Desember 2016 – Januarie 2017: Tyd om te besin

Biddende_hande_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dis nog altyd so. Desember se Oujaar betrap jou so ampertjies onverhoeds en as jy so ʼn entjie verder kyk sien jy die nuwe jaar wat jou skielik nader wink. Daar is só baie wat jy nog kon en wou doen en ʼn mens wens amper jy kan die koms van die nuwe jaar net so ʼn bietjie uitstel.

Dis nou agtertoe-kyk-tyd – tyd om terug te kyk na die lief en leed en dankbaar te wees vir albei. Want dis die lief wat die leed draagliker en die leed wat die lief kosbaarder maak. Vir ʼn atleet is dit nie die pyn van oefening wat hom bybly nie, maar die soete bevrediging om die wedloop te voltooi en te weet dit was nie tevergeefs nie.

Binnekort is dit vorentoe-kyk-tyd en die nuwe jaar wink ons nader om uit die wegspringblokke te skiet om nog ʼn jaar voluit te lééf omdat lewe so kosbaar is. Voluit leef is ʼn keuse: Nie omdat nie, maar ten spyte van – van wat ook al.

Elke feesgety laat ʼn mens se gedagtes koers kry. Nie daar in die malle gewoel van koorsagtige Kersinkopies nie. Nie tussen Kersversierings en die sinnelose “Jingle Bells” en “We Wish You a Merry Christmas and a Happy New Year”-gesanik nie. Nee, terwyl die son sak en jy by jou vuurtjie sit en luister as die branders teen die rotse slaan. Terwyl jou gedagtes ver paaie loop en jy dink aan jou dierbares wat ver weg is.

Ek dink dis goed om aan die feesgety sin en betekenis te gee. Vir my is die feesgety ʼn kort betekenisgelade werkwoord: GEE. Ja, natuurlik, sou ʼn mens dink, en dis ʼn springklippie na GESKENKE. Sekerlik ʼn logiese gevolgtrekking, maar voorwaardelik: Die GEE moet van harte wees en die GESKENK moenie noodwendig met geld gekoop word nie.

Rondom Kersdag dink ons aan God wat geGEE het. ʼn Eenmalige, allesoortreffende, lewensveranderende gawe met nimmereindigende gevolge: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Geld kan dit nie koop nie, want dit is genade.

En ons? Waar begin ons met geld wat skaars en nikswerd is en ons weet nie wat om te koop nie. Dis maklik: Ons GEE van harte wat geld nie kan koop nie. Om dit te GEE, verbly die hart van die ontvanger en verruim die hart van die gewer.

Kom ons dink vir ʼn wyle oor die kosbare gawes wat nie ʼn prys het nie omdat geld dit nie kan koop nie. Elke mens smag na onvoorwaardelike liefde – nie net die maklike liefde nie, maar dalk ook vergifnis en dalk nog ʼn kans. GEE tyd en as ons nie tyd het nie, moet ons tyd maak. Tyd om te luister en tyd om te praat. Tyd om saam te huil, te lag en te speel. GEE moed vir die moedeloses, hoop vir die hopeloses, raad vir die radeloses en koers vir die verdwaaldes. Bring vreugde om verdriet te laat verdwyn. Wees daar vir iemand. GEE vashouplek, ankerplek, huilplek, troosplek en bidplek. Ons is daar vir mekaar.

My goeie vriend sê dit so: “As ek my kop vanaand op die kussing sit en ek kan nie dink aan iemand vir wie ek ʼn verskil gemaak het nie, het ek ʼn kosbare dag gemors.” Dalk is daar baie om in te haal….

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sael Strydoms ·

iemand het vertel dat Armoede, nie die tekort aan finansiele voordele f behoeftes is nie maar Armoede is : Verwerping en -Eensaamheid. Hoeveel mense is daar in die tyd wat so voel? Dink ons ooit aan hulle-is dit nie waar ons gawes en geskenke moet uitdeel nie?

Genoeg ·

Ek is slegs 4mnde van 60 jaar af weg. Vir die eerste maal in 8 jaar sal ons deur die Genade van bo al 3 ons kinders met hul gades en ons 5 kleinkinders by ons hê. Vanaand voordat ek kom lê het, het die gedagte by my opgekom om alles in my huis wat min gebruik word onder my kinders, skoonkinders en kleinkinders te verdeel. Weens onvoorsiene omstandighede gaan ons deur ‘n erge finansiële krisis en is daar nie fondse vir enige geskenke nie. Die wete het by my opgekom dat ek nou, terwyl ek nog lewe moet weggee wat my nog op hierdie ou aarde bind, want dit is alles slegs aardse goed. Ek weet dat ons Heer hierdie op my hart gedruk het en daarom sal ek gehoorsaam wees.

Ook so ·

Genoeg, ook so voel ek nou in my 70’s. Saamwees is egter die grootste geskenk wat gegee kan word. Hierdie jaar ook my ander helfte verloor. Ek sal maar wegbly van jolyt en stil alleen kersdag deurbring. Ek is genooi vir kersdag maar dit gaan ook km’s op die pad beteken. Die dag met grassny, wasgoed was en stryk, kosmaak ens. gaan darem verby met vriende wat wel kom kuier en ook ek by hulle. My huis is nou omskep met oudhede en is nou ‘n museum. Wat daarvan gaan word weet ek nie want skynbaar stel die Afrikaner nie belang in sy herkoms om dit te bewaar. Om hierdie goed weer in privaat hande te laat beland gaan ‘n fout wees. Ek is nie die enigste wat sit met hierdie probleem. Dit moet egter ‘n museum wees waar die regering of plaaslike munisipaliteite GEEN sê het want met Bethal se museum het ek ‘n stel afgetrap en sukkel om ‘n tikmasjien uit hulle te kry. Ander goed is verinneweer en nou in ‘n swak toestand of sommer net weg.

Ook so ·

“Die dag” waarvan ek melding maak is nie kersdag maar ander weeksdae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.