Die DNS van saameet: ’n spesiale tradisie

Foto: Verskaf.

Deur David Muller

Ek het grootgeword in ’n relatiewe klein plattelandse dorp in die Oos-Kaap, Cradock. Ek sou reken dat my grootwordjare redelik normaal was – wat mens deesdae ook al as “normaal” beskou. My grootwordhuis was ’n Afrikaanse Christelike huis en ons was, sover my verstaan oor daardie tyd strek, ’n huisgesin van die gemiddelde inkomsteklas.

Soms het dit makliker gegaan, maar ek onthou ook tye toe dit effens moeiliker gegaan het. Pa het, vandat ek kan onthou, voldag gewerk en ma het met tye halfdag gewerk. Ek en my suster het beslis grootgeword in ’n stabiele en liefdevolle huis. Natuurlik was daar soms irritasies en struwelinge, maar dit het alles binne ’n liefdesverhouding plaasgevind.

Ons het, soos baie ander gesinne, ’n paar spesiale tradisies gehad. Één hiervan het ’n kosbare herinnering geraak waaraan ek sedertdien styf vasklou. Ek verlang tot vandag toe gereeld na die manier hoe hierdie spesifieke tradisie my laat voel het. Saterdae het ek en pa gewoonlik ’n spanpoging aangewend om die gras te sny en die tuin netjies te maak. Wanneer ek en hy vroegoggend met die gras besig was, het ma in die kombuis vir ons ’n pot krummelpap gemaak. Ek en pa het dan, met ons groen kaal voete en nat moue waarmee ons die sweet van ons gesigte afgevee het, saam met ma en sus by die kombuistafel kom aansit. En dan, wanneer ma vir elkeen ’n glas yskoue lemoensap geskink het, het ons mekaar se hande gevat.

“Dankie Here vir die kos wat ons het om te eet. Seën ons asseblief met die gebruik daarvan. Amen.”

Ek onthou die gevoel van pa se groot hande. Hierdie is die gebed wat my pa tot vandag toe bid. Soms sou hy iets byvoeg oor die reën of oor die pad wat ons moes ry wanneer ons met vakansie gaan.

Hierdie gebruik was natuurlik nie iets uniek in vergelyking met ander gesinne nie. Die meeste huisgesinne het ’n gevestigde tradisie as dit kom by tafelgebede. Sommige sou wel byvoorbeeld voor én na ’n maaltyd bid. Ander weer slegs voor die eerste maaltyd vir die dag of ná afloop van die laaste. Die inhoud van hierdie gebede hou tog sterk verband met mekaar.

In baie huise hoor mens ook dié gebede: “Seën Vader wat ons eet, laat ons U Naam nooit vergeet. Amen.” Of: “Dankie vir wat ons het om te eet. Maak ons harte opreg dankbaar daarvoor. Amen.”

Op die oor af klink dit ongelukkig die meeste van die tyd afgerammel en geresiteer. Die realiteit is dat miljoene mense wêreldwyd op een of ander wyse danksegging en lof aan ’n grotere toesê saam met die nuttiging van ’n maaltyd. Dit is nie net Christene wat hierdie gebruik beoefen nie. In die meeste godsdienste word daar op welke wyse ook al eer gegee aan iemand groter as bedanking en erkenning van dit wat op die tafel is.

In die Christelike geloof bedank ons die Brood van die lewe vir die brood om te lewe. Ons prys ons drie-enige God vir die antwoord op ons gebed wanneer ons vra, “Gee ons vandag ons daaglikse brood”.

Ek wonder soms wat die hartseerste is: geïsoleerde groepe in die oerwoud wat om ’n vuur dans en een of ander magiese vors prys vir hul kos, of Christene wat maaltyd ná maaltyd mooi woorde prewel bloot omdat dit tradisie is. Om saam te eet is immers baie meer as net ’n punt op ’n daaglikse agenda. In deel twee van hierdie rubriek, skryf ek oor presies wát op ’n baie diep dimensie gebeur wanneer mense saameet. My vraag nóú is eers: Speel die kos op ons tafels die grootste rol in ons saameet-oomblikke?

Ek onthou die dag toe ek vir die eerste keer ’n maaltyd vir my skoonouers, toe nog toekomstig, voorberei het. Daardie tyd was ek en Nadia nog nie eens verloof nie, maar ons het saam by haar ouers gaan kuier tydens die Desembervakansie. Ek is baie lief daarvoor om kos te maak, en het my hulp in die kombuis aangebied met die voorbereiding van die kos vir dié Kersete. Ek het ’n kerriehoendergereg gemaak, maar het op een of ander manier – seker senuwees – die speserye heel deurmekaar gehad. Die gereg was aaklig, om die minste daarvan te sê. Daardie aand aan tafel het ek verontwaardig verskoning gevra vir dié kerriefiasko en onderneem om my voortaan uit die kombuis te hou – ten minste tot ek en Nadia amptelik die knoop deurgehak het. Nadia se ma troos my toe met hierdie woorde: “My kind, dit gaan oor wat op die stoele is, nie op die tafel nie”.

Hierdie les het my denkwyse oor kos, saameet en tafelgemeenskap drasties beïnvloed. Ek het al aangesit by tafels wat kreun onder die kos, en wonderlike samesyn ervaar met dié op die stoele. Aan die ander kant het ek ook al ’n goddelike nabyheid met ’n Mosambiekse vrou in Luis ervaar terwyl ons op die warm grond gesit en weggelê het aan gekookte boontjies en sardyne.

Nadia se ma was heeltemal reg. In beide gevalle het ek ’n besondere gemeenskap gehad met dié op die stoele en dié op die grond, ongeag dit wat op die tafel of grond was. As dit nie die kos, opskeplepels, eetgerei of agtergrondmusiek is wat gemeenskap tussen mense om ’n tafel bewerkstellig nie, wat is dit dan?

Om hierdie vraag te beantwoord, gee ons in deel twee van hierdie rubriek ’n paar treë terug en kyk na die handeling van saameet as sodanig – behalwe dat ons saam ons honger stil. Dié wat my ken, sal weet dat ek net soms eet omdat ek werklik honger is. Meeste van die tyd eet ek omdat ek lus is vir lekker kos. Eet is lekker. Punt.

Wees op die uitkyk vir deel twee wat Donderdag 5 September verskyn!

  • David Muller is ’n teoloog, sanger, skrywer en fotograaf. Baie het hom leer ken as die “singende dominee”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

humor ·

Nadia was dan gewis die spesiale een op die stoel wat die ” eetfiasko” spesiaal gemaak het.

David Muller ·

Verseker! Moet sê: sy het al talle fiasko’s ontlont met haar besondere menswees. ????

David Muller ·

O yes! Ek bid dit deesdae baie – veral wanneer ek aansit by ‘n skaapribbetjie!

Maria ·

Sjoe my trane loop en sak van skaamte. As my kinderjare altyd op tafel gesit as gesin besef nou wat dit betekend as die tyd van nou is almal voor TV party in kamer met fone ens. Dankie vir jou storie dit waar….Here help my asb eetkamer tafel is daar wat nie meer gebruik word nie, weer kan gebruik maak om familie weer kan te geniet,dankbaar wees en met U teenwoordigheid amen

David Muller ·

Sjoe Maria, dankie vir hierdie. Kyk uit vir volgende week se opvolg rubriek. Dink dit sal vir jou nog meer beteken!

Linda Theunissen ·

Ons sit vandag nog aan tafel. Die tye saam is wonderlik. Nie altyd plesierig nie, maar nou ja. Maar ek stem saam. Om as familie of vriende saam om die tafel te sit en te luister na gestalletjie of net jou dag met die mense te deel. Dit is beslis die moeite werd. Die lewe gaan so vinnig verby, en al is dit net 10 minute. Dit is kosbaar

Dorothy ·

David, dit is ‘n pragtige artikel en sien uit na volgende week.Ek is grootgemaak om aan tafel te eet en so het ek my kinders geleer, met gebed. Later toe my dogters getroud is was dit so ‘n voorreg om vir almal te dek, maak nie saak wat voorberei was nie, maar wie om die tafel gesit en gesels het, almal ontspanne en vol grappe. Een Sondag was dit weer so en almal het lekker gesels. Die Vrydag na die maal het my een skoonseun selfmoord gepleeg, nie een van ons om die tafel het daardie dag geweet dat ons nooit weer almal saam om daardie tafel saam sal geniet nie. Maak nie saak of ek een of 10 manse om my tafel het nie, ek dank die Hemelse Vader vir die voorreg ,want more is ‘n stoel dalk vir altyd leeg, daar sit weer iemand wat net so kosbaar is maar die ander stoel bly leeg. Maak nie saak wat die geleentheid is nie, koester dit en gee net jou beste, more is alles dalk anders.

De Villiers Hauptfleisch ·

“Heer vir spys en drank sê ons hartlik dank, amen.” Van drank gepraat. ek sien daar in een van die uitsonderlike kroeë in die land waarvan julle skryf, dat daar nog `n ou landsvlag hang. Sal graag die kroeg daar in Calvinia wil besoek voordat hulle gedwing word om die vlag te vewyder. Van die kroeë het ek nog net die Pantiebar en Ronnies se Sex Shop besoek. So daar lê nog `n heerlike reis vir my en wag. In daardie landstreke kan `n mens juis uitsonderlik dors raak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.