Die blameer-speletjie in die huwelik

paartjie-ondersteuning-huwelik

Foto: Pexels/Pixabay.com

Deur ds. Deon van der Berg van Beginet

Dit is so maklik as iets skeef loop in die huwelik of jou huweliksmaat ongelukkig is met jou om die blameer-speletjie te speel. “Dis my man se skuld, my kind se skuld, die skool se skuld, die kerk se skuld, my verlede se skuld.” Dit laat my dink aan die kind wat sy wiskunde druip en by sy ouers kom en sê: “Ek sou goed gewees het met wiskunde as dit nie vir my onderwyser was nie.” Al ooit gehoor dat iemand sê “Ek sou ’n wonderlike huwelik gehad het as dit nie vir my man/vrou was nie.”

Dis baie maklik om altyd die vinger na iemand anders te wys en nie verantwoordelikheid te aanvaar vir jou eie woorde en optrede wat vernietigend inwerk op jou huwelik, jou huweliksmaat en uiteindelik ook op jouself nie.

In my bediening het ek seker al met 1 500+ egpare in huwelikseminare en seker met sowat 1 100 paartjies in huweliksvoorbereidingseminare gewerk, afgesien van die honderde in privaat sessies. In die loop van die jare het ek een ding agtergekom wat totaal destruktief kan wees vir enige verhouding. Mense wil nie na hul eie optrede kyk nie. Inteendeel, die meeste weier om die wysvinger weg te draai van hul maat en dit op hul eie kop te sit en te sê: “Jammer, dit is ek. Ek was verkeerd. Sal jy my asseblief vergewe.”

Die rede hiervoor is dat elkeen van ons ’n pakkie in ons verhouding indra wat totaal destruktief kan wees vir daardie verhouding. Wanneer ons begin vlerksleep en die ander een wil beïndruk, maak ons seker dat ons die inhoud van die pakkie styf toehou. Maar soos wat die verhouding aangaan, begin die pakkie stadigaan oopgemaak word. En in die huwelik word hy meestal heeltemal oopgemaak.

Die inhoud van daardie pakkie onder my arm, is sonde. My sonde! As ons deur CSI Miami die DNS van sonde sou kon bepaal, sou ons sien dat die DNS van sonde niks anders as SELFSUG is nie. My selfsug maak dat ek in die verhouding net op myself fokus om myself sogenaamd te beskerm. Dit wat ek wil, my en myne is die reëls wat meestal geld. “Me, myself and I” wil altyd die middelpunt en reg wees.

Tydens hierdie seminare is ek baie ondeund as ek wil hê dat die egpare hierdie konsep moet verstaan. Ek sal byvoorbeeld sê dat elkeen die wysvinger op sy/haar kop moet sit en sy/haar maat in die oë kyk en die volgende woord vir woord agter my aansê: “Ek … is … ons … grootste … huweliksprobleem.”

Skielik is daar aksie. Die eerste ding wat gebeur, is dat bykans almal so vinnig soos wat hulle kan, die vinger van hul kop af wegpluk. Party sal die vinger met spoed op hul maat se kop sit. Party paartjies sal net begin lag en mekaar terg en nog meer lag. Ander sal sommer met ’n stryery begin. Jy sal ook sien hoe iemand skielik ’n nekspasma ontwikkel en sy of haar mond tien bar opblaas met ’n non-return valve daarin. Die persoon sal net in absolute stilte vooruit staar en natuurlik nie ’n woord verder luister nie, want die probleem is nie “ek” nie, dis “jy!”.

En ja, dit gebeur ook in die mees toegewyde Christen se lewe en huwelik. Dit gebeur so maklik dat die onkruid van selfsug ’n Christen se hart kan toegroei en verhard, veral teenoor hul huweliksmaat. Net as ʼn mens dapper genoeg is om jou eie siel te ondersoek, kom jy agter jou gedrag is nie altyd 100% reg nie en daar is dalk selfsugtige, liefdelose aksies wat jy moet bely.

Die plek van oorwinning om by uit te kom, is om in die gewoonte te kom om sommer dadelik die vinger op die kop te sit, jou huweliksmaat in die oë te kyk en te sê: Ek is jammer. Ek was verkeerd. Sal jy my asseblief vergewe?” En dat die maat dan ook, soos God met ons doen, onmiddellike vergewe, vryspreek en seën. Met hierdie gesindheid sal jy nie aanhou vashaak in dieselfde konflikte en selfde probleme nie, maar skep jy vir jouself en jou huweliksmaat en jul huwelik geleentheid om te groei.

Ek dink dis vir elke mens moeilik om die vinger op die kop te sit en te sê dat jy jammer is. Soveel te meer vir ons as manne. Ons word amper grootgemaak deur ons ouers, die samelewing en die televisie met die idee “real men don’t apologize.” Mense dink dat as jy jammer sou sê, dit ’n teken van swakheid is. Nee, in enige verhouding – en veral in die huwelik – is dit juis ’n teken van sterkte.

Ek kan hieroor praat, want ek het ook onbewustelik met die idee geleef van “real men don’t apologize”. Ek het verseker nie ’n bewustelike besluit geneem om nie om verskoning te vra nie. Maar die feit is dat ek nooit daaraan gedink het om om verskoning te vra nie. Voor die troue het ek nie eens daaraan gedink dat so iets nodig sou wees nie. Ek het Corlie baie lief gehad. Ek wou haar net gelukkig maak. Tog, nadat ons getroud is, het ek ’n deel van my ontdek wat ek nie geweet het bestaan nie. Ek het gevind dat die vrou waarmee ek getroud is, idees het wat ek soms gedink het, onnosel is. Tot my skaamte moet ek erken dat ek dit baie vir haar gesê het. En natuurlik het dit haar seergemaak en was daar afsydigheid en konflik.

Dit was nie regtig onnosel idees nie, want my vrou slaap elke aand in die messelaai. Sy is baie skerp en intelligent en ek het vandag baie respek vir haar idees en opinies. Ek het dit net as onnosel afgemaak omdat haar idees van myne verskil het. Ek het nooit om verskoning gevra nie. In my gedagtes het ek net selfregverdiging gesoek en haar sommer blameer vir my uitbarstings.

Die verandering moes by my plaasvind. Ek moes die vinger op my kop sit en erken dat ek nie altyd reg kan wees en my idees en opinies nie altyd die beste is nie. Die woorde van Johannes in 1 Johannes 1:8-9 het my nogal getref en hoop gegee: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie (ook verkeerd kan wees), mislei ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. As ons ons sondes bely, God is getrou en regverdig, Hy vergeef ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

Jesus is die Waarheid. As ek dus beweer dat ek nooit verkeerd is wanneer daar konflik tussen ons is nie, mislei ek eintlik myself en is die Waarheid, Jesus Christus, nie in my nie. Ek het besef dat ek toegelaat het om mislei te word deur te dink en te glo dat om om verskoning te vra, ’n teken van swakheid is. Die ironie is dat ek elke keer my sonde voor God bely het, maar ek kon nie vir Corlie gaan sê dat ek jammer is en vir haar vra om my te vergewe nie.

Gelukkig het dit in my lewe begin verander. Ek het geleer om om verskoning te vra en het ook uitgevind dat Corlie altyd bereid is om my te vergewe. Vandag is dit hoe ons teenoor mekaar leef in die huwelik. En juis dit het ons huwelik op ’n nuwe vlak van liefde, eenheid, begrip en geluk gesit.

Hier is wat ek as Christen geleer het en graag met jou wil deel. Omdat ek ’n kind van God is en my lewe volgens sy Woord wil inrig, bid ek sommer ’n paar keer per dag die volgende gebed: “Here Jesus, wees die Here van my lewe en vat die volle beheer van my lewe oor. O God, deur U goedheid en genade, bevry my asseblief van myself, van ‘ek wil, my en myne’. Amen.”

  • Hierdie artikel is geskryf ds. Deon van der Berg, die stigter van Beginet. Beginet se visie is om gesinstabiliteit te bevorder deur die massas verniet te bedien. Jy kan weekliks gratis insette kry oor sake soos die huwelik, ouerskap, gesinsfinansies, die hantering van verslaafdes in die gesin, iets spesiaal vir tieners en nog baie meer. Gaan volg Beginet op Facebook, op YouTube en op www.beginet.org.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

ANON ·

Wonderlike stuk om te lees – dit het my laat dink en my oe ietwat oop gemaak! DANKIE!!

nuwe hoop ·

Hierdie Artikel is die Egte Waarheid van niks minder as net die Waarheid, Net soos wat Ons Aksies teenoor die Here moet wees so moet Ons aksies teenoor mekaar in die Huwelik ook wees.

Dit is regtig die Waarheid, die me,i and myself kan en moet nooit in Ons Pad van Verhoudings staan nie, dit is n Daaglikse “DIE TO SELF” Net soos wat Ons Teenoor die Here moet wees.
en dit is Jammer, Dat Huwelike in die afgrond gaan Juis omdat Ons nie Kan se, EK IS JAMMER VERGEWE MY, So Is dan ook Met my Verhouding met God, as ek nie Vergifnis kan vra of my Foute kan erken kan my Hart maklik hard word, my Eerste Liefde Koud word teenoor die Here en Voor ek sien is ek van die Pad af, die Wiele kom af en ek val vir die Wereld se Temptasies…..
Huwelike, daar is Hoop, Dit moet Wonderlik wees om met Jou Beste Vriend naas die Here in n Verhouding te kan staan en dit Elke dag geniet,…

lolla ·

ek het al AL die blames ervaar en al die guild trips saam met dit…. nee wat ek voel nie skuldig dat ek nie meer mother wil wees nie…. my kinders is groot…. nou is ek afwesig en gaan maar net aan…

Gogga ·

Deesdae is dit die vroue wat onder God se beskerming uitbeweeg, haar huweliksmaat vir alles en nog wat blameer en groener weivelde gaan soek. As sy maar net weet wat wag eendag op haar selfsugtige dade…Egskeiding is ‘n gruwel in God se oe – volgens die Ou en Nuwe Testament.

Gert ·

Amen, so find my ex vrou ook nou uit nadat sy my so sleg gesê het die see kon my nie skoon was nie. Ek was altyd die een wat jammer sê, nou is die tyd van jammer verby.

Pieter ·

Ek stem tot ‘n groot mate saam met die gewone tussen persoonlike probleme en hoe om dit op te los. Wat gemaak as madam rondloop en telkens vereis dat jy haar moet vergewe maar sy doen dit weer en weer. Op die oueinde is daar net nie meer salf te smeer aan die gapende wond aan jou hart nie en moet jy vlug vir oorleweing.

Blommie ·

Pieter, ek lees nou jou kommentaar, hoekom soek mense groener wyveld? Dit geld vir adam en eva geslag, daar moet n rede wees, ek se altyd, lees die spyskaart bokkie, maar jy eet by de huis.

Frans C ·

Die blameerspel is so oud soos die mensdom.In Genesis 3 sê die mens (Adam).’Dit is alles die vrou se skuld.’Dan as ‘n nagedagte dit is eintlik U skuld,dit sou nie gebeur het as U haar nie vir my gegee het nie.Dus Here as U my ‘n beter vrou gegee het,sou die my nie oorgehaal het om van die vrugte wat sy gepluk het te eet nie.

Skuldverskuiwing is so oud soos die berge.Maar die vrou weier om die vark in die verhaal te wees en sê sy het dit gedoen want:’Dit is die slang se skuld.Hy het my om die bos gelei,toe het ek van die vrugte geëet’.

Ons verskuif dus skuld omdat skuld voortspruit uit verkeerde optrede,uit oortredings en oortredings is strafbaar,met ‘n straf wat pas by die oortreding.Omdat ons nie bereid is om die straf te dra deur as die skuldige uitgewys te word, verskuif ons skuld weg van onsself na ander.

Skuldiges word dikwels verstotelinge in die samelewing ,is dikwels nie meer welkom in vriendekringe nie en geskeide mans en vrouens word in baie gevalle as ‘n gevaar beskou vir ander huwelike.

Skulderkenning moet dus met skuldvergifnis aan beide kante gepaard gaan en dit kan slegs gebeur as beide Jesus Christus as hul enigste Verlosser en Saligmaker aangeneem het.

John ·

Ons dominee het ongelukkig nie baie ondervinding wat huweliksprobleme betref nie. Wreedheid, sadisme en dominansie is moeilik op te los met ‘n vinger teen die eie kop en die lydende party gebruik dalk na sulke maklike raat iets anders as ‘n vinger teen die eie kop. Self wanneer twee kinders baklei help dit nie om daar vauit die kombuis te skree, julle twee moet nou ophou nie! Al gehoor van boelies, dominee?

Louwrens Coetzee ·

Die dag wanneer my vrou die woord “jammer” gebruik, gaan seker die dag van die wederkoms wees. Ek het een van daai “perfekte” huweliks maats.

Bossie ·

My man glo weer hy hoef nie jammer te sê vir wat hy ook al doen nie, want dis hoe hy is. Ek moet dit so aanvaar of loop. Wat ek graag wil doen, maar finansieël nie kan doen nie.
Ek sien gladnie hoe die Here só n siek huwelik goedkeur nie. My man het n ateïs geword sedert n klompie jare gelede. Ek probeer om die kinders n Christelike opvoeding te gee. Wanneer ek en hul oor godsdiens gesels of iets wat gebeur het vanuit n Christelike hoek bekyk en bespreek, maak hy dit baie vinnig af as n klomp snert. Natuurlik het ek baie skuld, ek is bitter en maak snedige opmerkings. Wat hom seermaak en net verder wegdryf. Maar hoe bly jy n lieflike, geurige lelie as jy heeltyd op die verdediging moet wees? Jy kan nie. Jy word n kaktus met elle lange dorings, glo my.

humor ·

Kom ek gee julle die onfeilbare sleutel tot huweliksgeluk. Die oomblik as jull die trouring aan mekaar se vingers sit, verstaan dan wat beteken die begrip verantwoordelikheid en besef onmiddelik jy stel jou nie afhanklik van jou lewensmaat om n gelukkige huwelik te beleef nie. Jy neem n vaste besluit om jou lewensmaat selfs in die kleinste dingetjies gelukkig te maak en jy hou daarby. Dit is onfeilbaar.!!!!!!!!!!!!!

Nie-sonder-foute-nie ·

Ongelukkig het ek uit my huwelik gestap WANT ek het alles op my huweliksmaat blameer. Deur gebed en ‘n pad met God het God aan my openbaar dat ek net soveel skuld gehad het en my ook gewys wat my foute was. Nou ja…………ek het nognie ‘n skeibrief nie, dus glo ek dis nie te laat nie, maar dis in God se hande gesit. Ek kan nie my huweliksmaat terugvra nie en ook nie laat sien dat ek besef wat my aandeel was nie. Mense, hierdie artiekel is so so so waar! Ek leef elke dag met die skuldgevoel dat ek teveel my, ek, my, ek in die huwelik gehad het. Daarby gesê die ander party kon ook nooit tydens stuweling in die huwelik jammer sê nie. En dit het was vir my baie moeilik om te aanvaar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.