Die geheimsinnige klip op Afrika se historiese suidpunt

geheime-klip-02

Jan se klip op die historiese suidpunt wat net suidoos van Afrika se suidelikste vuurtoring is. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Ek en Tisha het vir sowat 10 jaar – van 1998 tot 2008 – die Sea House-gastehuis direk voor die groot getypoel in L’Agulhas besit en bedryf. Die huis was (en is) die tweede oudste huis op die Suidpunt en het die suidelikste privaat kroeg in Afrika gehad – die Uhuru Pub, vernoem na die hoogste bergspits in Afrika, bo-op Kilimandjaro. (Meg Cowper-Lewis se Southermost is amptelik die suidelikste privaat woonhuis in Afrika, asook die oudste huis op die Suidpunt.)

In hierdie tyd raak ek bevriend met Joneby Fletcher, ’n gesiene inwoner wat op daardie stadium reeds dekades op L’Agulhas gewoon het. Ek het feitlik daagliks gaan swem – soms in die getypoel, soms in wat vandag nog die “Vrouepoel” genoem word (een keer saam met see-otters) en soms in die rotspoele by die landpunt wat vandag nog die “historiese” Suidpunt genoem word. As jy uiters versigtig – en gelukkig – is, kan jy die malende waters aandurf in die kolkende kuil net regs (suidoos) van hierdie uiterste naaldrots en met ’n vrag sinkers beloon word. Ek het, om dit onomwonde te stel, op ’n nippertjie na daar ’n watergraf gevind, maar ná wat soos ure gevoel het, het die see my halfverdrink op die rotse uitgespoeg – nadat ek my sinkers moes prysgee. Ek het eers ná sowat ’n kwartier (bebloed, bibberend en hygend) weer tot verhaal gekom. Gewoonlik was ek die enigste siel wat dit gewaag het om my in daardie kookpot te begewe – nie dat ek juis baie dapper is nie. Op ’n kol duik ek selfs lewendige ammunisie ook daar uit.

Eendag, sowat 15 jaar gelede, loop ek vir Joneby daar raak. “Pierre, kom ek wys jou Jan se klip,” beduie hierdie deurwinterde en innemende Suidpunter.

Ons beweeg gly-gly stadig oor die klippe tot by ’n sloep nader aan die vuurtoring. Aan die ander kant van die sloep is ’n rotsbank waarheen jy kan swem, maar jy moet mooi vasklou of die branders slaan jou flenters. En toe wys Joneby my die klip.

“Jan moes in die oorlogtyd hier verdrink het,” waag ek, en beduie na die datum, 1940. En net daar verklap Joneby sy geheim.

“Pierre, hierdie was al die jare my privaat swemplek. Ek staan nou oukant toe. Nou is hy joune om op te pas.”

Ek was natuurlik uit die veld geslaan dat Joneby my hierdie onverwagte eer aandoen. “Maar wie was Jan dan, Joneby?”

geheime-klip-01

‘n Naby skoot van die geheimsinnige Jan se klip. Foto: Verskaf.

“Pierre, ek wou mense waarsku dat hierdie ’n gevaarlike swemplek is. Maar ek wou ook mense hier weghou wat nie die plek respekteer nie.” Joneby gaan voort: “Jan is ’n fiktiewe karakter wat ek geskep het. Ek het sy naam en die datum 1940 daar uitgekerf, deels om rou te betoon oor wat ons aan heilige plekke soos hierdie doen, maar ook om mense te laat besef jy kan nie met die see speel nie.”

Joneby en sy vrou Louie woon vandag op ’n plaas buite Bredasdorp. As ons mekaar êrens raakloop, gesels ons altyd oor die ou dae.

Ek en Meg het inderdaad Die Punt oor ’n tydperk van jare nog voor Sanparke-hulle hier gevestig het, stelselmatig skoongemaak en sakke vol plastiek, blikke en derduisende glasskerwe van bottels wat kampeerders, en helaas sommige vissermanne ook, teen die rotse stukkend gegooi het, verwyder.

As ons die natuur respekteer en probeer om in harmonie met die natuur te lewe, sal ons beter in staat wees om ’n natuurerfenis vir die nageslag te bewaar.

  • Pierre Massyn is ’n onafhanklike skrywer, natuurbewaarder en navorser wat al 20 jaar gelede op die Suidpunt van Afrika wortelgeskiet het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.