Die deure van die Voortrekkers se bootvormige hartbeeshuisies

hartbeeshuis-deure-02

Figuur 2. Die konstruksie van ʼn deur van ʼn hartbeeshuisie in Brits Oos-Afrika.
Uit: B. Maie, Voortrekkerslewe in donker Afrika (Kaapstad, 1928),
teenoor p. 134.

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, bekyk in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers ’n bootvormige hartbeeshuis gebou het en fokus in hierdie artikel van die reeks op die deure van die soort huise.

Deel IV: Deure

Twee soorte buitedeure is vir ʼn hartbeeshuis gebruik, naamlik die raamtipe wat met riete, gras of ʼn vel bedek is of geklampte plankdeure. Albei soorte kon uit ʼn vollengte of ʼn bo-en-onderdeur bestaan het. Volgens Spoelstra het dit in Transvaal altyd uit ʼn bo-en-onderdeur bestaan.[1] Uit Africana-prente is dit duidelik dat vollengte buitedeure ook algemeen in Suid-Afrika voorgekom het.[2]

Die raamtipe deur of “hek” soos deur Tregardt genoem, het uit ʼn bedekte paalraamwerk bestaan.[3] Die amateurkunstenaar Robert H. Dingley het van 1813 tot 1817 aan die Kaapse oosgrens in die Cape Regiment diens gedoen waar hy ook die lewenswyse van die koloniste uitgebeeld het. Só ʼn raamwerk is in Dingley se skets getiteld ʼn Boer se huis in die binneland van Suid-Afrika met ʼn looikuip en seepmakery, afgebeeld.[4] Dit is ʼn volle deur wat uit twee vertikale en vyf horisontale pale bestaan het (Fig 1).

Die raamwerk van die deur was dikwels met riete bedek.[5] Carl Behrens, ʼn Duitser wat ʼn dagboek aangehou het oor sy wedervaringe in Natal, het op 26 Junie 1840 onder meer die volgende inligting in verband met die deur van die hut waarin hy en twee van sy maats gewoon het, verstrek: “Die deure self was verder niks as houtrame nie, waaraan dik riete vasgebind was…. Dit laat genoeg daglig deur om te kan lees en skryf en om te kan waarneem wat daar buite omgaan.”[6] ʼn Soortgelyke deur is by ʼn hartbeeshuisie in Brits Oos-Afrika gebruik. Die gebruiklike riete is deur smal plankies of moontlik bamboes vervang; maar is so gespasieër dat lug en lig deurgelaat word. In hierdie geval word die struktuur deur middel van ʼn diagonale verspanning verstewig (Fig. 2).[7]

Volgens J.H. Stander van Allisonia, distrik Standerton, het die deure van die hartbeeshuis wat Stander en sy gesin in die distrik Marico in die Wes-Transvaal bewoon het, uit riet en klei bestaan.[8] Die rietdeur was dus gepleister om wind en koue uit te hou. Volgens Spoelstra is deure wat soos die res van die huis met gras gedek was, ook in Transvaal gebruik.

…want planke was skaars. Die eerste planke wat ʼn mens kon kry, was van geelhout gesaag; en hiervoor was alleen ʼn houtsaery in die ‘Mongoolse Bos,’ aan die kant van Natal. Mense wat ver na die weste van Transvaal gewoon het, het nie kon dink aan die haal van planke nie en moes maar ʼn grasdakdeur maak.[9]

F.T. Schonken het opgemerk dat die raamwerk van die deure van die hartbeeshuise van die Trekboere met osvelle oorgetrek was,[10] terwyl Backhouse in die omgewing van die Sneeuberge, wat noord, oos en wes van Graaff-Reinet geleë is, ʼn hut waarvan die deurraam met die vel van ʼn kwagga bedek was, gesien het.[11]

Vollengte plankdeure het uit drie of meer vertikale planke bestaan, wat aan die agterkant deur twee of drie horisontale planke of klampe vasgehou is, naamlik ʼn bo-, slot- en onderreling (Fig. 3). Die slotreling het by die enkeldeur met twee relings ontbreek, terwyl ʼn bo-en-onderdeur elk twee relings gehad het.

Volgens die beskikbare bronne het die vollengte “hek”-tipe deur na buite oopgemaak (Figg. 1-2), terwyl die geklampte bo-en-onderdeur na binne oopgemaak het (Fig. 4).[12] Deure was gewoonlik laag, sodat ʼn persoon moes buk om by die deur in te gaan.[13] Die deur is nie met ysterhingsels of skarniere nie, maar met rieme gehang,[14] terwyl ʼn riem met ʼn gaatjie aan die binnekant oor ʼn spyker getrek is om die deur toe te hou.[15]

Bronne: 

[1] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe. Kultuur-historiese leesboek (Pretoria, 1924), p. 71.

[2] W.J. Burchell, Travels in the interior of Southern Africa I (London, 1953), p. 84; Museum Africa: 75/1126, skets: ʼn Boer se huis in die binneland van Suid-Afrika met ʼn looikuip en seepmakery, R.H. Dingley, Januarie 1819; J.J. Oberholster, Die historiese monumente van Suid-Afrika (Kaapstad, 1972), teenoor p. 106.

[3] MA: 75/1126, skets: ʼn Boer se huis in die binneland van Suid-Afrika met ʼn looikuip en seepmakery, R.H. Dingley, Januarie 1819; G.S. Preller, Voortrekkermense V (Kaapstad, 1938), pp. 8 & 58; L. Trigardt, Die dagboek van … (red. T.H. le Roux) (Pretoria, 1982), p. 59.

[4] MA: 75/1126, skets: ʼn Boer se huis in die binneland van Suid-Afrika met ʼn looikuip en seepmakery, R.H. Dingley, Januarie 1819; J.C. Pretorius, Robert H. Dingley: amateurkunstenaar van die Oosgrens (1813-1818), Historia 37(2), November 1992, p. 26.

[5] W.J. Burchell, Travels in the interior of Southern Africa I, p. 237; F.L. Cachet, De worstelstrijd der Transvalers aan het volk van Nederland verhaald (Amsterdam, 1883), p. 422; J.D. Kestell, Christiaan de Wet ʼn lewensbeskrywing (Kaapstad, 1920), p. 4; H. Lichtenstein, Travels in Southern Africa in the years 1803, 1804, 1805, and 1806 I (Cape Town, 1928), p. 136; G.S. Preller, Voortrekkermense III (Kaapstad, 1922), p. 75; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa (Cape Town, 1966),  p. 54; G.J. Schutte (red.), Briefwisseling van Hendrik Swellengrebel jr. oor Kaapse sake, 1778-1792 (Kaapstad, 1982), p. 169; Mondelinge mededeling: M.C. Smit, Bosmanhuis 216, Jasmynlaan, Silverton, Pretoria, 1867-11-23.

[6] G.S. Preller, Voortrekkermense V, pp. 8-9 & 58-59.

[7] B. Maie, Voortrekkerslewe in donker Afrika (Kaapstad, 1928), teenoor p. 134.

[8] G.S. Preller, Voortrekkermense III, p. 75.

[9] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe…, p. 69.

[10] F.T. Schonken, De oorsprong der Kaapsch-Hollandsche volksoverlevering (Amsterdam, 1914), p. 84.

[11] J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa (London, 1844), p. 481.

[12] W.J. Burchell, Travels in the interior of Southern Africa I, p. 84; MA: 75/1126, skets: ʼn Boer se huis in die binneland van Suid-Afrika met ʼn looikuip en seepmakery, R.H. Dingley, Januarie 1819; Nasionale Kultuurhistoriese Museum: HG 7014 397, tekening: Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noord van Brits Transvaal, E. Mayer, 1927; J.J. Oberholster, Die historiese monumente van Suid-Afrika, teenoor p. 106.

[13] H. Lichtenstein, Travels in Southern Africa in the years 1803, 1804, 1805, and 1806 I, p. 130; Mondelinge mededeling: J.J. Viljoen, Diepkloof Plaasmuseum, Heidelberg, Transvaal, 1990-08-16.

[14] G.S. Preller, Voortrekkermense V, pp. 8 & 59; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa,  p. 54; D.J. Rossouw, Oorlogsfontein, hoewe 45, Potgietersrus, 1991-09-17; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe…, pp. 70-71; Mondelinge mededeling: J.J. Viljoen, Diepkloof Plaasmuseum, Heidelberg, Transvaal, 1990-08-16.

[15] F.L. Cachet, De worstelstrijd der Transvalers…, p. 422; Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; G.S. Preller, Voortrekkermense V, pp. 8 & 59; D.J. Rossouw, Oorlogsfontein, hoewe 45, Potgietersrus, 1991-09-17.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae