Die armoede-uitdaging

sopkombuis

Foto: Pixabay/Pexels.com

Geen April-gek grap nie: belasting op toegevoegde waarde (BTW) het tot 15% gestyg: die eerste keer sedert die belasting ingestel is. Kleinhandelaars het reeds hul pryse opgestoot omdat die belasting hul winsgrens negatief raak.

Die bykomende styging in die petrolprys gaan pryse deur die bank laat styg – nie net die direkte koste van vervoer nie, maar ook in besonder voedselpryse, wat elke enkele Suid-Afrikaner raak – maar die gegoede mense gaan dit skaars agterkom.

Aan die ander kant van die skaal, gaan die laerinkomstegroepe direk geraak word: vir ’n huishouding met ’n inkomste van R10 000 per maand, is ’n ekstra R500 uitgawe amper ’n krisis.

“Ekonomiese moeilikhede sal families beïnvloed omdat die verhoogde stres om die rieme dunner te moet sny. Of in die armer gevalle, om net nóg ’n dag by die lustelose lys van voorafgaande dae te kan voeg, is wat maatskaplike werkers elke dag sien,” sê Henda van der Merwe, direkteur van die CMR Gauteng-Oos.

“Hoe om armoede aan te pak bly, ’n multi-faktor kwessie. Dit is nie genoeg om ’n kind te vertel dat opvoeding hom teen armoede sal vrywaar nie. Die kind se materiële behoeftes, in besonder kos, klere, behuising, en gesondheidsdienste, moet alles aandag geniet, terwyl (of dalk voordat) die kind ’n skoolopvoeding kan benut.

“Ons ondersteun die werklike behoeftiges met kospakkies en klere, maar slegs vir ’n kort tydperk,” verduidelik van der Merwe.

“Ons doel is om nie mense van die hulp afhanklik te maak nie, maar om ’n brug te bou wat hulle weer op hul voete kan help. Daarom moedig ons hulle aan om betrokke te raak by gemeenskapsprojekte soos sopkombuise of klerewinkels. Dit help hulle ook om mense wat die laagste sport bereik het, se menswaardigheid te herstel.”

In Pretoria bied die CMR Gauteng-Oos dienste in ’n gebied wat strek van Cullinan en Bronkhorstspruit in die noorde tot by Lyttelton en Midrand in die suide, deur 13 satellietkantore. Meer as 26 000 mense word jaarliks gehelp, waarvan 65% armoedeverligtingshulp ontvang.

“Ekonomiese armoede lei maklik na verhoudingsprobleme… stres beteken dat ouers naderhand nie hul kinders in liefde kan begelei nie. Kinders van armer families word ook gou geïdentifiseer deur hul portuurgroep en sosiaal uitgedruk. Niemand hoef daaraan herinner te word dat ’n leë maag en ’n brein wat nie voedsel kry nie, nie tot positiewe leer bydra nie.

“Die harde werklikheid is dat honger verdeel. Dit het nog altyd, en sal ook altyd. Hoe ons armoedeverligting aanpak en gemeenskappe bemagtig, is ’n gemeenskapskwessie van kardinale belang,” sluit van der Merwe af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oom Ekonoom ·

Bemagtig arm mense ook met ‘n goeie opvoeding in tegniese en digitale velde, e-handel en entrepreneurskap, en laat ons mekaar se besighede ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.