Die dag toe die dokter die pasiënt geword het

Dr. Trusia Burgers. (Foto: Facebook)

Dr. Trusia Burgers. (Foto: Facebook)

“Wat my bybly, is hoe my pa reageer het. Hy het die nuus verskriklik sleg opgeneem.”

Só vertel dr. Trusia Burgers (44), ʼn algemene praktisyn van Somerset-Wes, in ʼn openhartige onderhoud met Maroela Media oor haar borskankerdiagnose in September verlede jaar.

“My ma is oorlede aan borskanker in 1992. Sy was 47 en toe reeds drie jaar lank siek. Dit is hoekom my pa die nuus so moeilik verwerk het. Hy het sy vrou aan borskanker afgestaan en kon hom dit nie indink dat hy dalk sy dogter ook só kon verloor nie.”

Burgers vertel sy het vir ʼn roetine-mammogram gegaan, soos sy jaarliks gemaak het sedert sy 25 geword het. “Nóg ek nóg my ginekoloog, wat ek net ʼn maand tevore besoek het, het die knop in my bors gevoel. Die mammogram het die knop ontdek.”

ʼn Lokale chirurg het daarna ʼn biopsie van die knop gedoen en later daardie aand het die verdoemende oproep deurgekom – dit is kanker.

Haar man, Bharn, was ook baie geskok toe sy die nuus aan hom meedeel. Skielik was hulle en hul twee klein kinders, Mieke (5) en Herman (3), se wêreld op sy kop gekeer.

Die dokter het skielik die pasiënt geword.

Die Burgers-gesin. V.l.n.r.: Bharn, Mieke, Trusia en Herman. (Foto: Facebook)

Die Burgers-gesin. V.l.n.r.: Bharn, Mieke, Trusia en Herman. (Foto: Facebook)

“Ek het reeds die volgende dag vir prof. Apffelstaedt by die Panorama-hospitaal gaan spreek, want ek wou nie tussen my pasiënte by die Vergelegen-hospitaal wees nie. Die knop moes verwyder word. Ek het toe die groen lig gegee dat albei borste verwyder moet word deur ʼn mastektomie – weens my ma se geskiedenis met borskanker, is ek ʼn hoërisiko-pasiënt en wou nie die kans waag om later wéér hierdeur te gaan nie,” vertel Burgers.

Drie weke ná haar diagnose is ʼn kliertjie aan elke kant van haar bors verwyder tydens die bilaterale mastektomie en herkonstruksie van haar borste. “Die kliere is verwyder sodat dit getoets kon word om te kyk of die kanker versprei het.”

Sowat ʼn week ná die operasie het sy saam met prof. Apffelstaedt en ʼn onkoloog in sy spreekkamer gesit. “Die borsweefsel is deur middel van ʼn Mammaprint in Amsterdam getoets en omdat dit positief getoets het vir ʼn aggressiewe soort kanker, het die dokters voorgestel dat ek chemoterapie moet ondergaan.”

Sy het sewe maande lank chemo ontvang. “Dit is baie erg. Jou hare begin omtrent al uitval ná die eerste chemo-sessie en dis dan wanneer die werklikheid jou tussen die oë tref. Ek was bitterlik moeg, so erg dat ek dae aaneen kon slaap en dan net opstaan tussendeur om badkamer toe te gaan. Ek was ook baie naar. Ek het medikasie gebruik daarvoor sodat ek ten minste nie opgooi nie, maar ek kon niks doen nie. Ek kon nie na my kinders omsien nie,” onthou sy.

Gelukkig was daar stringe mense wat hulp aangebied het. “Baie van die familie het kom help, veral ons ouers. Van my vriende het kom help en ek het ʼn klomp susters wat roteer het.”

'n Meer onlangse foto van Burgers en haar kinders. (Foto: Facebook)

‘n Meer onlangse foto van Burgers en haar kinders. (Foto: Facebook)

Sy het haar bes gedoen om haar kinders voor te berei op wat kom. “My kinders was te klein om te verstaan hoe ernstig die situasie is, maar ons het aan hulle verduidelik dat daar ʼn kiem in my bors is wat uitgesny moes word en dat ek medikasie moes kry wat die kiem gaan doodmaak. Ek het vir hulle gesê hoe beter die medisyne werk, hoe meer gaan my hare val.”

Haar man het haar siekte ook goed hanteer. “Hy het my baie ondersteun, asook baie mense gehad wat hom weer ondersteun het. Hy het vriende gehad met wie hy gereeld gepraat het oor sy emosies,” sê Burgers.

Ná afloop van haar chemoterapie het sy drie weke lank bestraling ontvang. “Bestraling word slegs op die gebied waar die kanker is met ʼn groot masjien gedoen. ʼn Mens se vel raak al hoe rooier, amper soos met erge sonbrand. My bestraling was kort in vergelyking met ander mense sʼn – gewoonlik moet jy ses weke behandeling ontvang.”

Burgers is tans in remissie en is besig met hormoonterapie. “Ek ontvang hormoonterapie om al die vroulike hormone in my liggaam te blokkeer, omdat my kanker positief getoets het vir hormoonreseptore.”

Sy is ook weer op haar pos as algemene praktisyn in Somerset-Wes, maar erken dat die transformasie van dokter na pasiënt nie aldag maklik was nie.

“Jy is nie meer in beheer nie en jy moet iemand anders vertrou. Dit maak ʼn mens verskriklik angstig en jy dink aan al die ergste goed wat met jou kan gebeur, want jy het al hierdie mediese kennis. Ek moes ʼn pasiënt word in vriende se hande en my oorgee aan spesialiste. Ek het doelbewus nie baie nagelees en myself probeer help nie. Ek het die pasiëntrol aangeneem en vertrou dat hulle die beste vir my sal doen wat hulle kan.”

Haar Christenskap het haar deur die beproewing gedra. “Ek het aan die Here vasgehou. Ek het van die dag dat ek die oproep met die diagnose gekry het, kalm en rustig gebly. Ek het nie in huil- en woedebuie verval nie, want die Here het my gedra en mense gestuur om my te ondersteun. So iets laat ʼn mens twee keer dink oor die lewe en dit is miskien die Here se manier om, deur jou, ander mense aan te raak. Dít het ek intens beleef.”

'n Pragtige gesinsfoto van die Burgers-gesin. (Foto: Facebook)

‘n Pragtige gesinsfoto van die Burgers-gesin. (Foto: Facebook)

Burgers se raad oor borskankervoorkoming is om uiters bewus van jou borste te wees. “Jy moet weet hoe hulle moet voel en daarom moet jy hulle gereeld self ondersoek. Gaan gereeld vir ʼn mammogram, veral ná 40. Hoe vinniger die kanker ontdek word, hoe minder terapie en behandeling het jy nodig.”

Volgens haar is daar baie te sê oor wat jy moet doen wanneer jy met kanker gediagnoseer word. “Skep asem. Jy hoef nie so vinnig in alles in te spring nie. Win goeie raad in by ʼn spesialiseenheid waar mense net met borskanker werk, ter wille van die nuutste behandeling. Kyk mooi na jouself, omring jou met mooi goed, stap in die berge of langs die see en benut die tyd om jouself te ontdek.”

Sy voeg by dat sy voor haar diagnose baie besig en aan die gang was en nie soveel aandag aan haarself geskenk het nie. Sedert die diagnose het sy baie tyd vir selfondersoek gehad.

“Terwyl ek in die hospitaalbed gelê het, het ek vrede gemaak met baie goed wat ek in my binneste rondgedra het. Mense wat vergewe moes word en ander skuldgevoelens wat ek laat gaan het, het vir my vrede gebring. Kanker verander jou lewensuitkyk, maar ek wil vir mense sê hulle moet eintlik vóór hulle ʼn slegte diagnose kry, meer bewus wees van hul eie lewe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

IK ·

Ek stem volkome saam met wat u sê dr. Trusia. ook my vrou het uiteindelik gedwonge gegaan vir kolonkanker maar helaas té laat. ‘n Vrou het aan my vertel hoe sy met die afdroog met ‘n handdoek skielik die geweldige brandpyn gevoel het in haar bors. Nodeloos om te sê dit was kanker. Dit is so dat daar ‘n oorerwing is van kankers en mense moet dit nie uit die oog verloor. Gaan gereeld jaarliks vir ‘n ondersoek en bloedtoets. By mans word die prostaat ook fisies ondersoek en moenie wegdeins van die ondersoek. Sterkte aan u en u gade. Dis gewoonlik die eggenoot/eggenote wat nét so swaar dra, vra my, ek is daar deur. Die nadraai duur egter voort.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.