David Beretti aan die stuur van Overberg se sake

david-beretti

David Beretti is die munisipale bestuurder by die Overberg-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap. Foto: David Beretti/ Linkedin.com

Deur Pierre Massyn

Mense het al van die ODM gehoor, maar weet nie juis wat die organisasie doen nie. Ons lig die sluier in ’n rare onderhoud met een van die invloedrykste individue op die suidelike uithoek van Afrika.

“Die Overberg-distriksmunisipaliteit (ODM) het vir drie jaar agtereenvolgens ’n skoon oudit van die ouditeur-generaal ontvang,” onthul David Beretti trots in ’n eksklusiewe onderhoud met Maroela Media.

“Ons is tans een van net 33 munisipaliteite uit 282 in Suid-Afrika wat ’n skoon administrasie bedryf,” vertel dié innemende Boere-Italianer wat aan die stuur van die ODM staan. Teen die mure in die gang pryk foto’s van hom en Helen Zille en Thembekile Makwetu en ander swaargewigte.

“Ons hoor elke dag van onluste en munisipale kantore wat aangeval word. Het julle ’n gebeurlikheidsplan?” wil ek weet.

“Ja, ons is op ’n gereedheidsgrondslag en die rampbestuurspan en hul vrywilligers kan binne minute ontplooi word. In samewerking met die polisie weet ons ook waar potensiële brandpunte is,” verduidelik Beretti.

“Onlangs het daar 11 opslaanhutte in Struisbaai-Noord afgebrand terwyl daar nie ’n brandweerwa op Struisbaai self gestasioneer is nie. Wat is u kommentaar daarop?” moet ek ’n ongemaklike vraag vra.

“Kyk, as daar genoeg geld was, was daar beslis ’n behoorlik toegeruste wa en opgeleide personeel op Struisbaai. Maar ons moet ons laat lei deur die statistieke en die aantal oproepe na brandsituasies en dié is tans binne perke. Bredasdorp se rampbestuursentrum bedien die hele Overberg. Dit is wel binne my mag om ’n helikopter beskikbaar te stel wat blitsvinnig op enige brandtoneel kan wees. Ons is sentraal geleë en kan vinnig probleme oplos. Van Bredasdorp af bedien ons dorpe binne ’n radius so wyd soos Hermanus, Caledon, Swellendam en Riversdal. Ek is tevrede dat ons reaksietyd goed is.”

“Nou hoe groot is die gebied wat julle bedien, David?” Met sekere mense is jy dadelik op voornaamterme.

“Pierre, ons moet sorg vir dienste in ’n gebied wat 1 400 vierkante kilometer beslaan. Ons pas toe wat ons noem volvloerdienslewering. Volgens die Grondwet mag niemand uitgesluit word nie. Dit maak nie saak waar jy woon nie, jy word deur ons gedek. Ingevolge die Grondwet is jy op basiese dienste geregtig en dis wat ons lewer. Daar is 45 sulke distriksmunisipaliteite in Suid-Afrika. Ons is die sinergie wat alle munisipaliteite in die Overberg aanmekaar verbind. Soos jy dit tereg gestel het, is ons die gom wat alles bymekaar hou.”

“Hoe word jul funksie gesanksioneer?” David Patrick Beretti ken sy storie. Die sertifikate agter hom getuig van verskeie grade.

“Ons is ’n kategorie C-munisipaliteit en handel ingevolge artikel 83 (3) van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture (1998). Ons begroting is tans R203,5 miljoen en ons kry dit hoofsaaklik van die nasionale regering via die provinsie. Ons wend dit aan vir ’n wye reeks funksies wat wissel van die onderhoud van paaie en gesondheidsdienste tot rampbestuur. Dan werk ons ook nou saam met Tim Harris van Wesgro om toerisme te bevorder, werk en geleenthede vir boere en ander ondernemers te skep. Ons het verskillende departemente wat dié lynfunksie uitvoer.”

Ek skryf hierdie storie juis op Wêreld-Oseanedag en gedagtig aan die 640 000 ton visnette en plastiekafval wat die jaarliks in die see gestort word (met katastrofiese gevolge), por ek die onderwerp van die onderhoud hoopvol aan:

“Julle het mos ’n omgewings- en bewaringsbeleid, nè David?”

“Ja Pierre, ons stel die beleid oorhoofs vas en die KAM (die Kaap Agulhas Munisipaliteit) is veronderstel om dit te implementeer.” (Ek dink: hoe kon KAM ’n eeue oue visvywer met dinamiet die lug in blaas om ’n getypoel te bou, net om die see daarna vir jare lank met dodelike kolorien te besoedel?)

Hy verduidelik verder: “Herwinningsterreine is vir my baie belangrik en ons beplanning is 55 jaar vooruit.”

Ondervinding het hierdie dinamiese man aan die stuur genoeg. Hy was instrumenteel in die transformasie van die ou Kaapstad van 39 individuele munisipaliteite tot sewe en uiteindelik tot een megastad – die Stad Kaapstad.

overberg-distrik-kaart

’n Kaart van die Overberg-distriksmunisipaliteit. Grafika: Westerncape.gov.za

“En die ODM se grootste uitdaging?” vra ek.

“Sonder twyfel om met ’n steeds krimpende begroting voort te gaan om gehaltedienslewering vir almal in die Overberg te bied,” antwoord hierdie werkesel ferm. “En een ding wat ek nie duld nie, is korrupsie. Elkeen van my 305 personeellede weet dit. ”

“Jy het ’n reputasie dat jy jouself hard dryf. Is dit waar?”

“Ek werk elke aand tot 10 uur en oornag op Bredasdorp, hoewel ek in Kaapstad woon. Ek sien my eie dierbares net naweke,” erken hy beskeie.

David Beretti is ’n voorbeeld vir ons almal. Ek glo die ODM is in goeie hande.

  • Pierre Massyn is ’n voormalige skakelbeampte van die stadsraad Randburg en adjunkskakelhoof van die Rössing-uraanmyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

David probeer dog die bevolking groei buite proporsie. Die provinsie hou die teuels styf en speel sy kaarte naby aan die hart, maar chaos dreig en geld is skraps. Die DA wil misdaad uit sy naam weer. Om naby of ver krisisse te hanteer is twee verskillende dinge. Tyd is die kruks. Om-die-draai kry gou reaksie maar verder weg, gee die duiwel tyd om te gedy. Die man gaan homself uitbrand. Hoeveel tone en vingers het een man om baie gate in ‘n damwal te stop.

Hermanus ·

David en Pierre. Bring julle tjorre sodat ons deur die Overberg se potholes kan ry. Hierdie is al weer die DA wat skielik trompet blaas. Belowe julle die vriende en kennise wat julle altyd ondersteun het, sal nie weer die fout maak nie. Hou dop VF+ gaan sterker vertoon in Overstrand omgewing.

Penellope Jones ·

Baie dankie dat die leisels so styf vasgehou word!
Alle voorspoed vorentoe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.