Die geskenk van ʼn ‘Plek’

ons-plek-derdepoort-pretoria

Herman Kloppers en twee van die kinders van die Ons Plek-sentrum. Foto: Verskaf.

Soos elke middag kom spring die klein blondekoppie op Herman Kloppers se skoot in sy kantoor. Daar is ʼn paar windverwaaide kuifhaartjies wat lankal uit die twee poniesterte bo haar ore ontsnap het, en nou aan die stofgesiggie vasklou. Sy vee dit eers met die agterkant van haar hand weg en nadat sy hom ʼn stywe drukkie gegee het, fluister sy met haar kop in sy nek gedruk, saggies in sy oor: “Tatta, Pappa.” Sy oë versag en hy antwoord eenvoudig: “Soet wees, Bella*, ek sien jou weer môre.”

Hierdie aangrypende toneeltjie speel elke dag af in die kerksaal van die Gereformeerde Kerk in Derdepoort, Pretoria. Die oorgrote meerderheid van die kindertjies wat daagliks by die kerksaal in Derdepoort aankom, het geen pappa-figuur in hulle lewe nie. Daarom is Herman Kloppers, bestuurder van Helpende Hand se gemeenskapsentrum in Derdepoort, nie meer verbaas as die kleiner kindertjies hom só kom groet nie. Dit is ook hierdie diepe vertroue van klein hartjies wat die verantwoordelikheid van Ons Plek Derdepoort swaar op sy hart laat lê.

Ons Plek Derdepoort is Solidariteit Helpende Hand se gemeenskapsentrum in Pretoria wat net meer as ʼn jaar gelede begin is. Die sentrum se hooffokus is om ʼn gratis Afrikaanse naskoolfasiliteit te bied aan behoeftige kinders. Meer as 30 laerskoolkindertjies noem nou hierdie sentrum “ons plek”. Teen 11:00 se koers begin die potte in die kombuis lawaai en prut sodat die honger klomp net ná skool kan eet. Daarna begin die huiswerkstryd. “Dit is niemand se gunstelingtyd van die dag nie,” verduidelik Kloppers. “Daar is meer as 30 kinders uit sewe grade van ses verskillende skole. Wat die gekerm en gekla egter die moeite werd maak, is wanneer die outjie wat die meeste klippe gekou het, met blink oë kom spog met punte wat hy in sy lewe nog nooit voorheen kon behaal nie.”

“Dit gaan vir ons oor meer as die huiswerk, die dissipline, die veilige omgewing en die vol magies. Dit gaan oor hoop. Hoe vroeër ʼn mens in ʼn kind se lewe kan ingryp en vir hulle ʼn alternatiewe wêreld wys, hoe groter is die kans dat jy hulle die selfvertroue kan gee om die geleenthede wat oor hulle pad kom, raak te sien en aan te gryp. Wanneer kindertjies hier instap, leef hulle met ʼn aangeleerde kan nie-ingesteldheid: Kan nie soet wees nie, kan nie wiskunde doen nie, kan nie spel nie, kan nie mooi skryf nie. Hoop ontwaak wanneer hulle ontdek hulle kán! Ek wil hulle hier uitstuur met ʼn ek kán-ingesteldheid. Uiteindelik is dít die grootste geskenk wat jy ʼn kind kan gee: hoop.”

Goeie idee vir Kersfees

Vra jou familie en vriende om pleks van ʼn Kersgeskenk wat dalk later stof vergader, namens jou ʼn donasie aan ʼn gemeenskapsondersteuningsprogram soos Ons Plek Derdepoort te gee.

Help só by Ons Plek Derdepoort

Ongelukkig het enige sentrum, ook Ons Plek Derdepoort, basiese finansiële uitgawes wat elke maand gedek moet word. In 2018 gaan die sentrum R30 000 per maand benodig om voorsiening te maak vir die invloei van nuwe kindertjies wat reeds op ʼn waglys is.

“Die Afrika-spreekwoord lui: Dit verg ʼn gemeenskap om ʼn kind groot te maak. By Ons Plek Derdepoort is dit beslis die geval. Ons het nie noodwendig groot donateurs nodig nie. ʼn Gemeenskap van individue en klein sakeondernemings wat almal maandeliks klein bietjies bydra, kan binne ʼn kort tydsbestek genoeg fondse genereer om ons finansiële behoeftes te dek,” sê Kloppers. Indien jy meer inligting benodig, graag die sentrum wil besoek of as vrywilliger betrokke wil raak, stuur ʼn e-pos na Kloppers by [email protected].

Bankbesonderhede

Bank:                                    FNB

Rekeninghouer:              Solidariteit Helpende Hand

Rekeningnr.:                     62331445503

Tak:                                       Centurion

Taknr.:                                 261-550

Verwysing:                        derd01

Donateurs se geld met hierdie verwysing sal eksklusief vir Ons Plek Derdepoort aangewend word. Maak asseblief seker dat jy die regte verwysing (derd01) gebruik om seker te maak die geld word reg geallokeer.

* Skuilnaam

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pop ·

Toe kom nou almal wat so deur die jaar vir almal preek olr jou naaste. Hiers julle kans. Gee mildelik. Ek gee al vir jare nie geskenke oor kerstyd nie. Ek kry een of twee instansies en gee my geld vir hulle. Soms is dit persone wat ek raakgekyk het deur die jaar. Het al n keer by die dr se spreekkamer geld in n koevert gelos vir n persoon. Hulle hoef nie te weet wie gee geld nie. Maar hierdie jaar is dit hierdie kindertjies se beurt.

Kannaland ·

Gee eerder direk aan organisasies soos hierdie in plaas van vir bedelaars wat gom met jou geld koop.

Frikkie ·

Stem..solank dit verantwoordelik gebruik wordven nie in ander sakke beland.

Yolanda ·

Thanks for sharing, ek stem saam ,hoe vroer jy iemand die hoop kan gee hoe beter. Ek sit aan die ander kant van die wereld maar ek sal ook my deel doen, Kinders is on toekoms.

Yolanda ·

Thanks for sharing, ek stem saam ,hoe vroer jy iemand die hoop kan gee hoe beter. Ek sit aan die ander kant van die wereld maar ek sal ook my deel doen, Kinders is on toekoms.

Yolanda ·

Thanks for sharing, ek stem saam ,hoe vroer jy iemand die hoop kan gee hoe beter. Ek sit aan die ander kant van die wereld maar ek sal ook my deel doen, Kinders is on toekoms.

Gideon du Plessis ·

Wat my die hardste getref het toe ek oor die sentrum se werksaamhede ingelig was, was toe ek vertel is dat die kindertjies Vrydae en Maandae die meeste eet soos hulle of voorberei vir die naweek van “min” wat voorlê, en op Maandae uitgehonger daar aankom. Dan doen Herman ook baie moeite om die kinders geestelik te voed. Werklik Koningkrykswerk wat daar gedoen word om die kinders geestelik op die regte pad te plaas, en aards in die hoofstroom te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.