar die outjies kan optree om hulle besig te hou.”

Die tiende ATKV-rieldanseindronde vind op Saterdag 5 Desember by die Liqui-Fruit-amfiteater in die Paarl plaas. Kaartjies kos R90 vir volwassenes, R60 vir senior burgers, R40 vir kinders en is te koop by Computicket. Die hek maak om 16:00 oop en die kompetisie begin om 19:00.

Hierdie video is deur Goosebumps Productions op Youtube gelaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pop ·

Maroela ek se dankie. Verkyk my heeltemal aan die kinders. PRAGTIG

maria ·

Hierdie danskuns en dansers is fantasties – een van ons land se kosbaarhede. Baie trots op die organiseerders en natuurlik elke liewe wonderlike deelnemer – oud EN jonk!! kan nie wag vir nog nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.