Die genade van drome wat nie waar word nie

seun-wat-droom

Foto: Nogreaterjoy.org

Op laerskool het ek gereeld gedagdroom.

Aanvanklik was dit heel onskuldige drome. Ek onthou hoe ek heel aan die begin van my laerskoolloopbaan gedroom het dat ek eendag as ek groot is, ’n honderd lucky packets gaan koop en dit alleen in my huis gaan sit en oopmaak, of ʼn emmer KFC iewers in die geheim alleen sal opeet.

Ek het ook besluit dat ek eendag baie ryk gaan wees en ʼn hele lot van daai “game-masjiene” wat destyds in die kafees gestaan het en met muntstukke werk in my sitkamer gaan hê – en dan, elke aand ná werk, speel ek en my vrou tot in die vroeë oggendure Pac-Man, Space Invaders en Street Fighter!

Later het my drome minder onskuldig begin raak.

Ons asbes-laerskooltjie se atletiekheld was heelwat ouer as ek. Hy het om die een of ander rede niks van my gehou nie en my gedurig voor die ander kinders geboelie en verkleineer. Hy was dan ook die hoofkarakter in baie van my minder onskuldige drome.

Ek het byvoorbeeld in my geestesoog gesien hoe ek eendag-as-ek-groot-is ʼn baie fris WWE-stoeier word, met ʼn koeng foe-agtergrond. En dan, een aand, loop ek hom raak in ʼn donker stegie. Hy herken my nie. Vir ʼn paar oomblikke kyk ek hom vreesloos stip in die oë. Hy word bang en soek verskrik rond. Daar is niemand om hom te help nie. Dis net ek en hy.

In my droom gryp ek hom om sy nek en gooi hom op die grond en terwyl ek sy neus in sy kop inslaan, sê ek met elke hou: “Onthou – jy – wat – jy – gedoen – het – toe – ek – in – standerd – twee – was?!!” en dan huil en soebat hy dat ek hom asseblief nie verder moet seermaak nie.

Ek het ook later begin droom dat ek eendag vyf keer ʼn dag, op sewe verskillende maniere onnoembare dinge saam met my vrou sal doen.

Sou my droom egter waar word, sou ek natuurlik op daardie oomblik geword het wie hy destyds was. Ek sou dan die boelie wees. ’n Mens word maklik wat jy haat.

En die drome hierbo is van die rustiger drome wat ek as laerskoolseun gedroom het, van die ander is so rof dat hulle vir ewig geheim sal moet bly – al het ek destyds met my hele wese gewens hulle word eendag waar.

Kan jy dink hoe die wêreld sou lyk as ons almal se drome altyd sou waar word?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Goeie skrywe Jaco. Dis definetief beter dat sommige drome maar drome bly.

Anie ·

Nee wat, drome wat nagmerries of vrees bevat moenie waar word nie – ek dagdroom eerder…

jody ·

Hoe explain n mense christelike drome / spiritual drome en drome wa jy de Onse Vader hard en duidelik bid in jou drome ek verstaan nie. Dit laat my baie dink

E ·

Ek weet hierdie artikel gaan oor toekomsdrome, maar is daar van julle wat al gedroom het en dit het waar geword?

Ek was in die laerskool. Die aand droom ek my arme kokketiel val van sy stokkie af en kry n hartaanval.Wraggies die volgende oggend tref ek hom dood aan in sy hok!

Wens so paar van my toekomsdrome wil waar word.

Sonet ·

Ek het gedroom my oorlede ma versmoor my met ‘n kussing, en het vreesbevange na my sussie geroep, en weke daarna is sy oorlede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.