Die huwelik verg dapperheid

Foto: Bekir Dönmez/Unsplash

Deur Annelize Steyn

Staan jy binnekort op trou? Weet jy werklik hóé groot is die besluit wat jy gaan neem? As jy die bewerasies het, goed so. Want trou verg dapperheid. En om getroud te bly, selfs méér dapperheid…

Dekades gelede het ʼn besluit om te trou, anders gewerk. Dit was ʼn gegewe. Skei was glad nie ’n opsie nie. Dink jy mooi daaroor, moes dit ʼn moeilike besluit gewees het om te maak – baie mense het op 16 (nog jonk en dom) getrou en moes by hierdie besluit staan tot die dag van hul dood. Deur die Groot Trek, deur die Anglo-Boereoorlog … en dink jy aan die spanning en eise wat paartjies destyds moes konfronteer, kon die getroude lewe nie maklik wees nie.

Dit moes baie moeilik wees. Maar ʼn mens kan nie help om te wonder of trou vandag selfs méér dapperheid verg nie. ʼn Eeu gelede was daar nie veel om oor te redekawel nie. Dit is wat daar van jou verwag is om te doen en jy het dit gedoen, sonder om deur vrae daaroor te worstel.

Vandag het jy ʼn keuse. Jy kan kies óf jy wil trou. Jy kan kies met wié jy wil trou en jy kan kies wanneer jy wil trou. Jy kan ook skei as jy wil – dis ʼn alternatief vir wanneer dinge nie uitwerk nie.

Maak ʼn oop agterdeur dit makliker om dié besluit te neem?

Allermins! Die gedagte aan die moontlikheid van egskeiding (en die gevolge wat dit kan inhou), maak trou vir baie jong mens só ʼn vreesaanjaende gedagte dat hulle nie kans sien vir hierdie stap nie!

Hoewel mense dekades gelede met hul eie uitdagings geworstel het, het ons vandag ons eie hedendaagse eise. Misdaad, werksdruk, skoonouers, kinders met spesiale behoeftes, onvrugbaarheid, afdanking, affairs en verslawing, is maar net ʼn paar van die eise wat na vore kan tree in ʼn huwelik en eindelik is dit die onsekerheid wat baie paartjies laat sidder van vrees.

Want wanneer jy en jou maat voor die kansel staan, is jy salig onbewus van die kankerstryd wat voor julle lê. Jy weet nie dat jou man se sussie ʼn verstandelik gestremde kind sal hê nie en dit sy besluit rakende kinders radikaal sal verander nie. Hy weet nie dat jou depressie só ʼn wending gaan neem, dat hy sal voel asof dit hom versmoor nie. Hy weet ook nie dat jy na die koms van jou kinders jou gesonde seksdrang sal verloor en dit nooit weer sal terugkry nie. Julle weet nie dat julle in ʼn kwessie van drie maande jul huis, jul motor en elk ʼn ouer sal verloor nie. Jy is onvoorbereid op die effek wat ʼn ou skoolliefde in ʼn oomblik van swakheid op hom sal hê. En hy weet nie dat jy so onverantwoordelik met geld werk dat dit julle oor twee jaar in bankrotskap sal dompel nie.

Nie een van julle is in besit van ʼn kristalbal wat die toekoms kan voorspel nie. En daarom verg trou ʼn stap van geloof.

Jy spring in, sonder klousules wat sê: “Mits jy belowe om elke aand jou sokkies op te tel” of “Mits jy belowe dat ons drie keer per week seks sal hê” of “Mits jy belowe dat jou ma nooit by ons metodes van dissiplinering sal inmeng nie…”

Jy aanvaar jou maat, en kleef aan jou maat – boots and all! Jy spring in die diep kant in troebel water in – sonder ʼn snorkel, ʼn duikbril of paddavoete. Jy word getol en geskommel en so nou en dan tref jy ʼn rots. Wanneer jou voete ʼn sandbank raak, skep jy asem, maar meesal is dit water trap.

Dit bring ons by die punt wat ons eintlik wil maak. Die huwelik is ʼn avontuur en as jy besluit om deel van so ʼn vennootskap te word, verg dit dapperheid en die wete dat jy nooit jou huwelik sal kan beheer nie, maar jou bes kan doen om dit in die regte rigting te stuur.

Op foryourmarriage.com skryf Tom McGrath dat dit nie soseer dapperheid verg om te trou nie, maar dat dit beslis dapperheid verg om getroud te bly. Hoekom?

Dit verg waagmoed om te sê wat gesê moet word

Ons ken almal die ou met die swak karakter wat sy meisie van ses jaar via ʼn WhatsApp-boodskap los. In ʼn huwelik kan jy nie die swakkeling wees nie. Jy moet sê wat gesê moet word – met oortuiging van gees.

Volgens Tom word die meeste huwelike nie beskadig deur wat gesê word nie, maar eerder deur wat nié gesê word nie.

Maats wat nie hul liefde verwoord nie, maats wat nie vir hulself opstaan nie, maats wat weier om te práát wanneer dinge in die huwelik verkeerd loop. Dit verg waagmoed om in ʼn huwelik jou mond oop te maak vir wat reg is, en dinge wat pla nie onder die mat te vee nie, maar eerder na die oppervlak te bring. En ja, dit gaan konflik bring en jou maat gaan ongelukkig wees, maar soms moet ʼn mens ongewild wees ter wille van die oorlewing van jou huwelik. Volgens een van Tom se vriende moet ʼn mens ag slaan op dít waarteen jy weerstand bied. Hy sê as dit kom by binnewerk, moet jou weerstand altyd na die ware noord wys.

Dit verg dapperheid om binnewerk te doen

Dit is makliker om buitentoe te kyk, saam met die stroom te hardloop en te ignoreer wat jou van binne af opvreet en uitsypel na jou huwelik. Dinge soos alkohol, woede, kompulsiewe besteding en besig-wees. Mettertyd kan al hierdie dinge jou huwelik doodmaak. Dit verg waagmoed om probleme te herken, te erken en iets daaraan te doen.

Dit geld ook vir huweliksprobleme. Miskien is daar iets waarmee jy individueel sukkel en dalk is daar ʼn huweliksprobleem wat julle eers aan die lig moet bring voordat julle dit kan oplos – dis soms net makliker om die probleem te ontken as om dit te konfronteer en dít is waar dapperheid intree.

Dit verg dapperheid om te verwelkom en te laat gaan

Volgens Tom verg dit waagmoed om mooi en aanvaarbare maniere te vind om ander mense in jou lewe te laat welkom voel – om hul behoeftes en wense gelyk te stel aan jou eie wense en behoeftes. Die huwelik gaan oor hoe jy jou maat en sy/haar familie gaan verwelkom en hul irritasies sal verdra.

Soms moet jy méér as verdra. Dit verg waagmoed om jou eie gewoontes of selfsug te oorkom.

Dit verg ook dapperheid om nie in die verlede vasgevang te word nie. Jou huwelik gaan nie môre lyk soos dit gister gelyk het nie. Jy gaan verander, jou maat gaan verander. En elke dag moet jy kies en sê: “Ek kies jou.”

Tom skryf: “Vroeër het ek geskryf dat geen menslike wese kan waarborg wat die toekoms inhou nie en dit is waar. Maar op jou troudag het God ʼn belofte gemaak. Hy het belowe om met jou te wees – elke tree van die pad – in goeie en slegte tye, in siekte en gesondheid, in rykdom en armoede en nie tot en met die dood nie, maar self verder as dit.”

Afgesien van hierdie drie standpunte deur Tom, is daar ook ander dade van dapperheid wat jy gereeld in jou huwelik moet openbaar:

Wees dapper oor die pad wat julle sal stap

Dit gaan nie altyd ʼn gelyke pad wees nie en soms sal die berge wat julle moet oor, baie steil wees. Daar sal ook diep valleie wees, maar as julle vasstaan deur dit alles (hand-aan-hand), sal julle iets van julself, van mekaar en van jul huwelik leer.

Wees dapper genoeg om hulp te vra

Elke huwelik het hulp nodig! Of jy raad kry by ʼn goeie vriendin wat al tien jaar getroud is, of jou ouers se leiding volg, of seminare bywoon of ʼn huweliksberader sien… dit is belangrik om nooit te dink jy is verhewe bo ander se insette nie.

Natuurlik is dit noodsaaklik om te weet wáár om jou hulp te kry. Die verkeerde invloed kan julle van die wal af in die sloot help. Dus, kies jul invloede en raadgewers versigtig, maar wees ook bereid om te leer by dié met ervaring.

Wees dapper genoeg om ’n individu te bly

Wanneer jy ʼn maat kry by wie jy sekuriteit vind, is die versoeking groot om in daardie sekuriteit te gedy – om jouself te verloor in die veiligheid van die vrede, rustigheid en bekendheid wat jou maat bied. Maar jy moet dapper genoeg wees om jouself te bly en jouself uit te daag buite die vennootskap ook.

Groei as ʼn individu en maak seker jy behou jou eie drome, ideale en waardes. Wees gesond – fisiek, spiritueel en intellektueel.

Wees dapper genoeg om na die verlede en die toekoms te kyk, maar leef in die hede

Dis soms moeilik om terug te kyk na die moeilike tye wat julle moes deurmaak. Dis soms vreesaanjaend om te probeer vasstel wat die toekoms inhou. Maar soms is die ook hede nét so moeilik, dat ʼn mens geneig is om te ontsnap na die verlede en die toekoms.

Maak seker in jul huwelik dat julle die verlede erken en omhels vir dít wat dit julle geleer het, dat julle blinkoog na die toekoms kyk vir die wonderlike moontlikhede en Goddelike voorsiening wat dit inhou en elke oomblik in die hede waardeer vir wat dit is.

Die huwelik verg waagmoed en dapperheid. Dis ʼn risiko ja, maar dis ʼn wonderlike avontuur wat jy nie dúrf misloop nie…

Addisionele bronne: www.foryourmarriage.org/ www.homefrontmag.com

  • Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie klik hier en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!
  • Hierdie artikel is met die vergunning van INTIEM op Maroela Media geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Patch ·

Baie goeie artikel, dankie. Gelukkig is ek al vir 25 jaar dapper genoeg om alles hierbo en meer te kon verwerk. Hoop vir nog 25…

Hanno ·

Ek dink mense trou hoofsaaklik omdat hulle kinders wil hê. Daar kleef nog steeds n stigma aan buite egtelike kinders, ten spyte daarvan dat ons al diep in die 21ste eeu is. Ek en my vriendin het geen begeerte om kinders te hê nie, so hoekom derduisende rande op een dag mors?

Nico ·

Trou is nie perde koop nie!! Dus, moet nie ‘n perd koop nie en die kans is dat as jy koop, kan dit ‘n steeks perd wees. Hou liefs links en ry regs verby.

Anoniem ·

Ek het gepraat, baklei, stilstuipe gekry, gesmeek, gehuil, vrae gevra en na 32 jaar kyk hy steeds baie gereeld te diep in die bottel. Na aftrede het hy ‘n mean-drunk geword. Intussen het ek genoeg daarvan gehad, maar het nie die geldelike onafhanklikheid om hieruit weg te kom nie. Nou bid ek dat die dood ons skei – sommer vinnig ook – maak nie saak watter een eerste gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.