Dapper vrou oorwin leukemie én breinvliesontsteking

Yolandie Reichen (links) en Carl (regs) met hul dogter Cayla. Cayla was die donatrise vir ’n hoogs-riskante rugmurgoorplanting vir haar ma. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Ná elf jaar se trauma as gevolg van witbloedselkanker en meer as R8 miljoen se mediese uitgawes kan Yolandi Reiche van Struisbaai haar wonderbaarlike herstel slegs aan Goddelike ingryping toeskryf.

“Ek kon letterlik voel hoe ’n sleutel in my bors knars en dit was asof ’n slot binne-in my oopgesluit was nadat ek genesing oor myself gebid het.”

Yolandi is so pas ná ’n jare lange stryd as gesond verklaar.

Hulle was drie vriende en in 2008 is hierdie tipe kanker (leukemie) byna gelyktydig by al drie gediagnoseer.

“Die amptelike naam is chroniese miëloïede leukemie (CLM). Jou witbloedselle val jou rooibloedselle aan. Twee van ons drie is kort daarna oorlede.”

Hierdie moedige boeremeisie is nie ’n slagoffer nie, sy is ’n oorwinnaar. Jy skop nie enigeen wat leukemie én breinvliesontsteking baasraak, agter elke bos uit nie… Vandag is sy “skoon” en het ’n beenmurgoorplanting in Maart vanjaar gehad, nadat haar dogter die skenker was.

Yolandi Claassens is 47 jaar gelede in Johannesburg gebore. Haar pa was ’n skoolhoof en sy het Afrikaans en Engels aan die Randse Afrikaanse Universiteit, nou die Universiteit van Johannesburg, gestudeer. Sy ontmoet haar man, Carl, “in Parys op die walle van die Vaalrivier en dit was liefde met die eerste oogopslag”.

Hulle is nou 24 jaar getroud.

“Ek het een oggend wakker geword met ’n verskriklike pyn in my sy en ’n erg geswolle buik. Carl het my onmiddellik dokter toe gehaas en ná intensiewe ondersoeke het hulle witbloedselkanker by my gediagnoseer. My milt het byna drie kilogram in stede van 200 gram geweeg. Die kanker was as uiters aggressief gediagnoseer.”

Ná ’n reeks uitmergelende chemoterapiesessies was sy so siek dat sy in Mediclinic Constantiaberg in Kaapstad se intensiewe sorgeenheid om haar lewe geveg het. Hulle het haar ná sewe weke huis toe gestuur.

“Die hematoloog, dr. Mike du Toit, en ’n dame van Hospice het my by die huis besoek met die nuus: ‘Jy het drie maande oor om te leef.’ Intussen het ons twee vriende Oosie Oosthuizen en Glenda Hodgson weens leukemie gesterf.”

Dat sy vandag nog leef, is net die Here se genade, deel sy Maroela Media in ’n eksklusiewe onderhoud mee.

“Ek het deur my ouma Isabelle van ’n dokter James van Zyl van Stanger gehoor, wat nie net ’n medikus was nie, maar ook mense wat aan ongeneesbare siektes ly, gesond bid. Hy is intussen oorlede.

“Ek het hom nooit persoonlik ontmoet nie, net telefonies met hom gepraat. Hy het die waarheid by my tuisgebring dat daar deur Jesus Christus se wonde vir ons genesing kan kom.[1] My vriende en my man se ondersteuning deur die jare was absoluut wonderlik, maar sonder geloof kan jy vergeet.”

Carl is ’n ingenieur en ten einde die rekeninge wat oor elf jaar gemiddeld R30 000 per maand beloop het, moes hy in die Verenigde Arabiese Emirate werk vind; hier was Yolandi ’n onderwyseres in ’n skool wat 96 verskillende kulture gehuisves het.

“Elke nou en dan het die owerhede ons handboeke kom inspekteer en elke verwysing na Jesus Christus en Jode met swart ink doodgetrek! Hulle kon ook nie prentjies of illustrasies van sekere diere soos varke verdra nie.”

Yolandi se leukemie het na haar rugmurg versprei en ontaard in breinvliesontsteking. Die enigste moontlike behandeling hiervoor is ’n Haplo-beenmurgoorplanting met die deoksiribonukleïensuur (DNS) van iemand wat ná aan jou verwant is. Die kanse vir genesing hiervan word op nie meer as 40% bereken nie.

“Die lumbale punksie wat hulle my moes gee ten einde rugmurgmonsters te onttrek, was byna onbeskryflik seer.”

Maar met haar dogter Cayla as skenker, was die beenmurgvervanging ook ’n sukses en het sy deurgetrek. Yolandi Reiche maak mediese geskiedenis in dié sin dat sy slegs die vyfde pasiënt in vyf jaar is – sedert sy hierdie tipe behandeling ontvang het – wie se operasie suksesvol was.

“Ons is deur ’n bitter moeilike tyd wat geweldige eise aan ons huwelik gestel het. As dit nie vir God en ons vriende was nie, sou ons nie vandag hier voor jou gesit het nie. Jy het nie ’n idee hoe hierdie siekte jou uitput en aftakel nie. Elke keer wanneer ek vir ’n kankerseltelling moes gaan om te bepaal of daar remissie is of nie, was dit soos ’n swaard wat oor my kop hang. Ek moes bestraling ontvang en my hare het uitgeval. In een stadium moes Carl my uit ’n bekende staatshospitaal red waar ek besig was om weg te kwyn.”

Maar wat gaan deur mens se gedagtes as jy ’n doodsvonnis kry?

“Eers beleef jy ’n toestand van skok. Dan is dit ontkenning. Dan kom die vrae: Wat gaan van my man en die drie kinders word? Uiteindelik gee jy alles aan God oor. Dan bereik jy berusting.”

Carl, ’n voormalige Transvaalse rugbyspeler, se kontrak by Siemens het nou verval. Hulle kon nie langer in die Midde-Ooste aanbly nie aangesien “daar geen werkloses mag wees nie.” Intussen het hulle ’n dak oor hul koppe en woon gelukkig op Struisbaai waar Carl op die uitkyk is vir nuwe werk.

“Ek het gehoor van ’n fantastiese produk op die mark wat water sonder chemikalieë kan behandel. Dis die soort ding waarby ek betrokke kan raak.”

Die onvermydelike vraag is dié van mediese kostes. Die Reiches betaal vandag nog maandeliks R7 200 aan Discovery mediese fonds vir dekking vir hulle as gesin.

“Onkoloë, spesialisbehandeling en hospitaalonkostes is skrikwekkend duur. Met hierdie pad wat ons gestap het en my jare lange navorsing, kan ek nou vir jou sê daar is geen manier dat hierdie nuwe gesondheidsplan van die regering ooit kan werk nie”, sê Carl.

En Yolandi?

“Jy moet eenvoudig positief bly”, sê sy. En sy het nie haar sin vir humor verloor nie.

“Onlangs loop ek op die muur van die groot getypoel in L’Agulhas waar jy altyd swem. Toe verloor ek my balans. Ek moes kies tussen die see en die getypoel. Toe kies ek die getypoel en plons met klere en al in die yskoue water. En daar skaterlag almal!”

Yolandi is deel van ’n toegewyde groepie vroue wat almal kankeroorlewendes is.

“Ons is ’n ondersteuningsgroep wat mekaar en ander vroue in dieselfde krisis ondersteun.”

Carl werp ’n stuiwer in die armbeurs. “Ja, hulle laat nie mans toe nie! Hulle noem hulself die ‘Steel Magnolias’!”

’n Ystervrou, voorwaar. En ’n inspirasie vir ons almal.

  • Pierre Massyn is ’n skrywer en navorser.

Voetnota:

Besoek Yolandi se skarebefondsing-blad op GoFundMe.

[1] Verwys na Jesaja 53: 4,5 en 1 Petrus 2:24: Deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Sommige vertalings lui “strepe”, oftewel hale of snye. Volgens tradisie is Jesus onder Pontius Pilatus op die Romeinse manier gegesel – 40 minus 1, dus 39 houe. Volgens een teorie is die mens onderworpe aan 39 hoofstroomsiektes en kwale; ’n merkwaardige toeval, indien dit korrek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Verskalf ·

Dis so lekker om sulke positiewe nuus in die oggend te lees. Dit maak mens net soveel meer dankbaar om elke dag gesond te kan opstaan.
Well done Yolandie!!! Jy is waarlik ‘n Engelkind. Dankie dat jy die besonderse nuus met ons gedeel het.

Stephan de S ·

Dankie vir die publikasie v hd mooi verhaal. Dis nuuswaardig. Saam dankbaar met die gesin.

HEVW ·

Nee, sy is nie die oorwinnaar nie, haar hele verhaal verkondig tog luit dat God die oorwinnaar is.

Anita ·

So dankbaar saam met julle. Alle eer aan Hom. Jesus is wonderbaarlik goed

Henk Stander ·

Ons is almal saam met julle dankbaar ek bly. Wonderlik dat julle hierdie ding deur is en nog meer wonderlik dat julle die lof aan ons Vader gee.

Sterkte en voorspoed vir julle.

Lizzie ·

Yolandi jy is reg Jesus genees en Hy is ons toevlug. Sterkte vir jou wat ‘n inspirasie vir baie van ons is.

Danie Brink ·

Baie dankbaar teenoor God saam met Yolandi en haar gesin.

Daar is maar altyd spanning tussen die twee stellings 1) God het die kanker genees en 2) ek het die kanker oorwin. Daardie spanning is ook in hierdie artikel teenwoordig – die opskrif staan in spanning met die eerste paragraaf.

Nietemin, ook baie dankbaar vir Yolandi se geloof in God.

sherise ·

Ons kan saam met jul ons liewe Here dank vir Sy groot genade, elke dag. Lewe le nie in ons dr’s en slim’ mense se hande nie maar in ons Vader wat ons aanmekaar geweef het.
n Nuwe lewe..leef hom voluit..
dankie vir die deel..

Hanlie ·

Yolandie, so baie bly saam met jou en jou gesin. GOD IS VOORWAAR IS GOD VAN GENESING EN WONDERS!!!! Het my man ook afgestaan weens kanker, glad nie ‘n maklike pad om te stap nie. Maar GOD het voorsien aan al my behoeftes en weer geseen met ‘n wonderlike man.

Carl ·

Just 2 things quickly. Pierre submitted this article to MM and they elected to publish it today. 27 September 2019. This is her Yolandi’s ‘birthday’ If thats not heavenly intervention, then I’m not sure what is. Thank you Pierre and Tish, for your friendship and support too in this challenging period. Simply awesome to have ‘real friends’. Challenges like these are real. When people comment and say, ” we know what you’re going thru”, most have no idea. I can tell you that categorically.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.