Demensie – die hartseer siekte

HT-dimensie-01

Ma op haar gelukkigste aan die woel in die tuin op Eldorado. Foto: Verskaf.

Ma het onlangs 90 geword. Maar wat ’n groot oomblik moes wees, laat ons met die hande in die hare – sy is al ’n dekade nie meer met ons nie ná sy demensie ontwikkel het. In die proses het sy kontak met omtrent al haar vriendinne en kennisse verloor – dié wat nie reeds oorlede is nie.

Nogtans het ma meer as een lewe ingepas. Haar huwelik met pa, prof. Jan Toerien, was nie beskore om die 25 jaar-herdenking te beleef nie. Jan was 51 en het pas die Akademie vir Wetenskap en Kuns se Havengaprys vir biologie ontvang, toe hy, as president van die Wêreld-anatomiese Vereniging onderweg na kongresse in die VSA en Japan op die JF Kennedy-lughawe sterf. Ma was nog nie 50 nie.

Maar in daardie jare het sy veel vermag. Sy het oor ’n diploma in huishoudkunde beskik toe sy en pa getroud is, maar studeer ná die huwelik deur Unisa vir ’n BA-graad. Sy en pa – pa vanuit ’n paleontologie-agtergrond en sy argeologie, doen saam omvattende navorsing op die Chrissiemeer-San.

Pa en ma kort voor pa se dood. Foto: Verskaf.

Toe pa sy tweede doktorsgraad in ontvangs neem, val sy langs hom in om haar honneursgraad te kry.

In Bloemfontein behaal ek my BA-graad, en weer is ma gereed om ’n honneurs in ontvangs te neem, die keer in kunsgeskiedenis. ʼn Interessante tussenspel was ’n werkstuk wat die honneursklas moes doen oor ’n toekomstige kunsmuseum vir Bloemfontein. Ek, as derdejaar en dus slimmer as ’n mens, stel voor sy doen dit op Oliewenhuis, toe nog ’n presidentswoning. Dit was 1976, en ek sê daar kom ’n nuwe bedeling sonder eerste minister, en die Bloemfonteinse presidentswoning wat sy funksie gaan verloor. Ma skryf vir die presidensie, en kry ’n brief terug met die strekking van ongeveer: “Sê vir daardie seun van jou daar is nie so ’n ding nie.”

Ma doen nogtans die navorsing, soos vogmeting, ligmetingtoeganklikheid en ander.

Eers in 1985 word Oliewenhuis aan die Nasionale Museum oorhandig om kunsmuseum te word.

Ma en Barend op hul plasie in die VSA. Foto: Verskaf.

Pa is egter toe lank reeds oorlede, en ma is met pa se neef, die Afrikaanse skrywer Barend J. Toerien, getroud. Hulle woon op sy plasie by Kerhonkson, sowat 160 kilometer noord van New York in die VSA.

Saam koop hulle die plasie Eldorado by Onrus. In sy boek, ’n Boek vir Onrus, skryf Jan Rabie oor nog ʼn skrywer, Barend, wat ʼn Onrusser word. Barend plant waterblommetjies in die rivier, waarvan mens jare later nog kon pluk. So word ook ek deur Rabie op sy eens beroemde seewierjellie getrakteer.  Ma werk soos ’n slaaf op Eldorado, maar die huwelik hou nie, en Barend word uitgekoop.

Hierna word ma onder meer kurator van die Dorpsmuseum in die Paarl, en na sy afgetree het keer sy voltyds na haar geliefde Eldorado terug. Nie lank nie word ons drie kinders behoorlik deur goedbedoeldes “geteister” dat ma darem nie so alleen daar kan woon nie. My broer Nico en sy gesin trek ook op Eldorado in, en die geklaery kry min of meer end. Ma floreer.

Sy mag lankal nie meer kruiwa stoot nie, en as ek daar kom sit ek my uit om soveel as moontlik van die swaar werk te doen, soos klippe te skuif en bome in die rivier af te saag. Kort-kort betrap ek ma dat sy met ’n skottel vol klippe iewers op pad heen is.

En toe “verlaat” sy ons. Dit neem ’n ruk om haar reg gediagnoseer te kry, en sy word taamlik gou in ’n inrigting in Hermanus opgeneem waar sy goed versorg word.

Ons het voortekens gesien, maar nie herken nie. Vir jare het sy aan my gesit dat ek ’n antieke tafel moet oorneem en huis toe vat. Ek het egter geen ryding om dit mee te vervoer nie. Op ’n dag neem my werk my na Onrus, en ek ry met ’n werksbakkie. Ek sê toe ek kan die tafel nou neem. Maar ek kry ’n skrobbering oor ek die tafel wil vat – sy is mos nog nie dood nie. Ek gooi hande in die lug, en sê dis ’n misverstand. Dit het ma se bui amper ’n dag geneem om te sak, en ek is sonder die tafel terug huis toe. Skaars twee weke later bel sy en wil weet wanneer ek dan die tafel kom haal.

Dit staan nou in my broer se huis.

Al hoe meer mense het na haar as eksentriek begin verwys, en my Amerikaanse stiefsuster verwys na haar as “scramble headed”.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie meen daar is wêreldwyd 50 miljoen mense wat aan demensie ly. Dit neem egter jaarliks toe, en die aanduidings is dat daar elke jaar nog tien miljoen mense is wat aan dié hartseer siekte ly. Die tempo van agteruitgang verskil van persoon tot persoon.

Heelwat navorsing word gereeld gepubliseer oor nuwe deurbrake met demensie en Alzheimer se siekte.

Daar is ook ʼn vorm van self-toegediende demensie wat deur oormatige drankmisbruik veroorsaak word.

Ma het geleidelik agteruitgegaan, sodat sy nou in ’n rolstoel is en niks vir haarself kan doen nie. Sy weet nie wie ons is nie.

Vir my was daar ’n besonder hartseer oomblik. Ek en vroulief Joan het by haar geleer van die program Kommentaar wat Sondagaande op RSG aangebied word. Ma het Niekie vd Berg en sy spannetjie net nie gemis nie. Jare later breek vir my ’n groot oomblik aan dat ek self ’n panneellid word. My broer-hulle lig my ma in, maar sy kan glad nie meer so ’n program onthou nie. Toe hulle haar inlig dat ek kanker het, was dit nie meer duidelik of sy weet wie ek is nie.

Sy is daar, maar ook nie daar nie. Tydens die degenerasie-proses het sy by geleentheid ʼn periode beleef waar haar langtermyngeheue tot strome verhale uit haar jonger jare gelei het. Maar dit het ook toegeklap.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Gesondheid, Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

INUS BRONKHORST ·

Sterkte ons is ook deur so situasie met my moeder. Nie aangenaam nie maar by tye humoristies.

Kannaland ·

Dit is baie hartseer. Ek sien uit na nuwe tegnologiese vooruitgang waar ons beter oplossings vir kanker, dimensia en ander siektes kry. Ons moet ons jongmense aanmoedig om in wetenskap, kunsmatige intelligensie en medies te studeer.

Die Oracle ·

My Pa is laasjaar oorlede in sy vroee sewentigs na +/- 12 jaar van Altzheimers. Dis ‘n verskriklike siekte en ek wens dit nie niemand toe nie – nie eers my grootste vyand nie. Een dan wat ons wel geleer is die enorme impak van dit op die persoon se lewensmaat inhou so indien finansieel (R15,000 to R25,000 p/m) moontlik stuur jou geliefde so gou as moontlik na ‘n inrigting. Alhoewel ‘n mens skuldig voel en dit baie hartseer is is dit wel baie beter vir die persoon wat siek is en vir sy lewensmaat wat agterbly…

Zelda ·

My ma van 63jr het tans ook demensie. Sy het dit al vir amper 6jr. En ons as familie weet dit nou eers vir 4jr. My ma het dit probeer weg steek. Maar ons almal het agter kom daar is groot. Ons het tans n rolstoel aan geskaf. Ek het n horlosie gekoop wat my laat weet as sy geval het omdat sy net skielik val. Dis elke dag n raaisel oor waar haar gemoed is vandag. En ook in watter bui my ma is. Net die manier hoe sy jou groet as jy by die deur inloop dan weet jy klaar of jy lank gaan kuier en of dit n kort kuiertjie gaan wees.

Martiesan Viljorn ·

Ek kan maar net saamstem demensie is ook 4 jaar gelede by my Pa gediagnoseer. Hy was n sterk leier in ons omgewing, uitstekende boer en sy hande het vir niks verkeerd gestaan altyd daar om medemens te dien, ten koste van homself en sy gesin. Hy was die beste Pa en lewensmaat waaroor ons net stil dankbaar is. Ek is die oudste van 3 dogters het 37jr die voorreg gehad om saam met hom te boer – ‘n verhouding waaroor ‘n mens net kan droom. Sy vrou en ons moeder die koninging in ons huis met 3 dogters as prinsesse. Disipline, liefde en sekuriteit was ‘n gegewe. Tot hierdie “siekte” ons gesin uit mekaar kom ruk, Ma wantrou, tree vreemd op ook die “siekte” wat sy kop uitsteek, sussies wat deel van ‘n hegte gesin begin mekaar wantrou, beskuldig met die gevolg dat ek wie my lewe lank otp die familieplaas gewoon hard gewrerk het net uitstap met net die pyne a g v jare se harde werk en van die onenigheid en aanstel van kurator wat in 2jr wat hy aangestel is nie eers op die plaas was, beeskudde wat geslagte lank opgebou is, net verkoop al was dit nie regte tyd vir goeie pryse alles wat deur geslagte opgebou is word verkoop, familie erfenis word deur “aasvoels”‘opgeraap en ek as oudste staan magteloos, regsaksies word deur kurator geignoreer Pa word gestroop van alles waarvoor hy gestaan het Wreed & Vernietig alles wat kosbaar was.

Lynette Luff ·

Ek is by die beginpunt van die reis met n ma met demensie. Omdat ekself nog werk moes ek ma in n ouetehuis met n demensie afdeling inboek. Sy het 2x in die hospitaal beland met ontwatering en ondervoeding. Sy eet of drink nie wat ek by haar neersit nie. Sy vergeet. Catscan wys hoe haar brein aangetas is. Haar verwarring en woede oor ek haar “weggooi” het dat ek n paar meer haar amper gaan haal het. Ek leef nou elke dag vir die enkele ligpunte wanneer dit goed gaan. Die afdae begrawe ek. Sterkte aan my mede reisigers.

Retha ·

Dit is n seer siekte, seer vir diegene om die persoon met dimensia. My moeks, het ook net eendag begin vergeet, haar oersoonlikheid het verander. Vir my pa toe 82, was dit onverstaanbaar. Oupa is dood, ouma kon dit nie onthou, sy het na hom bly soek. Nege maande later is sy dood, vir ons n hartseer, maar as ek so lees, is daar dankbaarheid, mamma is dood voor sy ons vergeet het…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.