Die droogte is gebreek

Foto: Skymetweather.com

Foto: Skymetweather.com

As jy vroeg in Januarie deur Sentraal-Suid-Afrika reis, word jy gewoonlik pronkend deur skouerhoogte mielielande begroet.  Donkergroen lande staan as ‘n reël skouer-aan-skouer tot op die horison uitgestrek.

Hierdie seisoen het dinge egter anders daaruitgesien.

Droë modderskubbe het jou groot-oog aangestaar waar panne water gewoonlik vergader.  Diere het stowwerig oor kaalgevrete bossies gestrompel – op soek na ‘n happie weiding.  Sommige diere het hortend by die grensdraad langs die pad ineengestort – sodat jy getwyfel het of hulle ooit weer sal opstaan waar hulle neergesak het. Die opsigtelike ribbetjies op bees en wild kon getel word.

Mielielande met belowende oeste vertel ‘n skokverhaal.  Duimhoogte mielieplantjies het ooglopend gestoei om aan die lewe te bly.  Windpompe se lemme het knersend gedraai om ‘n paar druppels water uit die droë pype te dwing.  Sprinkelbesproeiing het geduldig op die kant van die lande gewag vir die dag wanneer hulle weer aan die werk kon spring.  Die hoop waarmee die boer geplant het, het by die dag begin vervaag.

In ander dele van ons land lê oop lande lank na planttyd steeds in afwagting om beplant te word.  As ‘n oes misluk, dra dit een sort boodskap oor.  Daar was ‘n kans, maar dit is nou verby.  As ‘n boer gladnie geplant het nie, dra dit ‘n ander boodskap oor.  Daar is geen kans op mielies nie.  Wanhoop het van jou hart tot by jou vingerpunte gekruip, terwyl jy verwilderd na die onverwerkte lande gestaar en aan die toekoms gedink het.

Dwarrelwinde het spottend die droë aarde tot hoog in die lug gedraai – net om dit ‘n ent verder oor die vlaktes te laat los.  Mense het desperaat probeer uitpluis of die dwarrelwinde vas- of losdraai om te sien of dit dalk komende reën aandui.

Onlangs het milde reën oor groot dele van ons land uitgesak.  Dankbare boodskappe met nuus van reën het ingestroom.  Droë rivierbeddings het begin vloei.  Klein stroompies water is stadig, maar seker, op pad na opgaardamme toe.

Sommiges verdring mekaar by poeletjies water.  Nuwe spruitsels veldgras kry skaars die geleentheid om uit te loop voordat dit verorber word.

Dat die droogte orals eensklaps gebreek is, is onwaarskynklik.  Die dorre aarde het dit wat wel geval het, met een sluk opgedrink.

Ek was op laerskool toe my pa in die 80’s luidkeels aangekondig het die droogte is gebreek. Hoewel ek in sy entoesiasme gedeel het, moet ek erken dat ek nie die volle omvang van sy woorde verstaan het nie.

Vandag besef ek dit gaan oor baie meer as die ekonomie, kos op die winkelrakke of stygende vleispryse.  Die droogte dring boere se menswees binne en vreet ‘n selfbeeld van binne af op. Dit saai paniek.  Dit saai wanhoop.

Vandag besef ek eers die werklike dankbaarheid agter hierdie skamele vier woorde:  “Die droogte is gebreek!”

Meer oor die skrywer: Karin Muller

Karin Muller is getroud en het twee tieners. Sy skryf ʼn weeklikse rubriek en artikels vir die Noordkaap, en nou en dan rubrieke vir Volksblad en Bloemnuus. Die hoogtepunt van haar skryfloopbaan was toe haar pad in 2012 met dié van Koos Kombuis in ʼn gedigtekompetisie gekruis het.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Mr P ·

Baie mooi storie. In ons pragtige land word mense ook van binne afgebreek. Agv werkloosheid. Ons blankes se kanse om werk te kry is maar skraal. So moet ons maar ons goedtjies verkoop en vasklou tot jy sien daar gaan jou huis. ALLES verloor. Jou menswees is van binne verpletter en selfbeeld bestaan nie meer nie. Jy kan nie slaap nie en voorrade is baie min. Gaan maar weer op jou knie en bid vir uitkoms en wag geduldig op reen.

John ·

Sjoe mense net een kommentaar na die goeie reen op baie plekke, Is ons so ondanbaar? Een het darem omgedraai om dankie te gaan se. By ons in die stad is baie bome en plante dood. Grasperke het verander in rooistof. Maar na die heerlike reen groei alles asof sakke kunsmis gegooi is. Baie danie vir U genade!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.