Die Inka-kelners van Paititi

cuzco-peru-suid-amerika-strate

Die strate van Cuzco in Peru, Suid-Amerika. Foto: Rod Waddington/Flickr.com

Deur Pierre Massyn

As jy jouself prakties bankrot en met niks op jou naam, behalwe die klere aan jou lyf in ’n vreemde land bevind, dan maak jy ’n plan.

’n Minder bekende greep uit my duistere verlede is dat ek in Suid-Amerika Engels gegee het om liggaam en siel bymekaar te hou. Ek het in 1986 my aardse goedjies, insluitende my Land Rover, in kontant gekonsolideer, my lonende beroep by die grootste uraanmyn ter wêreld vaarwel toegeroep en gaan swerf. Sommige individue van wie die sielsgesteldheid dan bevraagteken word, breek weg uit die établissement – ja, ek weet dis Frans – om perspektief op die lewe te kry en om hulself te ontdek.

En so beland ek in Cuzco, die vervloë hoofstad van die Inkas in hul eertydse ryk genaamd Tahuantinsuyu in Quechua. As die Antieke Volke en argitektuur jou prikkel, probeer gerus by dié plek uitkom voor jy lepel in die dak steek.

Die Inkas was meesterbouers en hul argitektuur spreek vanself. In Cuzco staan jy verwonderd oor hoe hulle reusagtige klipblokke, sommige so groot soos ’n middelslaghuis, op mekaar gestapel het. Net buite die dorp is die historiese vesting Sacsayhuamán[1], toneel van bloedige gevegte tussen die Spaanse woestaard Juan Pizarro en sy invalsmag en die plaaslike Indiane in 1536.

Terrasagtige borswerings van reuseklipwerk en die imposante plaza slaan jou asem weg. Digby Sacsayhuamán is Qurikancha, Tempel van die Son. In ’n nou straat op pad na die Plaza de Armas keer die Peruviaan – ek skat hom so minstens 40% Inka – my voor. Hy kon stellig sien ek staar met meer as gewone toeristebelangstelling na die bouwerk.

Señor, observe la arquitectura Inca”. Hy was reg, die lasse en voeë van die Inka-vakmanne was onverbeterlik. Gegewe my verflenterde voorkoms en ongeskeerde aangesig, het ek nie verdien dat die Mestizo (gemengde ras) my met die hoflike “Señor” aanspreek nie. (Oor ’n belofte wat ek aan myself gemaak het voor ek van Afrika na Suid-Amerika geseil het, het ek maande vantevore opgehou skeer en vir die barbier geskrik. My voorkoms sou in Parys, New York of Londen as “skrikwekkend” bestempel word. Dit was nie ongewoon vir ’n Cuzco-inwoner nie om my vol vosbaard te streel en te vra: “Natural?”.)

As jy begin straatslim raak, leer jy gou waar kry jy die beste waarde vir geld. Namate jou Spaans verbeter, kom jy agter daar was altyd een prys vir gringos en ’n ander (goedkoper) prys vir plaaslikes! Jy leer om so van 11 uur se kant af onopsigtelik agter die naaste polisieman aan te drentel, want hy lei jou sonder uitsondering na die cantina met die beste – en grootste – middagete in Cuzco, wat jou ook die minste uit die sak sal jaag. ’n Standaard menu familiar teen 10 inti’s (sowat R1 in 1986) het gewoonlik bestaan uit ’n mandjie brood, meel-sopa waarin ’n hoenderpoot gedryf het, ’n fresca of vrugtedrankie, ’n ensalada en dan die hoofdis, guatitas – skaapmaag op rys.

Die beste restaurant in die dorp is Paititi. Paititi was op sy dag deel van die paleiskompleks van Tupac Yupanqui, die tiende Inka-heerser. Gedurende die vyftiende en sestiende eeu was Paititi ’n belangrike deel van die Inka-hoofstad se godsdienstige en kulturele lewe.

Die patrón kyk my agterdogtig met sy donker oë aan toe ek my dié dag in Paititi se deftige voorportaal aanmeld. Hy het ’n wind of drie gesluk toe ek hom met die flair van ’n gesoute mynwoordvoerder binne sekondes in my beste Spaans ontwapen: “Ek val nou in vir diens!”

“Maar hoe dan so, hombre?” wil hy weet.

“Jy sien, dit werk so, Señor, hier in Cuzco is daar baie toeriste-gringos met sakke wat bult van dollars. Hulle is ryk Americanos en Engelse. Hulle soek altyd die beste eetplekke. Ellos no hablan español. En Paititi is nie die enigste restaurant in die dorp nie. Ek praat Engels en sal sorg dat hulle jou kies bo die ander.”

Ten spyte van my wildewragtigvoorkoms, kon ek onmiddellik sien ek het sy aandag.

“Wat het jy in gedagte?” vra die Peruviaan ná seker ’n minuut se stilte. “Ek gaan jou kelners leer Engels praat, chef. (Ek noem hom doelbewus so om hom te laat goed voel.) Die gringos sal daarvan hou. Hulle gaan al hulle amigos vertel en dan sal jy nie kan voorbly om maaltye te bedien nie, so sal die extranjera met hulle dólares hierheen stroom. Mucho plata, Señor!”

“Maar ek kan jou nie betaal, nie”, keer die restaurantbaas, “ek het reeds te veel kelners op my betaalstaat!”

“Toemaar, Señor,” my dienste sal jou niks geld kos nie. Ek hoef net ná elke les hier by jou te eet!”

Dit was ’n aanbod wat my nuwe baas nie kon weier nie. Ek moet darem sê dit het my “werksaansoek” gehelp dat ek reeds profesor de ingles was by Excel College in dieselfde Cuzco[2] (2). Ek het vir die geleentheid my Engelse handboeke saamgebring om te wys ek is nie sommer ’n hierjy van ’n skoolmeester nie. Ek kry daar en dan my aanstelling en begin my “klasse”. Net so vinnig as ek wat die Inka-kelners in Engels touwys maak, so vinnig verbeter my Spaans.

In my nuwe beroep kon ek met lieflike panfluitmusiek as agtergrond “werk” tussen binnemure van glad afgewerkte rotsblokke wat so presies op mekaar pas dat jy nie een van Paititi se gepoleerde silwermesse daar kon indruk nie. Ek ontdek spoedig Paititi was eintlik ’n soort harem vir die Inka-heersers – die Paleis van die Maagde van die Son! En die uitgerafelde swerwer van die verre Suidwes leer die kelners van Paititi met hul raafswart hare en hoë wangbene Engels en eet elke dag in die beste restaurant in Cuzco.

In die daaropvolgende drie maande in die Inka-hoofstad, het ek nooit honger gaan slaap nie.

  • Pierre Massyn is ’n avonturier en skrywer.

Voetnotas:

[1] Beide die vesting en Cuzco is in 1983 tot Wêrelderfenis-terreine verklaar.

[2] Sien “Op die spoor van die legendariese Don Robin”, Maroela Media, 3 Mei 2019.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Ai lekker, wonderlike avonture, só goed beskryf. Dankie!
Sommiges, soos ek, het net gedroom van dinge doen en die wêreld sien, en ander het die bul by die horings gepak.

marco polo ·

Paititi. Dit klink sommer na avontuur, om nie eens te praat van kelners met raafswart hare nie. Dankie vir ‘n lekker storie, Pierre.

Stephan de S ·

Vir n oud-Suidwester om Engels te gee in Spaans vra baie baie moed en selfvertroue òf dit getuig v desperaatheid ..????????

Stephan de S ·

Vir n oud-Suidwester om Engels te gee in Spaans vra baie baie moed en selfvertroue òf dit getuig v desperaatheid ..????????

Marlene ·

‘n Wonderlike lees ervaring! Saam gereis in geestesoog. Ek het altyd gedroom om deur die wêreld te reis, maar helaas was en is dit nie vir my moontlik nie. Die ervarings van reisigers wat dit met ander deel is vir my ‘n wonderlike geleentheid om dit te kan geniet. Baie dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.