Wat is ’n hartbeeshuis nou eintlik?

hartbeeshuisie-01

Figuur 1. Drie bootvormige hartbeeshuise by die Berlynse sendingstasie by Bethanië
in die Transorangia (detail). (James Backhouse, Bethanië, ets, 1839).
Uit: J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa
(London, 1844), teenoor p. 421.

Hierdie is die eerste artikel in ʼn reeks oor volksargitektuur. Lees weekliks nog ʼn artikel in die reeks.

Mense wat belangstel in Suid-Afrikaanse geskiedenis en hoe ons voorouers gelewe het, verskil dikwels oor wat nou eintlik as ‘n “hartbeeshuisie” beskou kan word. Hannes Raath, ‘n kundige op die gebied van volksargitektuur, verduidelik aan die hand van vroeë literatuur wat ‘n hartbeeshuisie regtig is.

Tydens navorsing oor pionierswonings in Suid-Afrika het dit duidelik geword dat groot onsekerheid oor die begrip hartbeeshuis bestaan. Leke verwys dikwels na eenvoudige plaashuise, soos die pioniershuis in Pretoria, as hartbeeshuise, terwyl sommige kultuurhistorici slegs die omgekeerde bootvormige dakhuis as ʼn hartbeeshuis beskou.

Omgekeerde bootvormige dakhuise as hartbeeshuise:

Enkele Africana-prente bestaan van omgekeerde bootvormige dakhuise, waarna as hartbeeshuise verwys word. Charles Bell het in 1836 ʼn bootvormige dakhuis met die titel Hartebeesthut geskets.[1]

Catharina C.E. Aucamp (1868-1953) het in haar herinneringe ʼn hartbeeshuis só beskryf: “Wanneer die bestemde tyd daar is, wort … [die pale] ingeplant in die voor wat gemaak is. Nou wort … [die pale] almal bo bymekaar getrek en styf  vasgemaak lit dit ʼn (omgekeerdebootvormige) vatsoen vorm….”[2] (Fig. 1).

 Wigvormige dakhuise as hartbeeshuise:

Kestell skryf:

Op Kalkfontein [in die distrik Bloemfontein] het Jacobus de Wet [in ca. 1860] ʼn hartbeeshuis gebou.  …wat uit niks anders bestaan het nie as ʼn spits dak, wat op die grond gerus het. Daar was geen mure nie. Seer tenger was die huisie saamgestel met latte en gedek met tamboekiegras.

Bogenoemde verwys na ʼn wigvormige dakhuis wat ook as ʼn kapstylhuis bekend staan (Fig. 2).

hartbeeshuisie-02

Figuur 2. Hartbeeshuis (wigvormige dakhuis) in Brits Oos-Afrika, ca. 1908. Uit: B. Maie, Voortrekkerslewe in donker Afrika. Twede druk. J.H. de Bussy, Beperk, (Kaapstad, 1928), teenoor p. 134.

Die kunstenaar en reisiger Thomas Baines skryf: “The hartebeeste hut shown in the … camp scene in Kafirland…has one straight side, and one lean-to….”[3] (Fig. 5). Baines se skets en beskrywing verwys dus na ʼn “halwe” wigvormige dakhuis (Fig. 3).

hartbeeshuisie-03

Figuur 3. ʼn “Halwe” wigvormige dakhuis. (Thomas Baines, Hartebeeste
hut, houtsnee, s.a., middel 19de eeu).
Uit: W.B. Lord & T. Baines, Shifts and expedients of camp life, travel and
exploration (Africana Reprint Library III. Reduced facsimile reproduction
of the 1876 edition) (Johannesburg, 1975), p. 222.

Ontwikkelde wigvormige dakhuise as hartbeeshuise:

Die Morawiese sendeling, eerwaarde C.I. Latrobe, skryf op 30 April 1816: “… a hartebeest-house, being a roof, put upon a wall about two feet in height.”[4] Latrobe maak ʼn definitiewe onderskeid tussen dak en muur en verwys dus na ʼn wigvormige dakhuis op lae mure. (Fig. 4).

hartbeeshuisie-04

Figuur 4. ʼn Wigvormige dakhuis op lae mure in die Swartland, in die
huidige distrik Malmesbury, Wes-Kaap. (Anoniem, Uitsig op ʼn
Kaapse koring, wyn en veeplaas (detail).
Uit: P.E. Raper& M. Boucher (Eds.), Robert Jacob Gordon: Cape
travels, 1777 to 1786 I (Houghton, © 1988), p. 38.

Tydelike muurhuise as hartbeeshuise:

Maria Minnaar, een van die vroegste intrekkers in die gebied aan die “Aaprivier” (1844),[5] tans Pretoria, het in haar herinneringe vertel:

As ons dan ʼn geskikte bouplek uitgesoek het … het die manne ʼn eerste hartbeeshuisie gebou, wat die gedaante aangeneem het van ʼn langwerpige vierkant in twee of drie vertrekke verdeel, waarvan soms al die mure ook van pale en klei, dikwels slegs van klei, onder grasdak, maar ook weleens van klip, as mens nie kans gesien het om gou genoeg ʼn goeie huis te bou nie….[6]

J.H. Stander, van Allisonia, distrik Standerton, het vertel:

Die mense het meesal hartbeeshuisies gebou, dikwels van riet en klei…. So was ook die huis wat Stander en sij gesin bewoon het in Marico [Wes-Transvaal], en self sook die deure daarvan van riet en klei gemaak.[7]

Die rietmuurhuise van Hopefield in die Wes-Kaap het in 1984 daar nog as hartbeeshuise bekend gestaan[8](Fig. 5).

hartbeeshuisie-05

Figuur 5.ʼn Rietmuurhuis (hartbeeshuis) in die munisipale gebied van Hopefield, Wes-Kaap. Uit: C. Wessels, Die kultuur-historiese belang van die “hardebieshuise” van Hopefield. Restorica no. 19 April 1986. p. 9

Besluit:

Ooreenkomstig bogenoemde tydgenootlike, asook latere mondelinge en skriftelike getuienis, word die volgende by die begrip hartbeeshuis ingesluit: omgekeerde bootvormige en wigvormige dakhuise, wigvormige dakhuise op laemure, asook muurhuise in sy eenvoudigste vorm, waarvan die mure nie hoër as ongeveer deurhoogte is nie.

Bronne:

[1]Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad: A 1415 (73), skets: Hartebeesthut, C. Bell, s.a.

[2]C.C.E. Aucamp, Vanslewe: fragmente uit die dagboek van … (1868-1953), in H. Aucamp, (red.), Op die Stormberge. ‘n  Vertolking van ‘n streek (Kaapstad & Johannesburg, 1971), p. 102.

[3]W.B. Lord & T. Baines, Shifts and expedients of camp life, travel and exploration (Africana Reprint Library III. Reduced facsimile reproduction of the 1876 edition) (Johannesburg, 1975), p. 248.

[4]C.I. Latrobe, Journal of a visit to South Africa in 1815 and 1816 with some account of the missionary setlements of the united brethren, near the Cape of Good Hope. London, 1818 (Facsimile reprint by C. Struik, Cape Town, 1969), p. 256.

[5]G.S. Preller, Ou Pretoria (Pretoria, 1938), pp. 10, 11 & 13-14.

[6]G.S. Preller, Ou Pretoria, p. 13.

[7]G.S. Preller, Voortrekkermense III (Kaapstad & Bloemfontein, 1938), p. 75.

[8]C. Wessels, Die kultuur-historiese belang van die “hardebieshuise” van Hopefield (Kronos nr. 10, 1985), p. 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ampie ·

Interessant. Wat egter ontbreek is die ontstaan van die woord. Die foto by die laaste paragraaf lyk of dit ‘n aanduiding gee, nl. “hardebieshuisie”, maar die skrywer van die berig gee nie aandag aan die konsep nie.

Peet Schabort ·

Ampie, kyk by http://www.mieliestronk.com/sahuise.html waar dit as volg verduidelik word:
Die woord het niks te doen met die hartbees as dier. Die Khoi-woord vir biesies is “harub”.
Die woord het toe ontstaan uit “harub+biesies+huis” is “hart+bees+huis”.
Weereens ‘n bewys hoe diep ons taal gewortel is in Afrika.

berta ·

Hoe verskil die hartbeeshuis van James Walton se “langhuis” of long house? Dit is dikwels gedurende die VOC-era op plase in die Wes-Kaap gebou voordat die Kaaps-Hollandse woning opgerig is. Die hartbeeshuis sou dan ook nie plek vir ‘n solder gehad het nie terwyl die langhuis wel ‘n solder kon h^e. Indien daar nie ‘n verband tussen die twee tipes benaminge is nie, wat is die korrekte Afrikaans van die ‘langhuis’ (my vertaling)? By voorbaat dankie. Baie interessant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.